ToekomsVenster: Wat is jou nalatenskap?

(Foto: Stephan Hauman)

“Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see.” – Genesis 22:17

Prins Mangosuthu Buthelezi is onlangs oorlede. Hy is ʼn man wat diep spore in die Suid-Afrikaanse konteks getrap het.

Hy het ʼn geseënde lewe gehad en is op ʼn rype ouderdom oorlede, voorwaar ʼn voorreg wat nie alle mense gegun word nie.

Interessant dat in radioprogramme, waar oor sy lewe gepraat word, die woord nalatenskap dikwels gebruik word.

Wanneer ʼn mens die “tydelike met die ewige verwissel” is dit die vraag wat onwillekeurig op die tafel kom.

Watter verskil het hierdie man of vrou se lewe gemaak?

Wat los hy agter?

Waarop kan verder gebou word?

Wat kan ons leer en hoe kan ons dit in die toekoms integreer?

Dit is nie net die sogenaamde vername mense wat geroep word om ʼn nalatenskap daar te stel nie.

Dit is inderdaad deel van elkeen van ons se roeping.

Een persoon se nalatenskap word in die geskiedenisboeke, wetenskap en mediese joernale en ander platforms aangeteken en gevier.

Ander, die meeste van ons, is gewoon, maar dit beteken nie dat ons lewens nie eweneens ʼn verskil moet en kan maak nie.

Somtyds is dit daardie seun of dogter wat jy grootgemaak het wat die verskil maak.

Somtyds word jou nalatenskap baie jare later eers besef en gevier.

Nalatenskap en dankbaarheid vir die lewe as genadegawe, is verwant.

Dis ʼn dankbare mens wat iets nalaat.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.