ToekomsVenster: Wat weet die martelare?

(Foto: Stephan Hauman)

“Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.” – Handelinge 7:55 (AFR83)

My kop los my nie, dit is soos ʼn spinnerak van gedagtes en bedrywighede. Veral vakansietyd skakel alles in my aan, in plaas van af. Tog is dit nie sinneloos nie. Ek kry antwoorde, of ten minste, rigtingwysers.

Dit is wat merkwaardig is van ʼn verhouding met die Here. Die Bybel sê dit immers: vra en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word. Dalk nie alles op een slag nie, maar met verdrag.

So worstel ek met die martelare, mense wat ter wille van die Evangelie hul lewens prysgee, letterlik weggee.

Ek luister na ʼn voordrag waar daar melding gemaak word van, so herroep ek dit, 40 Christene wat vanweë hul getuienis naak op ʼn ysmeer aan die elemente blootgestel word. As hulle hul geloofsvertroue prysgee word hul onmiddellik gehelp. Indien nie, is sterf hul voorland.

Een van die Christen-martelare gee toe aan die druk. Wie kan hom dit kwalik neem?

Hy word te hulp gesnel. Een van die soldate wat die martelare moet dophou word so aangespreek deur die voorbeeld van die ander 39, dat hy die een wat toegegee het se plek inneem. Al 40 sterf.

My hart breek. Hoe kan dit, waarom, waar was die Here, so maal dit in my kop.

Ek raak skoon gespanne omdat ek so met die een identifiseer wat handdoek ingooi.

Ek bid stilweg: “Here, ek wil U nie teleurstel nie, maar ék sal dit nie maak nie”.

Hoe werk dit dan, wonder ek?

Dan hoor ek die Gees se stem. Vra in plaas van hoekom en waarom, eerder wat hierdie martelare van God beleef het en wat hulle so vasberade gemaak het.

Eweneens martelare deur al die eeue, en ja daar is steeds mense wat die hoogste prys betaal vir hul belydenis dat Jesus die Here is.

Wat het hierdie mense ontdek van God Drie-enig wat hulle staande gehou het en het ek genoeg daarvan ontdek dat dit my staande sal hou in uitdagende tye?

Ek is so dankbaar dat die Here die werk wat Hy in my en jou, en ons, begin het self klaarmaak. Dan is ek ook dankbaar dat oorwinning nie in ons vermoë gesetel is nie, maar in God wat ons dra. En daarom kan ons ook so dankbaar wees vir die genade wat na martelare kom.

Wat elkeen van ons vandag nodig het is ʼn ander soort genade. Genade om geloofwaardig in hierdie lewe op te tree, om die Waarheid nie geweld aan te doen nie, om versoeningsgesante te wees, om ons families te beskerm en om Suid-Afrika te laat werk.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.