ToekomsVenster: Wees getrou aan jou roeping

(Foto: Timothy Barlin/Unsplash)

“Ek druk julle dit op die hart, ek wat ʼn gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” – Efesiërs 4:1

Ons verskil van mekaar en so ook die plan wat God met elkeen van ons se lewens het.

Dit is heel menslik dat jy na ander kyk en jouself met hulle vergelyk. Dit is ook interessant dat ʼn mens altyd “opwaarts” vergelyk en nie “afwaarts” nie. Jy sien raak wat jy nie het nie, maar vergeet van dit wat die Here in sy genade aan jou toevertrou het.

Ons gawes verskil van mekaar en so ook die roeping wat God op ons lewens geplaas het.

Johannes die doper was ʼn wegbereider. Dit was sy taak om die mense bewus te maak van die Messias-Koning wat eersdaags sou verskyn.

Ek twyfel dat Johannes somtyds jaloers en afgunstig was op die aandag wat Jesus ontvang het.

Jesus se roeping het eweneens verskil van dit wat Johannes moes doen.

Jesus moes die beginsels van die Koninkryk van God, wat besig was om in hierdie wêreld in te breek, aan mense kommunikeer en hulle wys hoe ʼn mens te midde van aanvegtinge met oortuiging en met oorgawe kan leef.

Jesus het na die wêreld gekom om sy lewe af te lê vir mense wat op eie meriete nie die hemelse heerlikheid kom beërwe nie. Alhoewel Johannes ook op ʼn onnatuurlike wyse gesterf het, het dit verskil van die betekenis wat Jesus se dood gedra het.

Johannes het nie opgestaan nie, Jesus tog wel om daarmee die oorwinning oor die sonde en dood te bevestig.

Al wat die Here van ons vra, is om getrou te wees aan die roeping wat hy op ons lewens geplaas het.

Dit mag nie so roemryk wees soos die van ander nie. Jou gesig mag dalk nie pryk op die voorblad van ʼn glanstydskrif nie. Mense vra jou nie vir jou handtekening nie.

Dit beteken egter nie dat jy minderwaardig is nie.

Al wat die Here eendag van ons gaan vra, is of ons gedoen het wat Hy van ons gevra het.

Soek eerder die applous van die hemel as om op gedwonge wyse besig te wees met iets waartoe die Here jou nie geroep het nie.

Die applous van mense is heerlik. Baie verlang daarna, maar dis vir min beskore.

Dit beteken egter nie dat jou lewe nie betekenis het nie.

Mag jy ʼn groot mate van tevredenheid en berusting vind in die wete dat die Here ook hierin met jou op pad is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.