Lees: Psalm 42:6-12
Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God! Die HERE sal bedags weer sy trou betoon. Selfs in die donker nag sing ek sy lied, ’n gebed tot die God van my lewe. (Psalm 42:6-7, 9, NLV)
Die 16de-eeuse digter John Donne het ’n baie moeilike lewe gehad, in so ’n mate, dat hy sy hele lewe met die probleem van pyn geworstel het. Aan die einde van sy lewe toe hy ernstig siek was, skryf hy ’n klein boekie met die titel Devotions Upon Emergent Occasions wat reeds meer as vier eeue in druk is. Hierin kom hy tot die gevolgtrekking dat “die lewe altyd omstandighede insluit wat vrees wek. As dit nie siekte is nie, is dit finansiële swaar kry; as dit nie armoede is nie, verwerping; as dit nie eensaamheid is nie, mislukking.” Donne het ontdek dat ons in ’n wêreld vol pyn en lyding ’n keuse het om God te vrees of om alles anders te vrees. Hy het besluit om God te vertrou, eerder as om in bitterheid van Hom weg te draai. Op die ou end kom hy tot die gevolgtrekking dat die enigste oplossing is dat hy net op God moet vertrou omdat vertroue ware vrees vir die Here verteenwoordig.
Jy kan ook maar jou vrese en verwarring aan God toevertrou en aan Hom vashou as jou wêreldjie wil wankel. Hy sal altyd sy trou laat blyk sodat jy soos die psalmdigter in ons kerntekste ook midde-in jou eie donkerte ’n lied vir Hom sal kan sing!
Vader, ek wil nou my vertroue aan U vasknoop in die donker situasie waarin ek my op die oomblik bevind. Dankie dat ek nooit hoef bang te wees met U by my nie. Amen.