Gedagte vir die dag: U gees

rivier_kalmte_rustig_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 2 Konings 2:1-15a

“Mag daar tog ’n dubbele deel van u gees op my kom!”. (2 Konings 2:9)

Dit is wat Elisa van sy leermeester wou hê. Kort voor die befaamde Elia se laaste reis, die een hemel toe, vra hy sy leerling: Wat moet ek vir jou doen voordat ek weggaan? En Elisa roep uit: Ek wil u gees hê! Ek wil u gees in ’n dubbele mate hê!

Vreemd, nie waar nie? Ons sug soms oor mense vir wie ons bewonder en sê: Ag, as ek maar net ’n kwart van sy geduld kon hê

… Gee my net die helfte van sy verstand … Net ’n greintjie van sy goedheid sal genoeg wees vir my!

Elisa vra meer van Elia. Dubbeld. ’n Oorvloed. Nie omdat hy snoep is nie; dit is omdat Elisa so onmagtig voel, so desperaat oor Elia se vertrek wat onontwykbaar voor hulle lê. Oor dié angstigheid lees ons uitvoerig in hierdie fassinerende verhaal: oor Elisa wat die ander profete en hul onheilsboodskap herhaaldelik stilmaak, oor sy desperate vasklou aan sy leermeester.

Toe doen Elia ’n finale wonderwerk: die laaste toneel voor sy skouspelagtige hemelvaart. Elisa, die opvolger, sou hierdie wonderwerk spoedig herhaal, en vir almal was dit die teken: Elia se gees rus inderdaad op sy leerling.

Of dit toe “’n dubbele deel” was, sal ons nie weet nie. Ons weet wel van die angs wanneer ons ’n mentor wat vertrek het se skoene moet volstaan. Van die desperate soeke na bevestiging dat ons tóg daarin slaag.

Sedert Pinksterdag is ons begeerte ook nie sommer na enige gees om ons hiermee te help nie. Ons wil die Gees van Christus hê. Van Hóm wil ons soveel moontlik hê. Hy moet ons vul, niks minder nie.

Gees van God wat lewend maak, vul my meer en meer. Troos my, sterk my, leer my, lei my.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

Baie dankie. Ek weet of hy toe ‘n dubbele deel van die gees gekry het nie, maar vir almal bly dit ‘n blye wete. 1 KORINTIËRS 12:12
Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.
1 KORINTIËRS 12:13
Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.