Hoe kan ’n jongmens ’n skoon lewe lei? Deur sy lewe in te rig volgens u woord. (Psalm 119:9)
Van uitstel kom afstel. Dit is vir my een van die treffendste spreekwoorde in Afrikaans omdat daar soveel waarheid daarin steek: Die mens is geneig om nie die bul by die horings te pak nie en optrede eerder tot ’n meer geleë tyd (volgens ons) uit te stel.
Veral as jy jonk, gesond en taamlik onbesorg is, is jy geneig om sekere sake na êrens in die toekoms uit te stel. Soos om van vroeg reeds na jou gesondheid en fiksheid om te sien. Of om eers later aanvullende voorsiening vir die oudag te maak – wanneer jy in jou vyftigerjare aftreesomme begin maak, kom jy dikwels tot die onaangename gevolgtrekking dat jou aftreegeld nie ’n onbesorgde aftrede kan verseker nie. Om jou lewe vir so lank moontlik met aardse lekkertes vol te pak en eendag dalk ’n U-draai te maak, kan ook ’n groot risiko wees. Buitendien kan jy later agterkom dat dié lekkertes nie die ware Jakob is nie; dat dit ’n mens leeg en onvergenoegd kan laat.
Gevolglik is dit ’n wyse besluit om jou lewe reeds van jongs af aan die Here te gee. Om ’n skoon lewe te lei, is die raad wat Psalm 119 gee, en nie van die Here se gebooie af te dwaal nie. Dit maak jou aardse bestaan allesbehalwe vaal en vervelig. Dit gee ’n nuwe dimensie daaraan.