Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder. Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel om namens My te praat met die nasies van die wêreld. Moenie sê jy is te jonk nie. Gaan na die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle. Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie. Ek sal by jou wees en jou beskerm! (Jeremia 1:5, 7-8)
Toe Jeremia te doen gehad het met ’n volk wat nie wou hoor wat hy te sê gehad het nie, het hy hom tot sy grootste kritikus gewend: God. Die Here het hom verseker dat Hy – ten spyte daarvan dat Hy die goeie en die slegte dinge omtrent Jeremia geweet het, én dinge wat Jeremia in die verleentheid gestel het – hom nogtans afgesonder het vir ’n groot werk. God het ook beloof om hom toe te rus en te beskerm.
Mense sê jy is jou eie grootste kritikus. Dis nie waar nie. Ons jok heeltyd vir onsself. Ons oortuig onsself dat ons nie regtig só sleg is nie. Ons regverdig swak besluite en verskoon sonde. In ons brose menslikheid sien ons ook eenvoudig nie alles wat daar is om te sien omtrent onsself nie.
God sien alles. Hy sien jou briljantheid – Hy het dit in jou geplaas – en Hy sien jou sonde, littekens en lyding. Jy kan niks vir Hom wegsteek nie. Hy ken ook die omvang van die antagonisme wat jy moet hanteer, en Hy verseker jou dat Hy jou sal beskerm.
Maak jy verskonings omdat jy bang is vir teenkanting?
Vader, dankie dat U my ken, afsonder en verdedig. Amen