Gedagte vir die dag: Vier jou uitsonderlikheid!

Gelukkig_vrou_natuur_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons…”  (Handelinge 17:28 – AFR83)

Dikwels wandel ons as mense doelloos deur die lewe, maar dit neem net daardie een waaragtige ontmoeting met die Skepper, ons hemelse Vader, om ons lewens vir ewig te verander. Ek onthou hoe ek eenmaal aangestap gekom het na ’n ouer dame, langs haar gaan sit het en haar hande in myne geneem het, met die woorde: “Weet u dat u oneindig kosbaar is…” Toe sy hartverskeurend in trane uitbars en my saggies daarop geantwoord, “Dame, weet u dat ek daardie woorde nog nooit vantevore gehoor het nie?” Dit het my tot diep in my diepste binneste geskud en ek kon duidelik die stem van die Here hoor spreek in my hart:“ Vertel my kinders hoe lief Ek hulle het!”

Dit was net daar en dan dat ek tot die besef gekom het hoe belangrik dit is, vir ons as mense, om ons waarde in die Here te begryp en te verstaan en die doel waarvoor ons geskep is vas te gryp en na te streef. Ons ervaar eers ware vervulling wanneer ons die spesiale Godgegewe doel vir ons lewens ontdek.

Elkeen van ons is uniek, en dit is juis daardie eiesoortigheid wat God in elke individu geskep het, wat jou as persoon so ontsettend besonders en buitengewoon maak. Jy is die Vader se meesterstuk, na sy beeld geskape. Jou skoonheid strek veel verder as net jou uiterlike voorkoms. Die Woord leer ons dat dit wat in jou hart omgaan, jou hele lewe bepaal. Dit is ’n hartsaak, wat nie net deur dade alleen omskryf kan word nie, maar in die wyse waarop jy handel. Daarom, skyn en gedra jouself grasieus, sterk, sag en gevul met sy liefde, in alles wat jy aanpak.

Leef voluit in Hom in wie jy leef, beweeg en bestaan! 

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.