Vlog vol waarheid: Vasgevang in die soeke na gemak

Mauritz Zietsman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Spreuke 6:10 NLV: “Nog ʼn bietjie verder slaap, nog ʼn bietjie lê en sluimer, nog ʼn bietjie hande gevou lê om uit te rus.”

Ons almal geniet nou en dan ʼn luukse of bederfie in die lewe. Heerlike vakansies met geen huiswerk of take, waar jy net die son, see, swem, eet en laatslapery kan geniet. Wegbreeknaweke in die bos of kuier langs die chalets by ʼn vakansieoord. Dít is mos die lewe!

Ons kan egter nie nét vakansie hou nie – ons moet ook beplan vir die toekoms. Almal van ons sal graag in ʼn mooi huis wil bly, dalk met ʼn spoggerige motor wil ry en genoeg geld wil hê om die dinge te doen wat ons wil doen. Dit is veral waar in ʼn samelewing wat dikwels glo dat geld en materialistiese dinge gelykstaande is aan sukses.

Regeer die gejaag na rykdom ons heeltemal te veel?

Jy het sekerlik al die grap gehoor: “Geld kan nie geluk koop nie, maar het jy al ooit iemand sien huil in ʼn Ferrari?” Ons lag almal lekker vir dié soort grappe, maar skuil daar nie agter dit ʼn titsel waarheid nie, ʼn kykie na wat in sommige mense se harte aangaan?

Wat bedoel ek hiermee? Ons gejaag na rykdom sal nooit ophou nie. Ons sal altyd meer, beter en groter wil hê. Terselfdertyd probeer ons dit regverdig deur te sê ons probeer om ʼn lewe vir onsself te maak, so asof die lewe oor gemak gaan.

As ek kyk na Jesus se kort 33 jaar hier op aarde, sien ek absoluut geen bewyse van gemak in sy lewe nie. Daarmee saam sê ek ook nie dat Jesus ooit gesê het ons mag nie gemaklik wees nie. Waarna Jesus wel verwys het, was dat die lewe nie gaan oor gemak nie, maar eerder om jou lewe te wy aan die mense rondom jou, ongeag enige ongemak wat daarmee mag saamkom.

Hy het gesê dat ons geseënd sal wees wanneer ons ander mense seën en ondersteun, wat ook al presies hierdie seëning beteken. Hy het dit duidelik gemaak dat ons nie moet leef vir hier en nou nie, maar eerder vir dit wat ná hierdie lewe vir ons wag.

Die lewe hier op aarde is onmenslik kort as ons dit vergelyk met die tyd wat ons in die hemel sal deurbring. Die ewigheid is nie ʼn maklike konsep om te verduidelik nie, en ek gaan nie eens probeer om dit te vereenvoudig nie.

Maar ek wil jou wel vandag uitdaag om weg te beweeg van gemak af in jou gedagtes en nader aan wat Jesus vir jou beplan het op aarde. Dit lyk dalk drasties anders as wat jy in jou kop gehad het, maar sal vir seker op die ou einde die moeite werd wees.

Ek het beslis iets beters gevind as wat enige aardse gemak my ooit sou kon bied. Ek hoop jy doen dit ook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.