Vroue in Beweging: Vroue se verskillende roepings

 vriendinne-vroue-omgee-becca-tapert-unsplash.jpg

Foto: unsplash/becca-tarpert.com

In November fokus die Vroue in Beweging, in samewerking met Akademia, op die tema “Vroue se verskillende roepings”. Akademia is ’n belangrike deel van hierdie inisiatief en bied ’n verskeidenheid van studierigtings aan om jou loopbaan te bevorder. Hulle glo in die waarde van opleiding en vorming om die volgende generasie toe te rus en om voornemende studente te help om hulle roeping te vervul deur nauurse opleiding.  

Die begrip roeping is nie vir ons vreemd nie. Die meeste mense sal met oortuiging kan antwoord dat hulle ʼn lewensroeping het. Dit word dan beskryf as ʼn innerlike gevoel of drang om diensbaar te wees vir ʼn groter doel. Vir baie mense is hierdie roeping dit wat hulle sin en betekenis in die lewe gee. Maar dit is nie altyd so maklik om presies te weet wat daardie roeping in jou lewe is nie.

Mense voel soms verward en onseker oor die verhouding tussen hierdie geestelike innerlike drang na ʼn doel of betekenis (vocatio), en hulle alledaagse bestaan en beroep (professio). Gevolglik is daar verskillende verstaan en begrip oor wat roeping werklik beteken. Vereis roeping ʼn geestelike element waar jou gewone werk (beroep) opgeoffer word om iets belangriker in die koninkryk van God te verrig? Of is jou beroep deel van jou roeping?

Geroep om aan te roep

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Daar word in breë trekke in die kerkgeskiedenis ʼn onderskeid gemaak tussen die Nuwe Testamentiese vroeë kerk, die donker Middeleeue, die tyd van die Reformasie en die moderne tyd. In elkeen van hierdie tydperke word die begrip roeping anders verstaan.

Die vroeë Christene het roeping verstaan as ʼn uitroep van sondaars uit die duisternis van die sonde tot die lig van die evangelie. Dit is as’t ware ʼn “hemelse roeping” soos beskryf in Hebreërs 3:1 om God aan te roep. Roeping is daarom ʼn Goddelike ingryping deur die Heilige Gees en die Woord van God om te glo en om gered te word en deel gemaak te word van ʼn nuwe gemeenskap. Hierdie Goddelike geloofsroeping blyk nie primêr te doen te hê met jou beroep (werk) nie, hoewel dit jou optrede in jou werk beïnvloed. 1 Korintiërs 7 beskryf veral hoe selfs slawe moet bly in hulle slawediens, sonder om hulle roeping van God tot geloof prys te gee. Galasiërs 3 wys ook hierop, dat daar geen onderskeid is in stand of status in God se roeping tot redding nie.

Inroep of uitroep

Tydens die Middeleeue het die kerk roeping anders begin verstaan. Nie meer as ʼn uitroep uit die sonde tot die lewe in die lig nie, maar eerder as ʼn geestelike verdieping. Roeping is slegs wanneer jy jou gewone werk laat vaar, en in ʼn klooster gaan bly as monnik of non of priester. Roeping was uitsluitlik van geestelike aard. Jou beroep was duidelik onderskei van roeping in diens van God.

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: Crosswalk.com

Dit was veral Luther wat tydens die Reformasie hierdie geestelike aspek in ʼn nuwe lig stel. “Die onderskeid tussen geestelikes en leke wil hy radikaal kritiseer en laat verval. Dis die duiwel – sê hy, op sy tipiese krasse manier – wat mense wil wysmaak dat hulle God beter kan dien deur uit die normale, alledaagse lewe te tree, nie te trou nie, en ʼn bestaan in geestelike afsondering in die kerk of klooster te gaan leef. Nee, God roep nie sommige nie, maar almal. Nie slegs sommige as priesters nie, maar almal. En God roep nie uit die wêreld uit nie, maar in die wêreld in, om vir God te leef. Dit beteken dat dit wesenlik vir gehoorsaamheid aan die roeping is dat gelowiges sal bly in die posisie, die omstandighede, die situasie, ja, die roeping, die beroep, die arbeid waarin hulle reeds staan. Nie die wat in die geestelike diens staan, dien God beter nie. Nee, alle diens bied geleentheid tot geestelike diens.”[1]

Die beslissende skuif by Luther is dat God alle mense op twee maniere roep. Inwendig, geestelik en uitwendig in konkrete beroep. Hierdie is nie twee verskillende roepinge nie, maar eerder een roeping wat in twee onderskei word. Jy hoef nie jou gewone beroep te verlaat om ʼn geestelike roeping te vervul nie. Inteendeel, die beroep wat jy beoefen het ʼn direkte en konkrete invloed gehad op jou naaste. Die bakker en die skoenmaker het hulle kliënte persoonlik geken en op so ʼn wyse ʼn diens in die gemeenskap verrig. So was jou beroep, en arbeid ʼn roeping tot naasteliefde en naaste diens, as medewerker van God, en nie om jouself te verryk nie.

Om dus getrou en diensbaar en hardwerkend te wees, is ʼn Goddelike roeping, en sukses is nie om geld te maak of te bevorder in stand of status nie, maar eerder die vrug en gevolg om gehoorsaam en diensbaar te volhard in toegewyde pligsvervulling.

Beroep as roeping

marisa-howenstine-speel-klein-kinders-unsplash.jpg

Foto: unsplash/marisa-howenstine.com

Die grense en begrip het egter verder verskuif na Luther, tot waar die eksterne roeping, jou beroep, as die eintlike roeping verstaan is. Geestelike roeping is slegs simbolies van aard. Om prakties jou beroep te beoefen word op so ʼn manier jou roeping. Soos Smit opmerk: “Dalk kan ʼn mens, skerp gestel, sê: hulle word nie meer geroep om as Christene in hulle beroep te staan nie, maar hulle word as Christene geroep om in hulle beroep te staan.”

Die gevolg hiervan is ʼn patriargale etiek van stand en status in ʼn ekonomiese en politieke wyse. Dit het die plek van die vrou direk beïnvloed, aangesien roeping verhewe was in ʼn posisie wat die vrou nie beskore is nie.

Geroep in ʼn tyd soos hierdie

Daar is vandag baie nuwe tendense en verstaan moontlikhede wat roeping beteken. Innerlike roeping van God word al hoe meer gesien as natuurlike, aangebore vaardighede, vermoëns of talente. Jou natuurlike aanleg leer jou wat jou innerlike roeping is, en daarom ook watter uiterlike beroep jy dus behoort na te volg. En omdat dit natuurlik is, “van nature” gegee is, word die aanleg geïnterpreteer as roeping van God Self.

 vroue-werk-rekenaar-cowomen-unsplash.jpg

Foto: unsplash/cowomen.com

Die gevolg hiervan is moderne beroepskeuses waar gelowiges nie langer hoef te bly in die stand of arbeid waarin hulle geroep word nie, maar kan binne die vryheid van hulle eie aanleg, vaardighede en talente God se roepstem volg.

Vandag word ons denke geweldig beïnvloed deur sekularisasie, waar daar ʼn skeiding tussen roeping (vocatio) en beroep (professio) gemaak word. Roeping word gesien as ʼn geestelike taak, terwyl beroep eerder ekonomiese begronding het.

Oproep tot aanroep in jou beroep

 gesin-see-strand-natalya-zaritskaya-unsplash.jpg

Foto: unsplash/natalya-zaritskaya.com

Die Griekse woordjie klessis wat ons as roeping vertaal, beskryf aan ons ʼn oproep of uitnodiging tot die voorregte van die evangelie. Ons sou dit kon verklaar as ʼn Goddelike uitnodiging om die redding van God te omhels.

Aan die ander kant vind ons reeds voor die sondeval die opdrag om te werk (Abad). Die 4de gebod in die Tien Gebooie beskryf egter drie verskillende aspekte waarvan werk een is. “Ses dae moet jy arbei, en al jou werk doen.” Daar vind ons arbei (Abad) wat slawediens bedoel. Dit is omploeg en harde arbeid (labour). Die tweede woordjie werk (Asa) beteken om te produseer, om te vervaardig (produce) en die laaste doen is vakmanskap. Dit is om af te handel of te voltooi (occupation).[2]

Geroep gered

Roeping is God se Woord en Gees wat tot ons spreek. Dit is in die eerste plek roeping tot geloof in God. Ons word geroep tot redding. Maar daardie roeping het ook ʼn diensbaarheid. Ons word geroep in die konkrete wêreld. Dit is om God lief te hê en om ons naaste lief te hê soos onsself. Hierdie diensbaarheid in liefde aan God bedoel die aanroeping van Sy Naam, en die diensbaarheid tot ons naaste bedoel ons beroep.

Albei is in diens en in opdrag van God. Hierdie roeping tot ons naaste word beskryf in 1 Korintiërs 12 op drie verskillende maniere. Daar is ʼn verskeidenheid van genadegawes (charismata) wat gegee word deur dieselfde Gees. Daar is ʼn verskeidenheid bedieninge (diakonia), maar dieselfde Here. Daar is ook verskeidenheid werkinge (energema), maar dieselfde God.

Deur ons gawes, talente en vermoëns te ontgin en verder uit te bou deur onder andere verdere studie en toerusting, kan ons die wonderlike hemelse roeping van God, ongeag ons stand of status, nastreef in die hoop van God se heilige roeping, sodat ons ook hierdie roeping waardig kan wees.

[1] Smit, D.J. “Oor Roeping En Arbeid in Protestantse Etiek.” Verbum Et Ecclesia 23, no. 2 (2002): 481-501.
[2] Sien gerus Buys, A.L.A. Die Chirsten en sy Werk. Centurion: Kraal Uitgewers. 2021. Hoofstuk 1.

Geskryf deur LJE Venter – Begrond Instituut

vroue-hande-becca-tapert-unsplash.jpg

Foto: unsplash/becca-tapert.com

Meer oor Vroue in Beweging:

Hierdie artikel is die derde een van ʼn reeks vir die volgende 2 jaar op die agenda van die Vroue in Beweging. Met skrywes soos hierdie wil die Vroue in Beweging graag ruimte skep vir oop gesprekke en debatte oor sekere kwessies. Die Vroue in Beweging is ʼn inisiatief van die Solidariteit Beweging en die doel is om vroue in Suid-Afrika te bemagtig om voluit vrou te wees deur om te sien na die werk, welstand en opleiding van die vrou sodat sy as pilaar van hoop in haar gemeenskap kan optree. ʼn Gemeenskap kan slegs bevorder word as die gemeenskap self intree om die verskil te maak. Dus wil hierdie inisiatief vroue motiveer om ook mekaar se belange op die hart te dra.

Vroue is die hartklop van ons samelewing. Daar is dikwels goed wat in die pad daarvan staan om voluit vrou, meisie, suster, ma en vriendin te wees. Hierdie dinge wat in die pad daarvan staan, kan fisiek, emosioneel en geestelik van aard wees.

Die Vroue in Beweging-inisiatief wil dié gapings tot ’n beter lewe oorbrug en die kettings van armoede wat dreig om te vernietig, verbreek. Dit sal vroue wat deur hierdie goed gekeer word, bemagtig om as gesonde vroue in die samelewing te kan funksioneer.

Hierdie inisiatief wil dit doen deur al die instellings van die Solidariteit Beweging te mobiliseer om die insette en projekte van die onderskeie instellings te fasiliteer. Hulle gaan ook kragte saamsnoer met ander vennote om sodoende vroue te bemagtig om nie net ʼn verskil te maak in hul gemeenskappe nie, maar om ook uiteindelik as sterker vroue na vore te kan tree. Om meer te lees oor die Vroue in Beweging besoek gerus www.vroueinbeweging.co.za. Vir meer Inligting oor Akademia se nauurse afstandmodel, klik gerus hier: https://bit.ly/3saWBWb Indien jy in Pretoria woon, woon gerus die sentrumopedag by op Saterdag 11 November. Bespreek jou sitplek hier: https://akademia.ac.za/rsvp-sentrumopedag-moot-2023/

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.