Gedagte vir die dag: Vroue wat sorg

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. (Lukas 7:44)

In Jesus se tyd het vroue sosiaal nie so ’n belangrike posisie beklee nie. Hulle is nie toegelaat om leiersposisies in te neem nie, want hulle moes hulle man ondersteun.

Jesus het egter ’n besondere verhouding met vroue gehad. Hy het vroue op ’n nuwe manier behandel. Hy het hulle nooit as tweederangs behandel nie. Telkens wanneer Hy vroue bedien het, was dit op dieselfde wyse as wanneer Hy met mans gepraat het. Eintlik word daar in die Evangelies vir ons baie vertel van hoe Jesus met vroue met ’n reputasie in gesprek getree het om hulle lewe te verander. Telkens lees ons van vroue se toegewyde navolging van Jesus omdat hulle sondes deur Hom vergewe is.

In Lukas 8 lees ons dat Hy as rondreisende bedienaar nie net met sy twaalf dissipels op pad was nie, maar ook met ’n aantal vroue. Van hulle was van bose geeste bevry en van siektes genees. Daar was onder andere Maria Magdalena, uit wie sewe duiwels gedryf is. Maar dan was daar ook Johanna, die vrou van Gusa, wat Herodes se sakebestuurder was (Luk. 8:1-3). Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg. Hulle het diens gelewer aan Jesus en sy dissipels. Die werk wat Jesus gedoen het, was immers geweldig veeleisend en Hy het sorg nodig gehad. Die vroue het Hom en sy dissipels met toewyding gedien sodat hulle met hulle bedieningswerk kon voortgaan.

Dank God vir die vroue in die koninkryk wat ook vandag aan Jesus se werk vlerke gee!

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.