Gedagte vir die dag: Vrygewigheid

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. (Psalm 139:13-14)

Vir my is vrygewigheid een van die mooiste eienskappe denkbaar. Dit verstom my telkens dat daar mense is wat só gee dat jy nooit sou kon raai dat hulle hulle dalk self tekort doen nie. Dis kompleet of sulke mense dinge weggee asof dit nooit regtig aan hulle behoort het nie. Asof gee hulle nie armer maak nie.

Vrygewigheid ís spesiaal. Dit beskryf ook iets wat eie aan God is. Hy is die liefdevolle, genadige en, ja, vrygewige God. Méér: Hy is alles wat ruim en rojaal is. Hy gee oorvloedig.

Ons sien dit in die natuur: Daar is ’n veld vol uitbundige plante in die wye ooptes wat soms blom sonder dat ’n enkele siel dit aanskou. Dié soort prag word deur God aan daardie landskap gegee, al sou geen mens die voorreg kry om dit waar te neem nie.

Daar is asemrowende berge met sneeuspitse en donker klowe wat net ’n handjie vol mense al beleef het. En tog het God elke klofie en krans in hul grootsheid ontwerp – al sou dit eeue neem voordat die eerste mens die skoonheid daarvan ontdek of daardie hoogtes en dieptes probeer baasraak.

Daar is woude diep in Suid-Amerika, sneeulandskappe in Asië en woestyne in Afrika, blou watermassas in Niemandsland – en alles is met ’n oorvloed skoonheid en majesteit getooi. Ons Skeppergod het dit so gemaak en aan ons gegee om te geniet. Uit sy vrygewige hand het ons ’n skepping ontvang wat van oorweldigende skoonheid getuig.

Kyk jy af in ’n blom se binnekant, sien jy die fynste stuifmeelknoppies. Duisende daarvan, elkeen perfek geskep. Kyk net die fyn, fyn kuns! Kyk die are op die blaar, die riffels op ’n klip, die weerkaatsings in ’n helder poel. Die Here huiwer nie wanneer dit by detail kom nie!

Hy gee ruim, oorgenoeg. Hy het jou ook stukkie vir stukkie gemaak. Die psalmdigter jubel: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder” (Ps 139:13-14).

Hoe wonderlik is ons rojale Gewer-God tog! Die natuur sing dit uit, en ons kan saam daaroor juig. Maar nie almal juig oor God wat so ruimskoots gee en so oorvloedig seën nie, want nie almal sien dit raak nie. Net dié wat na die natuur kyk en met dankbaarheid die soene van ’n somerson ontvang, sien dit raak.

Of diegene wat in verwondering die spits van die berg dophou en in dankbaarheid die Skepperhand daarin raaksien; húlle weet van ’n God wat roekeloos gee.

Hul dankbaarheid sien nie bloot ’n prentjie van berge en bome en pragtige blommetjies nie; hulle sien juis al hierdie dinge as ’n getuienis van God se vrygewigheid. Hulle sien die natuur se skoonheid, en merk daaragter God se oop hand. Hulle herken die genot wat Hy daaruit put om mooi te maak, en om daardie skoonheid met noukeurige en oorvloedige liefde te onderhou.

Here, dankie dat U ’n vrygewige God is, en dat ons dit in die skoonheid van die natuur kan raaksien.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Von ·

Ps 139 se sy baie oor die Here se aktiewe betrokkenheid in ons lewens…dankie Here dit U alles van my weet…dat niks my van U liefde kan skei nie…Amen

HouHoop ·

Dankie Here vir U wonderlike skepping en vrygewigheid. Ons prys U grote Naam. Wees ons genadig asseblief Here Jesus. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.