Gedagte vir die dag: Wanneer die vuur sy vlam verloor

mense_blydskap_woestyn_stiltetyd_pixabay.jp

Foto: Pixabay

“Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God aan jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ʼn vuur weer moet aanblaas.” (2 Timoteus 1:6 – AFR83)

Daar kom tye in elke gelowige se lewe wanneer dit voel asof jy daardie eerste blydskap, passie en vuur-en-vlam-gevoel verloor het. Dit is dan dat ons in die opregtheid van ons geloof begin twyfel, soms selfs tot by die punt waar ons aan ons roeping begin twyfel. Maar geloof is nie gebaseer op hoe jy voel nie. Geloof is nie ’n emosie nie. Geloof strek veel dieper as dit. Geloof is ʼn onverskrokke, vaste vertroue in die Here, om seker te wees van die dinge wat ons hoop en volkome oortuig te wees van dinge wat ons nie sien nie (Hebreërs 11:1).

Jesus Christus is die Begin en Voleinder van die geloof. Sy genade is vir ons meer as genoeg. Ten spyte van jou swakheid, is Hy steeds sterk. Deur sy Heilige Gees wat in jou woon word jy innerlik versterk. Sy Gees gee aan jou die krag wanneer jy dit die nodigste het. Daardeur beskik jy oor die vermoë om getrou te bly. Deur sy liefde wat in jou hart regeer kan jy ten spyte van hoe jy voel, steeds ʼn kragtige impak maak vir die koninkryk en tot eer van sy naam.

Hou net altyd jou oë gevestig op Jesus. Jesus wat jou uitverkies het, is die Almagtige Here en sal die roeping wat Hy aan jou toevertrou het, in stand hou. Net so ook sal Hy nooit sy genadegawes, deur Hom aan jou geskenk, van jou af wegneem of terugtrek nie.

Moet nooit in die strik van Satan trap deur jou gevoelens die oorhand te laat kry en jouself deur emosies te laat lei nie. Kyk en sien dat die Here goed, getrou en regverdig is. Hy wil iets nuuts vandag in jou lewe doen! Plaas jou vertrou in Hom!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie vir die plasing wat ek saam kan neem waar ek ookal gaan…dit gaan nie oor my gevoel nie maar oor my Here se getrouheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.