Gedagte vir die dag: Ware vriende

vriende-strand-stocksnap-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: stocksnap/pixabay.com

Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer. As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. (Prediker 4:9-10)

Iemand het per geleentheid aan my ’n mooi koeldrankglas as ’n geskenk gegee met ’n tekening daarop van twee skape en die woord “Vriendskaap” onder die twee “vriendskape”.

Wanneer ek iets daaruit drink, laat dit my altyd aan vriendskappe dink wat al dekades hou. Moontlik al van laerskooldae af, maar ook naskoolse vriendskappe wat die veranderinge oorleef het wat tyd en afstand en nuwe uitdagings bring. Selfs nuwe vriendskappe wat onlangs gesmee is, bring ’n tevrede glimlag mee.

Ongelukkig is daar mense wat verkies om hul pad alleen te stap en hulle nie vir vriendskappe oopstel nie. Sommige sê dat hulle oor baie jare al te veel teleurgestel of seergemaak is deur mense na aan hulle en daarom dié eenkantbeleid volg.

Die Bybel wemel van verwysings na vriendskappe en die genade van ware vriende. So sê Spreuke 18:24 dat vriende mekaar kan verwoes, maar ’n betroubare vriend kan vir jou meer beteken as ’n broer. En in Spreuke 27:5 word ons daaraan herinner dat ’n openlike (en opregte) bestraffing van ’n ware vriend beter is as die soen van ’n vyand. Of, soos Prediker 4 dit stel, twee mense is beter as een omdat hulle mekaar kan ophelp wanneer die een val. Want ware vriende is selfloos.

Ons moet ons vriendskappe koester.

Bron: God is hier! deur Johann van Zyl
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.