Wat gebeur met Christene in die Paastyd?

Rebekah (heel links) en Debbie (tweede van regs) saam met hul familie (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Christene wêreldwyd het vandeesmaand Paasfees gevier en maak nou reg om volgende maand Hemelvaartdag en Pinkster te vier – drie van die belangrikste gebeurtenisse op die Christelike kalender. Hierdie tyd van die jaar is egter ʼn uiters gevaarlike tyd vir vervolgde Christene omdat kinders van Jesus dan besonder erg geteiken word.

Die tempo waarteen nuusberigte die afgelope paar jaar instroom oor Christene wat tydens Paasfees of Hemelvaart wreed aangeval is, bevestig die harde realiteit van verskerpte vervolging in hierdie tyd.

Onlangse skokkende aanvalle

Die volgende aanvalle tydens die Paastyd, waarin talle mense dood of beseer is, het die afgelope jare veral uitgestaan:

  • Kenia: Altesaam 148 Christen-studente is dood toe vier mans van die ekstremistiese Islamitiese groep, Al-Shabaab, die Universiteit van Garissa op 2 April 2015 aangeval en Christene geteiken het. Al-Shabaab het doelbewus Paasfees – dieselfde tyd waarin Christus Sy lewe vir elkeen van ons afgelê het – vir die aanval gekies.
  • Pakistan: Selfmoord-bomaanvallers het tydens die Paastyd in 2015 twee kerke in Youhanabad aangeval. Altesaam 14 mense het gesterf. Christene in dié land sê hulle vier elke jaar Paasfees met die wete dat selfmoord-bomaanvallers enige oomblik kan toeslaan.
  • Pakistan: In nog ʼn voorval het Pakistanse Christen-gesinne op 27 Maart 2016 Paassondag in Lahore Park gevier toe ʼn bom naby die ingang ontplof het. Minstens 75 mense is oorlede en meer as 300 mense is beseer. ʼn Ekstremistiese groep met Taliban-bande het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
  • Egipte: Selfmoord-bomaanvallers van die Islamitiese Staat het op 9 April 2017 op twee kerke in Egipte toegeslaan tydens hulle Palmsondag-dienste. Altesaam 44 mense is dood en meer as 100 kerkgangers is beseer tydens die aanval.
  • Egipte: Enkele weke na bogenoemde voorval is ʼn groep Christene deur gemaskerde, gewapende mans aangeval toe hulle op pad was na ʼn Hemelvaartdiens. Altesaam 28 Christene, insluitend kinders, is doodgemaak omdat hulle geweier het om hul geloof in Jesus prys te gee.
  • Sri Lanka: Die brutale Paassondag-bomaanvalle op verskeie kerke in Sri Lanka in April 2019 het in totaal 350 lewens geëis en talle ander beseer. Hoewel twee jaar al verloop het sedert dié aaklige gebeure, sukkel heelwat slagoffers steeds om weer op hul voete te kom en die trauma te verwerk.
  • Indonesië: Altesaam 14 mense is beseer toe ʼn vermoedelike selfmoord-bomaanvaller vanjaar op Palmsondag, 28 Maart 2021, op ʼn Rooms-Katolieke Kerk in Makassar, Indonesië, toegeslaan het. Die twee vermeende aanvallers is albei in die voorval dood.

ʼn Verhaal van hoop

Die 24-jarige Rebekah is ernstig beseer in die Paassondag-bomaanvalle in Sri Lanka, maar sy kan ondanks haar ontberings vandag weer glimlag (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Debbie, ’n sesjarige meisie van Sri Lanka, en haar 24-jarige tannie, Rebekah, is albei baie erg beseer tydens die Paassondag-bomaanvalle in Sri Lanka in April 2019. Danksy die hulp van hul wêreldwye familie in Christus kon hulle egter uit die trauma opstaan en sing hulle vandag liedere van hoop.

Debbie het haar sig verloor en verskeie ander ernstige beserings opgedoen toe ’n bom in die Zion-kerk in Batticaloa, Sri Lanka, ontplof het. Sy was vir twee maande in die hospitaal se waakeenheid en moes weer van voor af leer loop na die aanval. Sy het beide haar ouers en haar neef in die aanval verloor. Vandag is sy terug op haar voete, en dans en sing sy met oorgawe om haar dankbaarheid teenoor die Here te betuig.

Rebekah, wat saam met Debbie in die kerk was, dra vandag nog die brand se geestelike en liggaamlike letsels. Haar hele linkerkant is met derdegraadse brandwonde bedek en sy het ʼn groot kaal kol bo-op haar kop, waar die hare weggebrand het.

Hoewel die ontploffing Rebekah se lewe vir altyd verander het, het sy nie hoop verloor nie en is haar geloof onwrikbaar. “Al wat ek nou wil doen, is om te getuig oor wat met ons gebeur het en wie Jesus is. Ek fokus nou daarop om oor God se liefde te getuig,” sê sy.

Geopende Deure het Debbie en Rebekah se familie in September 2019 met behulp van plaaslike vennote besoek om saam met hulle te bid en hulle te bemoedig.

Maak ʼn verskil

Danksy die gebede en ondersteuning van ons vennote, bemoedig Geopende Deure se span Christen-families wat deur geweld en aanvalle geraak is, bid vir hulle en help hulle op elke praktiese manier moontlik.

Jy kan vandag help om kwesbare Christene oor die wêreld te ondersteun deur ʼn finansiële bydrae. Klik hier om ons vervolgde broers en susters by te staan en te versterk sodat hulle weet dat hulle nooit alleen is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.