Gedagte vir die dag: Wat soek julle?

Namib_woestyn_stiltetyd.jpg

Foto: Susan Lombaard

Lees Matteus 11:7-10

Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk?” (Matteus 11:7)

Verwag dit maar van Jesus: Hy ontbloot ’n mens se diepste motiewe. Hy vra vrae wat jy nie graag gevra wil wees nie. Bloedweinig kere hoor ons ’n antwoord, sodat lesers van alle tye genoodsaak word om self te dink, om self iets te formuleer as hulle kan.

Jesus vra die mense wat na Johannes se opelugdienste gestroom het wat hulle éintlik by hom gaan soek het. Wou hulle iemand hê wat aan al hul behoeftes voldoen? Een wat heen en weer gewaai word soos die huidige gier dit vereis?

Wou hulle ’n prediker vind wat sy meerdere kennis soos deftige klere aan hom dra? Een wat dalk aan hulle sal vertel hoe om ook so swierig soos hy te kan aantrek?

Hulle sou nie een van die twee kry nie. Dit het hulle nou geweet. Johannes se agenda het nie “gewildheid” ingesluit nie en sy prediking sou niemand na die mond praat of enigiemand se gehoor streel nie. Daarby was sy kleredrag niks om oor huis toe te skryf nie – inteendeel.

Nee, sê Jesus, hy was ’n profeet. Méér: Hy is vooruit gestuur, hy was ’n padmaker. Wie na hom geluister het, sou God se boodskap oor sy Gesalfde hoor.

Dit hoef niemand te verras nie, juis ook nie mense wat uitgaan om na ’n werklike profeet te luister nie. Hulle weet hulle sal by dié mens nie goedkoop trooswoorde of enige tekens van ’n welvaartgodsdiens kry nie. Hulle kan wel gerus hul ore spits vir goeie nuus oor die Gesalfde van God. Die einste Doper het immers verklaar: “Hy moet meer word en ek minder” (Joh 3:30).

Vernietig, Here, my grootheidswaan! Laat almal wat na my kyk vir U raaksien.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.