Tien idees vir Vadersdag

Foto: http://johncdonahue.sarenemedia.com

Foto: johncdonahue.sarenemedia.com

Hy is die een wat jou leer motor bestuur het. Hy het ja gesê vir die hond én jou ma oortuig toe sy eintlik nee gesê het. Hy is die een wat jou geleer het hoe om ʼn bal te gooi en hy het vir jou roomys vóór aandete gegee. Daar is niks wat jy vir jou pa hierdie Vadersdag kan gee wat genoeg dankie kan sê nie, maar ʼn kreatiewe geskenk is dalk ʼn goeie begin.

1. As jou pa van musiek hou, moet jy ʼn vadersdag-album oorweeg. Maak jou eie speellys van musiek wat hy sal geniet en versier soos jy goeddink. Dis meer persoonlik en jy kan dit saam met hom geniet.

2. Jou pa het groen vingers en plante floreer as hy verby stap. Plant gerus vir hom ‘n boom. Dis ʼn langtermyn geskenk wat hom altyd aan jou sal laat dink.

3. As jou pa avontuurlustig is, is ʼn lugballonrit reg in sy kraal. Hierdie opsie is dalk ʼn bietjie duurder, maar dis ʼn dag wat hy (en jy) nooit sal vergeet nie.

4. As Ernie Els jou pa se held is, is ‘n rondte gholf op een van SA se beste bane jou antwoord. Hy kry sodoende kans om aan sy voorgee te werk en julle kan saam tyd spandeer (dis nou, as jy bereid is om sy sak te dra).

5. Jou pa bring altyd een of ander dier huis toe wat versorg moet word. Die diereliefhebber in hom sal blaf van blydskap as jy vir hom ʼn hond kry. As jou ma weier, is ʼn perdry-rit dalk die veiliger opsie.

6. As jou ouers gereeld stry oor jou pa ʼn spoedvraat is, is ʼn gevorderde bestuursles dalk net vir hom.

7. Die pad na ʼn man se hart is deur sy maag. Berei ʼn driegangmaaltyd van sy gunsteling disse voor. Die hele gesin kan saam eet en dis ook ʼn goeie geleentheid om jou kookvaardighede te toon te stel.

8. As jou pa baie kreatief is en skilder ʼn gunsteling tydverdryf is, is goeie gehalte verf die beste geskenk vir hom. Gee sommer vir hom ʼn foto van die gesin sodat hy dadelik kan begin skilder.

9. Jou pa geniet dit om te loop en hou ook van die buitelug. Reël ʼn staptoer saam die res van die gesin en hou sommer ʼn piekniek êrens met ʼn mooi uitsig.

10. As jou pa reeds alles het wat hy benodig, is ʼn mooi kaartjie die oplossing. Daar is verskeie webwerwe met kreatiewe idees vir Vadersdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.