Tien maniere om jou maat te wys jy het vurig lief

Foto: Ryan Franco/Unsplash

Deur Annelize Steyn

Elke mens wil voel soos die koning of koningin van die kasteel. Dit is lekker om te weet jou maat waardeer wie jy is en hy of sy wys dit! Só kan jy jou maat wys dat jy hom of haar nie as vanselfsprekend aanvaar nie…

Die Engelse woord is adore. In Afrikaans word dit vertaal as aanbid, vereer, verafgod, adoreer en vurig liefhê.

Aan die begin van die huwelik is dit maklik. Hy aanbid die grond waarop jy loop. Jy hang aan sy lippe. Maar ná ’n paar jaar (of selfs maande) begin die verwondering én gevolglike bewondering taan. Omdat dít die norm is, is die effek so groot wanneer jy jou wel hierteen verset. Wanneer jy sien hoe ’n man die motordeur vir sy vrou oopmaak, wanneer ’n vrou haar man aanmoedig langs die sportveld of wanneer ’n ouer paartjie hand-aan-hand deur die parkie loop, gryp dit aan jou hart.

Wil jy dit nie ook hê nie?

Die voordele van so iets is legio, meen Robert Ferguson op sy webtuiste, Fergusonvalues.com. Wanneer jy jou maat openlik liefhet en bewonder, voel jou kinders geliefd, jou ouers voel dankbaar, jou vriende voel geïnspireerd, jy hervestig hoop by paartjies wat dit reeds verloor het en natuurlik trek jou eie huwelik die meeste voordeel hieruit!

Só wys jy jou bewondering:

  1. Fisieke aanraking

Kenners meen dat mense meer selfversekerd in hul verhouding voel wanneer fisieke, romantiese aanraking gereeld plaasvind. Dit help om konflik op te los en dit verlaag die bloeddruk.

  1. Deur erkenning vir sy/haar prestasies

In die meeste huwelike is daar tye wat jou maat niks het nie – of bitter min. Baie paartjies trou jonk en begin saam onder. Hierdie huwelike bereik ook dikwels ’n plek van sukses waar dít waartoe hulle gewerk het, eindelik realiseer. Wys jou maat dat jy hom/haar bewonder vir wat hy/sy bereik het. Hy/sy hoef nie ’n biljoenêr te wees of fenomenaal te presteer nie – jy kan jou waardering ook vir klein dingetjies wys deur, byvoorbeeld, te sê: “Ek waardeer die ure wat jy ingesit het om hierdie vakansie vir ons moontlik te maak.”

  1. Begeer haar

Seks is een area wat eksklusief tot lewensmaats beperk is. Met ander woorde, as jy haar nie hier komplimenteer nie, wie gaan? Vertel haar hoe mooi sy vir jou is (uiterlik), hoe goed sy in die bed is (ja, regtig!) en hoe lekker dit is om haar liggaamlik te ontdek. Moet dit nie net hou vir die slaapkamer nie, maar bewonder haar dwarsdeur die dag. Vertel haar hoe jy uitsien na vanaand en hoe lekker gisteraand was.

  1. Stel hom heel eerste

In ’n huwelik kan prioritisering (of ’n tekort daaraan) groot moeilikheid maak. Dit is in jou aard as ma om jou kinders eerste te stel: Dis immers hulle wat jou die heel nodigste het, nie waar nie? Wel, ja en nee. Soms is dit nodig om jou vierjarige stil te maak sodat haar pa sy sin kan voltooi.

  1. Luister (regtig) na wat sy sê

Jy weet hoe belangrik dit vir jou kinders is om te weet jy luister na hulle. Met jou onverdeelde aandag (nie terwyl jy rugby kyk nie!). Jy weet hoe goor ’n mens voel wanneer dit voel asof jy nie gehoor word nie. Wel, pas hierdie kennis in jou huwelik toe. Luister waarlik wanneer sy praat (en memoriseer die detail van wat sy sê) sodat sy nie voel sy moet haarself herhaal nie en sodat sy waarlik geliefd voel.

  1. Gee hom jou kosbaarste minute

Ons tyd is duur. Soms só duur dat ons nie kans sien om dit af te staan nie, of só duur dat ons voel hulle sal verstaan as hulle heel laaste in die ry staan. Dit sluit aan by die afdeling oor prioriteite. Maak slim en strategiese planne om vir hom tyd te maak. Stop by sy werk om “hallo” te sê. Spring langs hom in die kar wanneer hy by die huis stop, net om een of twee minute alleentyd te hê voor die harwar begin.

  1. Wys jou vertroue in haar

Jy is ’n man. Natuurlik wil jy fix! As jou vrou gebroke by jou sit en haar hart uithuil oor ’n probleem, kan jy mos nie terugsit en niks aan die saak doen nie. Of kan jy? Die waarheid is, soms wil jou maat net dít hê – jou oor. Hulle wil weet dat jy luister sonder oordeel en sonder om te sê wat jý in dieselfde situasie sou doen. As jy onseker is oor wat sy van jou verwag, vra haar. Andersins: Luister, bevestig wat sy sê en laat haar duidelik verstaan dat jy haar genoeg vertrou om die regte besluite te neem.

  1. Onvoorwaardelike liefde

Die geheim is om jou maat lief te hê vir wie hy/sy op hierdie oomblik is. Selfs al beteken dit dat hy/sy nie nou baie oulik is nie, nie baie geld maak nie, nie optree soos jy graag sou wou gehad het nie… Wees lief vir hom/haarnet soos hy/sy is. Vratjies, puisies, ellelange lysies… stukkende kar, vervelige stokperdjies en al.

  1. Wys haar jou liefde… in die openbaar

Dit is een ding om haar ’n kompliment te gee in die privaatheid van jul huis. Dit is iets heel anders om vóór jou ma vir haar te vertel dat sy nét presies weet hoe om jul tweejarige se tantrums te hanteer. Of om voor haar vriendinne vir haar te sê sy is die mooiste ding op twee bene! Komplimenteer haar in die openbaar.

  1. Spanwerk

Een van die grootste foute wat getroude paartjies soms maak, is om met mekaar te kompeteer, eerder as om saam te werk. Paartjies wat saam deur ’n moeilike uitdaging gewerk het (soos infertiliteit of bankrotskap) kan hiervan getuig: Wanneer jy saam huil en saam gedwing word om planne te maak, maak dit die band net soveel hegter. Moenie wag tot julle voor ’n uitdaging te staan kom nie. Staan op vir jou maat, moedig jou maat aan en vier saam elke mylpaal!

Addisionele bronne: www.imom.com

  • Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie klik hier en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!
  • Hierdie artikel is met die vergunning van INTIEM op Maroela Media geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Summie ·

Hahaha ja, goed gesê Merie Perd, ek dink die artikel het ons almal aan die dink gesit, en nou wonder ons : ” wat gaan of kan ek doen ” mmmmm ja ok ??

Leon ·

As ongetroude sit ek aan die buitekant. Hoeveel kere het ek gesien as die baba by die voordeur ingedra word, vlug die liefde by die agterdeur uit. Dit is nog ‘n punt wat die mense aan moet aandag gee.

Jiem ·

Moenie vir mekaar kwaad bly en gaan slaap nie, bly wakker en baklei!

Chris ·

Wees onvoorwaardelik lief vir mekaar , en probeer om die bybel saam met jou vrou en kinders te lees en te bid . Hierdie same sein werk baie goeie vrugte af
Gods liefde

Maria ·

Ek stem saam jou deur my ondervinding is een van die belangrikste in n huiwelik ingesluit kinders. Dit Here…. Here'”Agape” liefde gee ware kinders” Phileo” liefde en huiwelike “Eros”

Nuut getroud ·

Ek is nou so n jaar en half vir 2de keer getroud, of ons albei, en moet erken my man voldoen aan alles hierbo. Ek kan elk dag op my kniee gaan en dankie se vir die wonderlike man wat God aan my gegee het. Mens leer baie deur die jare en na huwelik van 28jaar leer jy baie en weet om nie weer dieselfde foute te maak nie.

Feite ·

Die liefde binne of buite n huwelik moet onderhou word volgens die tien punte van die skrywer, want anders taan dienslewering teenoor mekaar net soos dienslewering deur Eskom en waterwese aan die verbruikers getaan het. Net soos die verbruiker niks meer met Eskom en waterwese te doen wil he nie, net so sal paartjies se paaie uiteindelik ook maar skei. Dit verg dus aanhoudende onderhoud om die vlam te laat brand en die ligte aan te hou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.