Verbruikersake: Krimpflasie in jou inkopiemandjie

Coca-cola se blikkies en bottels het onlangs ook onder krimpflasie deurgeloop. (Foto: Pixabay)

Verbruikers merk al hoe meer op dat produkte wat hulle gewoonlik koop, se groottes of volume krimp, terwyl die prys daarvan dieselfde bly of selfs styg. Die verskil is gewoonlik nie op die oog af duidelik nie, maar as jy ʼn ouer produk met ʼn nuwe een vergelyk, sal jy die verskil sien. Dit is gewoonlik mense wat ʼn produk vir ʼn resep gebruik wat agterkom dat sjokolade, wat eens 100 g geweeg het, nou skielik net in groottes van 80 g beskikbaar is. Ina Opperman het met die ombudsman vir verbruikersgoedere en dienste gesels oor hierdie nuwe onding, wat kortweg krimpflasie genoem word.

Krimpflasie is wettig solank die regte gewig of volume op die verpakking aangedui word. Dit is egter ʼn probleem omdat die kleiner verpakking net soos die groter verpakking lyk en verbruikers dit nie dadelik raaksien nie. Hulle dink die kleiner verpakking is goeie waarde vir geld, terwyl dit nie die geval is nie.

Volgens die Britse verbruikerstydskrif Which? kom krimpflasie al hoe meer voor omdat verbruikers weens hul dunner beursies meer weerstand bied teen prysstygings. Vervaardigers en kleinhandelaars maak produkte dan liewer ʼn bietjie kleiner as om ʼn prysstyging deur te voer en hou duim vas dat die verbruikers dit nie sal agterkom nie. Van hulle sê ook dat hulle soetgoed in kleiner groottes verkoop weens die krisis met mense wat oorgewig is, maar waarnemers meen dit is steeds meer winsgedrewe.

ʼn Amptelike ondersoek in Brittanje het gewys dat meer as 2 500 produkte die afgelope vyf jaar deur krimpflasie geraak is. Dit sluit vrugte, sjokolade, koffie en toiletpapier in, wat in kleiner verpakkings verkoop word teen dieselfde pryse as in 2012. Goedere soos lekkers, suiker en konfyt se verpakkings het egter nie net gekrimp nie – die pryse daarvan het ook gestyg.

Na berig word sê vervaardigers hulle moet moeilike besluite neem wanneer die koste van grondstowwe styg en moet dan hul bestanddele of groottes verander of hoër pryse vra. Verbruikersnavorsing het gewys dat krimpflasie die minste skade aan hul handelsname aanrig.

Krimpflasie in SA

Volgens die ombudsman se woordvoerder is die kantoor bewus van die praktyk om produkte in kleiner groottes te verkoop, maar geen ondersoek is sover daarna ingestel nie. “Van ons personeel het dit al self opgemerk en dit is al in die media genoem dat vervaardigers die gewig en grootte van sommige produkte verminder sonder om die prys dienooreenkomstig te verlaag of die verbruiker in kennis te stel, behalwe om dit op die verpakking aan te dui. Soms word die prys selfs verhoog wanneer die produk krimp. Vervaardigers en verskaffers stel nie verbruikers in kennis van die verandering of die feit dat hulle minder kry vir meer geld nie.”

Die ombudsman se kantoor sê sjokolade, bevrore groente, voorafverpakte vleis, seep, tandepasta en sommige ontbytgraankosse is al deur krimpflasie geraak. Terwyl die kantoor nie feitelike inligting kan verskaf oor waarom krimpflasie in Suid-Afrika gebeur nie – omdat hy nog nie self ondersoek ingestel het of klagtes daaroor ontvang het nie – is dit waarskynlik daaraan toe te skryf dat produksiekoste styg en winsmarges behou moet word.

Kan jy kla oor krimpflasie?

Verbruikers kan beslis kla oor krimpflasie, aangesien die ombudsman se kantoor meen dit word nie gedoen in ooreenstemming met die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

Volgens artikel 41 van die wet wat handel oor valse, misleidende of bedrieglike voorstellings, mag die verskaffer nie direk of indirek ʼn valse, misleidende of bedrieglike voorstelling oor ʼn wesenlike feit aan ʼn verbruiker maak nie, versuim om ʼn wesenlike feit bekend te maak indien die versuim op bedrieglikheid neerkom nie, of versuim om ʼn klaarblyklike wanbegrip by die verbruiker reg te stel nie.

Artikel 48, wat handel oor onbillike, onredelike of onregverdige kontrakterme, bepaal ʼn verskaffer mag nie aanbied om goedere of dienste te verskaf, dit verskaf, of ʼn ooreenkoms aangaan om dit te verskaf teen ʼn prys wat onbillik, onredelik of onregverdig is nie of teen terme wat onbillik, onredelik of onregverdig is nie.

“Indien vervaardigers wel die groottes van produkte verminder en dieselfde prys daarvoor vra sonder om verbruikers daaroor in te lig, kan dit beskou word as ʼn misleidende en onbillike praktyk. Vervaardigers kan aanvoer dat die verpakking die kleiner grootte aandui en die verbruiker inlig, maar die vraag is of dit voldoende is om aan die bepalings van die wet te voldoen,” sê die ombudsman se woordvoerder.

Wenk:

Maak seker dat jy nie ʼn slagoffer van krimpflasie is nie. Kyk na die eenheidsprys van die verskillende groottes om seker te maak jy kry die beste waarde vir jou geld.

Kla hier:

Jy kan oor krimpflasie kla op die ombudsman se webwerf by http://www.cgso.org.za/, of jy kan die oproepsentrum by 0860 000 272 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

E.K. ·

Mens het krimpflasie al lankal gesien by sjokoladeplakke wat al kleiner word. Kyk maar bakke roomys – was altyd twee liter en nou sien ek baie is 1,5 maar die bak LYK dieselfde grootte so mens kom dit nie dadelik agter nie. Net effens platter. Verbrands! “n Sekere soort toiletpapier het altyd in pakke van tien gekoop nu is dit 8 rolle per pak en afverteer huld it kammig as “New” of so-iets, maar prys is dieselfde! Weet rregtig nie of dit gaan help om te kla by die Ombudsman nie.

Botterblommetjie ·

Eerstemaal toe ek dit opmerk was met tandepaste…. daarna tjokkies en nou die koeldrank. Daar seker nog baie voorbeelde. Was nogal skokkend toe ek my badkamer stoorkassie regpak en op ‘n ou tandepaste afkom. Die nuwes het aansienlik gekrimp. Wat gaan dit werklik help om te kla? Daar was destyds ‘n boete opgelê oor brood…. Waar daardie geld heen? Moes dit nie die verbruiker verligting gegee het nie? Ons sal ‘n bynaam kry van klaekous maar ‘n van, als verniet…

Pieter ·

Ek dink almal aanvaar dat inflasie gebeur, en sal tevrede wees met ‘n redelike verhoging van die pryse op ‘n jaarlikse basis. Wanneer die verhoging onredelik raak, begin ons krapperig raak. Verhogings van 30/40% is onaanvaarbaar, tensy daar redes voor is wat onvoorkombaar is (bv bestandele wat se prys onbeheersd geklim het).
Waarmee ek ‘n groot probleem het is wanneer dit op ander maniere soos hierdie gedoen word, en dan word ‘n lawwe verskoning voorgehou, soos Coke nou gedoen het. Dit wys my net dat die maatskappy nie op ‘n openlik en eerlike manier wil geld maak nie, maar onderduims sal konkel om groter winste te maak.
Soos hierbo is sjokolades, tandepasta, ens betrokke. Hondekos het gesak van 10kg na 8kg, en is nou 7kg, en die prys daarvan het gestyg.
Ek kan nie veel daaraan doen nie, maar ek sny bloot die produkte uit my maandelikse inkopies wanneer ek dit agterkom. Dis maar my persoonlik protesaksie.

jan_alleman ·

waar ek krimpflasie eerste opgemerk het was met brood , brode badag is baie korter as brode van jare gelede en honderdmaal duurder

Ook gevang ·

Ek is ook gevang met 6x2l koeldrank wat 6×1,5l was. Die 1.5l bottel is gerek om bykans die indruk te skep van die lengte van ‘n 2l bottel. Heelwat vroeër is al begin met suiker- en meel se 10kg sakke teenoor 12,5kg. So dis ‘n ou slenter wat nou egter meermale en weier versprei op produkte toegepas word. Een van die dae sal water- en elektrisiteit ook deur mislike palityte verkoop word op ‘n Afrikastandaard waar die eenhede kleiner sal wees as die huidige.

julius ·

Nog ‘n produk is geblikte weense worsies .Daar is nou een worsie minder in die blik en volgemaak met pekel water . Hy weeg nog dieselfde met meer water en minder worsies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.