Verbruikersake: Vervaldatums op voedsel kan jou pootjie

vervaldatum

Foto: Blogs.extension.iastate.edu

Vervaldatums het skielik weer in die kollig beland en selfs tot onlus gelei nadat gemeenskapslede winkeliers daarvan beskuldig het dat hulle kos verkoop waarvan die vervaldatums al verstryk het. Dit word van winkels verwag om seker te maak dat net kos waarvan die vervaldatum nog nie verby is nie op hul rakke beskikbaar is, maar dit raak minder eenvoudig wanneer produkte teen baie laer pryse verkoop word. Ina Opperman verduidelik meer oor datums op kos.

Datums op kos kan aangedui word as best before, sell by of use by (gewoonlik net in Engels), maar al hierdie terme beteken net een ding: moenie die produk eet ná die datum wat aangedui word nie, volgens die adviesnota van die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste oor verbruikers se regte met betrekking tot vervaldatums. Nie een van hierdie terme se definisies dui daarop dat die kos jou kan siek maak as jy dit na die vervaldatum eet nie, maar fokus eerder op die bemarking en gehalte van die kos.

Rakleeftyd is nie die enigste aanwyser van hoe lank voedsel veilig gehou en gebruik kan word nie. Gepasteuriseerde melk kan byvoorbeeld vars bly vir vyf dae ná die vervaldatum indien dit voldoende koud gehou word, maar as melk reeds vol skadelike bakterieë is, maak die vervaldatum nie juis saak nie. In lande soos Brittanje word vervaldatums beskou as ou tegnologie wat eerder nie gebruik moet word nie en in die Noorweegse Inmaakmuseum is daar blikkies sardientjies wat ’n honderd jaar oud is en nog veilig is om te eet.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 55 van dié wet bepaal dat verbruikers die reg het om te verwag dat produkte, wat kos insluit, veilig en van goeie gehalte en bruikbaar is met inbegrip van die verskillende datums daarop, terwyl artikel 56 bepaal dat daar ’n versweë waarborg van gehalte op produkte soos kos is, dat dit voldoen aan die vereistes van artikel 55. Jy kan kos wat nie voldoen aan artikel 55 nie, teruggee en die handelaar moet dit omruil of jou geld teruggee.

Verder bepaal die wet in artikel 60 dat produkte, soos kos, herroep kan word en in artikel 61 dat winkels aanspreeklik gehou kan word vir skade wat deur produkte veroorsaak word. Die aanspreeklikheid vir skade wat deur besmette kos veroorsaak word, hou natuurlik nou verband met die datum daarop. Indien jy egter kos voor die vervaldatum koop en dit ná die vervaldatum eet en siek word, sal dit vir jou rekening wees en jy sal geen eis teen die winkel hê nie.

Die wet maak dit egter volgens die ombudsman se adviesnotas ook duidelik dat winkels nie meer die skuld vir produkte wat nie betyds van die rakke verwyder is nie, op die skouers van die verskaffer kan pak nie, aangesien die wet voorsiening maak daarvoor dat die winkel aanspreeklik is vir alles wat sy werknemers of agente doen (of in hierdie geval, nie doen nie).

Die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels

Regulasie 146, wat uitgevaardig is ingevolge die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels, bepaal dat voedselprodukte ’n datum moet dra wat dui op hoe gou dit verkoop en gebruik moet word. Dit word gewoonlik aangedui deur die woorde best before of best before end of.

Die woorde sell by of display until dui die laaste datum aan waarop die kosproduk vir verkoop aangebied kan word en laat ’n redelike tyd op jou kombuisrak toe. Use by dui aan dat jy hierdie kosproduk teen hierdie datum moet eet nadat jy dit volgens die aanwysings op die verpakking gehou het.

Daar is egter geen wetgewing wat aandui wat hierdie datums vir verskillende kossoorte moet wees nie. Dit word aan die vervaardiger oorgelaat om op die datum te besluit. Dit is ook onwettig om enigsins aan hierdie datums te peuter of dit te verander.

Gesondheidsinspekteurs kan monsters neem om te laat analiseer en indien toetse wys daar is fout met die kos, kan daarop beslag gelê word, of die vervaldatum al verby is of nie.

Onthou!

  • Use by-datums word gewoonlik op kos gebruik wat vinnig sleg word, soos vleisprodukte en klaarbereide slaaie. Moenie dit ná hierdie datum eet nie, al lyk en ruik dit nog goed. Maak ook seker dat jy die aanwysings volg oor hoe om dit te verkoel sodat dit vars genoeg bly om te eet tot die datum wat aangedui word. Maak ook seker of hierdie kos gevries kan word en indien wel, vries dit dadelik.
  • Best before-datums word gebruik op ’n verskeidenheid bevrore, gedroogde, ingemaakte en ander voedsel en is meer ’n aanduiding van gehalte as van veiligheid, behalwe op vars eiers. Die datum is ook net van toepassing indien die kos reg gebêre word.

Kla hier:

Verbruikers kan by die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste kla oor vervaldatums op voedsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

marous ·

Gesondheids inspekteurs se vervaldatums is lankal verby …die land s’n ook .

Piet Pompies ·

Ons het geleer dat jou neus die beste orgaan is om te bepaal of enige voedsel wel nog ge-eet kan word. Dit geld vir blikkies kos wat nog binne die veilige periode is. Voedsel wat verby hulle verval datums is word nie ge-eet. ‘n Familie lid van ons werk vir ‘n groot vervaardiger van geblikte kos en al hulle produkte in hulle pakhuis wat verval het word vernietig, dit word glad nie geskenk. Tog eindig van hierdie produkte van hulle nog steeds op die winkel rakke. ‘n Slegte reukie by neus gee jou nie net ongerief maak ook ‘n slegte reukie van agter. Betaal met geld, nie met jou maag, daardie winskopie het ‘n prys.

Hans ·

Ironies dat baie van die sogenaamde “ou kos” in groot maat gebuit is en weggedra en nie deur die ” besorgdes” in die winkel vernietig is nie. Vermoed hier is n ander agenda wat deur ‘n onafhanklike komissie ondersoek behoort te word.

Karolis ·

Al die voedsel en/of blikkies kos wat se datum verval, kan nog steeds binne ‘n redelike tyd goedgesind aan die sopkombuise geskenk word. Hierdie blikkies se inhoud kan nog maande en selfs jare lank goed wees. Die voedings waarde raak effens minder (dit is nou as jy baie tegnies raak) maar ‘n honger maag kyk nie na die tegniese gedeelte van voedsel nie.

Casper Labuschagne ·

Met die uitsondering van melkprodukte beteken dit geensins dat voedsel na die vervaldatum onbruikbaar is nie. Die vervaldatum dui meestal die datum aan waarna produkte nie meer optimaal is wat smaak, kleur, voorkoms en tekstuur betref nie. Maar feitlike elke produk wat verval het, word geskenk aan maatskaplike instansies waar dit baie dae (of selfs weke) daarna steeds 100% geskik is vir menslike gebruik.

GM ·

Dit sal wonderlik wees as sulke produkte geskenk kan word. Ek weet ongelukkig van ‘n paar plekke wat produkte vernietig, al makeer dit absoluut niks nie. Soms is daar iets verkeerd gedruk op die VERPAKKING en die produk makeer absoluut niks nie. So nou en dan sien van die mense darem rede in en kan oortuig word om hondepille (bv.) aan ‘n shelter te skenk, ander kere weer, vernietig hul net die produkte.
Dis vreeslik hartseer, maar op ‘n manier seker ook verstaanbaar as mens vanuit ‘n besigheidsperspektief daarna kyk.
En kyk net waar het ‘free handouts’ (op ‘n permanente basis) ons land gebring.

AmY ·

Ek het al baie keer kos oor die vervaldatum geëet, en niks daarvan oorgekom nie.
Daar is natuurlik produkte waarvoor mens versigtig moet wees.

Phillip Groen ·

Weereens ‘n wet wat sonder behoorlike oorweging ingestel is en op die ou einde geen voordeel bring nie.

Jy kan nie waardes (of integriteit) met wetgewing probeer afdwing nie. Geen maatskappy wat sy sout werd is, of wat se reputasie vir hulle iets beteken nie, sal voedsel verskaf wat nie meer geskik is vir gebruik nie.

Al die eeue vantevore het die verkoper se hoë agting vir sy/haar goeie naam en ingegriteit verseker dat die verkoper SELFREGULERING toegepas het. In die dae toe die “bottomline” nie al was wat besigheids besluite beinvloed het nie.

Met al die invoer en vervaardiging van goedkoop produkte en die regering se versuim om dit te probeer bekamp het al wat ‘n Jan Rap en sy maat nou ‘n invoerder en/of vervaardiger van produkte van twyfelagtige gehalte geword. Vir diesulkes is dit juis die “bottomline” waaroor dit alles gaan en staan kwaliteit ver agter in die ry waar kostebesparing (deur swak gehalte) en volumes heel voor staan.

Die verval datum op n produk beteken vir hulle niks nie, en “Re-Label” hulle dikwels net die produk met ‘n nuwe “Best-Before” datum.

Aan die anderkant van die probleem weer veroorsaak belaglike wette dat mense maniere vind om dit te omseil, want sommige van die vervaldatums is regtig belaglik.

Ironies genoeg is dit juis die ANC se gros van kiesers wat die ergste onder sulke skurke deurloop want diesulkes se besigheid word meestal in die tradisionele swart woonbuurte bedryf.

IK ·

Wanneer die deksel of blik geswel het, gooi weg maar maak eers oop anders beland dit in hande wat nie die gevaar besef nie.

Peens ·

Blikies vis wat geroes is binne in kan mens dood maak , so n sper tyd perk op kos is lewens belangrik

Eli ·

Wat van mushrooms wat geen datum op het is dit wettig vir my moet Alle produkte verval datum op he die eienaar van OK se daar nie wet dat da datum op moet wees

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.