Vertellinge van Viëtnam

Viëtnam-oorlogsgedenkteken. Foto: Hu Totya/Commons.wikimedia.org

Deur Pierre Massyn

As jy ooit in Washington in die VSA kom, besoek gerus die Viëtnam-oorlogsgedenkteken. Op ’n reuse-swart marmermuur is daar digby 60 000 name uitgegraveer. Dis die name van al die Amerikaanse soldate wat hul lewens verloor het in hul land se oorlog in Viëtnam. Nog derduisende ander is permanent vermink, het ledemate verloor en is lewenslank getraumatiseer deur hul deelname aan hierdie bitter stryd.

Wat was die stryd? Dit was in wese ’n ideologiese stryd teen die Kommunisme. Die Viëtnam-oorlog was Amerika se duurste, langste en mees vernederende oorlog. Amerika (VSA) het algaande meer verstrengel geraak in Viëtnam ná Frankryk se onttrekking en as ’n uitvloeisel van die Koue Oorlog.

Tot met sy onttrekking in 1973, het Amerika vir sewentien jaar lank probeer om die Noord- Viëtnamese Leër (NVA – North Vietnamese Army) en hul Suid-Viëtnamese strydbroers, die Viëtkong-guerrillavegters (beide gerugsteun deur Rusland en China), te verslaan. Behalwe vir die Amerikaanse lewensverliese, sterf byna twee miljoen Noord- en Suid-Viëtnamese – vegtendes en burgerlikes.

Ja, in ’n sekere sin was die Vietnam-konflik ’n burgeroorlog, met Amerika wat hom aan die Suide se kant – The Army of the Republic of Vietnam (ARVN), met Saigon as bevelshoofkwartier – geskaar het, terwyl Rusland en China wapentuig en materiaal aan die NVA, met Hanoi as hul hoofstad, verskaf het.

Tot vandag toe dra Viëtnam-veterane die sielkundige letsels van die oorlog. Hollywood het daarin geslaag om dit treffend uit te beeld in rolprente soos The Deer Hunter, Born on the Fourth of July en Platoon.

Amerika was in twee geskeur deur die oorlog en toenemende openbare druk teen die oorlog het ’n betekenisvolle rol gespeel in die onttrekking uit Viëtnam, wat ’n oorwinning aan Noord-Vietnam en die Nasionale Bevrydingsfront (National Liberation Front [NLF], gestig in Suid-Viëtnam) beteken het[1].

Amerika word verdoem oor insidente soos die Mỹ Lai-slagting en sy gebruik van napalm en Agent Orange, wat onberekenbare skade aan die omgewing aangerig het. Op die slagveld sou die gewone Amerikaanse soldaat (GI) enige dag sy M16 wou veruil vir die bykans onvernietigbare AK-47 of selfs die SKS-karabyn. Ons weet vandag die Viëtkong (NLF) het aan geheime selle behoort en mekaar gemotiveer en moreel onderskraag. Maar wat van die gehalte van die deursnee Viëtnamese voetsoldaat?

Omtrent tien jaar gelede wag ek en Tisha op Frankfort-lughawe op ’n aansluitingsvlug na Parys. Langs ons is ’n egpaar. Hul aksente verraai hulle: hulle is Amerikaners. Al Allen en sy vrou, Flo, van Monterey in Kalifornië is óók op pad na Frankryk. En so word ’n vriendskap tussen mense van totaal verskillende agtergronde gebore, en wat tot vandag toe nog voortbestaan.

Ons gerestoureerde huis is in Le Gers, nie te ver van Al-hulle se kliphuis in Auvergne nie. Oor ʼn hele paar bottels rouge en plats confit de canard ruil ons notas uit. Al kruip geleidelik uit sy dop. Hy is ’n dokter. En ’n veteraan van die Viëtnam-oorlog. Ek kry hom aan die praat namate ek sy vertroue wen.

“Het jy Everything We Had gelees, Al? Of A Rumour of War en 365 Days?”

“Ja, 365 Days… Ek ken die skrywer, dr. Ronald J. Glasser.”

Al het sy graad aan die hoogaangeskrewe Universiteit van Princeton verwerf.

“Dit het so gewerk, Pierre: Almal moes eenvoudig in Nam gaan diens doen. Die meeste van ons het gegaan. Party het diensplig ontglip deur na Kanada en Meksiko uit te wyk. Jy weet seker dat Cassius Clay, oftewel Mohammed Ali, eerder tronk toe sou gaan as om in Viëtnam te gaan veg. Maar ek wou nie teen die stelsel baklei nie. Ek wóú gaan. Ek is ’n goeie Amerikaner. Ek sluit my toe by die staande Amerikaanse leër aan. Omdat ek ’n dokter is, word ek vinnig ’n kaptein in die mediese korps.”

Die normale dienstydperk in Viëtnam was een jaar. Maar Al het genoeg tyd om met ’n Viëtnamese meisie te trou. Met sy terugkeer na die VSA meld dr. Allen hom aan vir die uitmergelende Ranger-verkenningskursus – wat hy met vlieënde vaandels slaag. Hy spits hom ook toe op praktiese navorsing in dermatologie.

Hy keer vrywillig terug na Vietnam vir ’n tweede dienstermyn. En nou vra ek hom die vraag waaroor ek al so lank wonder:

“Wat is dit in die Oosterse psige wat hulle sulke formidabele vegters maak? Wat is daardie eienskap, die X-faktor?”

Sy antwoord is klinkklaar, op die punt af:

“Jy moet verstaan die Oosterling se konsep van tyd is anders as ons Westerlinge s’n. By hulle bestaan daar ’n soort tydloosheid. Ons Amerikaners sal vir onsself doelwitte stel en ons kapot werk om dit te bereik. As dit nie werk nie, sal ons tou opgooi en aanvaar dat ’n bepaalde doel onuitvoerbaar is.

“Maar nie die Viëtnamees of Oosterling nie. Die Oosterling beleef sy emosies op ’n vlak wat vir my en jou vreemd is. Hulle het ’n toleransievlak wat grens aan ’n eindelose verdraagsaamheid. Hulle is stoïes en verduur feitlik enige iets met ’n bepaalde soort gelatenheid. In Viëtnam het ons hulle geslaan met alles wat ons het, van napalm tot lugaanvalle en bombardemente en grofgeskut. Álles. Hulle het verliese gely wat enige weermag op aarde sou geknak het. Skrikwekkende verliese, kan ek jou nou sê. Maar hulle kon eenvoudig langer as ons uithou.”

“Die Viëtkong word so geïndoktrineer dat hulle die demokratiese, kapitalistiese en imperialistiese Weste, soos deur die VSA versinnebeeld, verafsku en haat. In hul Eed van Eer wat elkeen moes aflê, belowe die Viëtkong-soldaat, onder meer, ‘Dat ek tot my laaste asemteug teen imperialisme, kolonialisme, Viëtnamese verraaiers en onderdrukkers sal veg. Ek sweer dat as ek deur die vyand gevange geneem word, ek selfs onder onmenslike marteling geen inligting sal verklap nie’.”

Inmiddels bereik Al Allen die rang van volle kolonel in die leër. Maar die weerstand teen Amerika se betrokkenheid in die oorlog bou al hoe hoër en hoër op. Ikoniese sangers soos Bruce Springsteen en Joan Baez gooi hul gewig agter die anti-oorlogbeweging in, en sentiment vir onttrekking uit Indo-China skiet die hoogte in.

Betogings, veral op die kampusse, lê Amerika lam. Daar word op die GI’s (Government Issue), oftewel die Amerikaanse soldate, gespoeg wanneer hulle getraumatiseerd na die VSA terugkeer. Gesindheid en dissipline daal so laag dat daar bereken word tot 34% van Amerikaanse soldate in die oorlog marijuana of cannabis (cannabis) rook . In teenstelling hiermee vereis die NLF totale opoffering en vereenselwiging met hul Maoïstiese ideologie. Die party móét oorleef en die individu moet alles gee vir die groter ideaal. Persoonlike kwellinge, begeertes, en behoeftes word as onbelangrik beskou. Wanneer hulle nie veg nie, word die NVA en die Viëtkong aan intensie indoktrinasie blootgestel en kapitalisme en demokrasie as vyande van die volk uitgebeeld.

“Maar, met al die wapentuig tot hul beskikking, moes Amerika – die sterkste moondheid op aarde – die NLF reeds vroeg-vroeg die nekslag toegedien het?”

Allen se verklaring is eenvoudig: “They’ve outlasted us. Dis hul mentaliteit. Ons het hulle soos vlieë afgemaai, maar een ding was duidelik: môre staan hulle weer op en doen dieselfde ding van voor af. Ons in die Weste verstaan nie hoe hul koppe werk nie. Ek kon iets van hul denkwyses begryp. Dit was my werk om Viëtkong-gevangenes te ondervra om hul vrees- en weerstandvlakke te bepaal.”

Hy behoort te weet waarvan hy praat. Allen was Amerika se Hoof van Mediese Intelligensie in hierdie oorlog waarvan Amerika liewers sou wou vergeet. Frankryk het hom gehelp om sy kop skoon te kry.

  •  Pierre Massyn is ’n voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Oorlogsgraftekommissie en onafhanklike navorser en skrywer.

Bronne:

Viet Cong Fighter, Gordon L. Rothman

A Rumour of War, Phillip Caputo

Everything We Had: An Oral History of the Vietnam War, Al Santoli

365 Days, (Dr.) Ronald J. Glasser

Voetnota:

[1] Die NLF het swaar op die NVA gesteun om sy ideologiese doelwitte te bereik. Noord-Viëtnam, onder Ho Sji Minh, sou aan die ander kant nooit die NLF toelaat om enige rol in ’n verenigde Viëtnam te speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stephan de S ·

Dankie vir die inligting uit die bek vd perd.
Die Viëtkong is ook grootliks bevoordeel deur die vegterrein…..ideaal vir querilla-oorlogvoering(vgl die plat Vrystaat vlaktes sonder skuiling waarin ons ou voorsate moes veg), die feit dat hulle in hul eie bekende omgewing ,mense,taal,gewoontes en lojaliteite geveg het,dat hulle n duidelike doelwit voor oë gehad het . Die GI s het dit ontbreek …….hul moes n oorlog veg weg van hul huis, n oorlog waarvan hul die doel nie mooi verstaan het teen die agtergrond van n diep verdeelde Amerikaanse volk met honderd-en-een verskillende sienings.
Net so erg was die Amerikaanse magte gedurig onderwerp aan politieke opdragte wat veral die Lugmag erg gekortwiek het terwyl die politici gedurig die oor gedraai het na die binnelandse stemme (stemvee) en buitelandse opinies…….iets wat die Viëtkong nie aan bande gelê het nie.
Die invloed wat hd oorlog op die Amerikaanse siel gehad het,het ook hul betrokkenheid by die Angola-oorlog bepaal……hul was ideologies so verdeel en so bang om vir die internasionale opinie dat hulle nie n rol kon speel in die laaste kommunistiese “geïnspireerde”/gesteunde oorlog…….en moes die RSA alleen die pot roer en die blaam dra.
Die oproep vd herinneringe vd Viëtnam en Angolaoorloeë laat n mens opnuut besef die bederflike invloed van daardie bose ideologie.

Netta ·

Interessant. Ek sidder egter oor my eie land se jong manne wat in SWA oorlog gemaak het en ondertussen ou manne geword het en nie kan vergeet nie.

Essa ·

Ja Netta. Dit is hartseer. En so min begrip vir hulle – net maar ons aan hulle sy om nou en dan ‘n kykie in die donker te kry en te moet luister terwyl jy wens jy hoef nie.
Goeie artikel Pierre, oorlog bly onmenslik ongeag die skaal daarvan – of dit Amerikaners in Viëtnam is of ‘n bos-oorlog in Suider-Afrika.

alwyn burger ·

Amerikaanse soldate us vreesaanjaend.
Maar net in die ” movies”. In regte oorloë is dit maar ñ gesukkel!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.