Video: Aardklop-feesgangers in hul noppies oor Bult-terrein

Die Wasgoedlyn vermaak feesgangers (Foto: Facebook)

Die Wasgoedlyn vermaak feesgangers (Foto: Facebook)

Die Aardklop Nasionale Kunstefees het Dinsdag amptelik in Potchefstroom afgeskop en feesgangers is dit eens: Die terrein vir stalletjies op die Bult is beslis een van die elemente wat van dié fees ʼn treffer maak.

Maroela Media het Woensdag tussen feesgangers ingevaar om te hoor hoe hulle voel oor die feit dat die fees toe nié gesneuwel het nie, en veral ook oor die feit dat die fees weer teruggekeer het na sy “wortels” op die Bult.

Alexa Strachan, Aardklop-feesbestuurder, het vroeër aan Maroela Media gesê dié fees is weer na Bult geskuif om “die ou magic” daarvan terug te kry.

“Een van die belangrikste besluite wat die nuwe direksie van die fees geneem het, was om die feesterrein terug na die Bult te skuif. Dit was vir jare sinoniem met Aardklop en ons het geweet vir die nuwe fees om te werk, moes ons weer die fees se hartklop na sy mense terugneem,” het sy gesê.

Feesgangers word vermaak met 'n musiekverhoog met talle kunstenaars (Foto: Facebook)

Feesgangers word vermaak met ‘n musiekverhoog met talle kunstenaars (Foto: Facebook)

Strachan meen die fees het ook al wyd positiewe reaksie van feesgangers ontvang. “Sedert die fees Dinsdag begin het, blyk dit dat dit wel toe seker een van die beste besluite is wat ons kon neem. Ons kry soveel goeie terugvoer van feesgangers oor die feit dat die Bult weer deel is van Aardklop. Stalletjiehouers sê ook vir ons dat dit weer ‘reg’ voel en dat hulle baie gelukkig is met die skuif.”

“Dis wonderlik om weer onder die koel akkerbome op die Bult terug te wees. Hier is net ʼn ander gees dié kant van die dorp,” het ʼn feesganger gesê.

“Potchefstroom is beslis die plek om te wees. Ons is dankbaar vir diegene wat vir die fees baklei het, en nog meer dankbaar dat ons weer op die ou terrein kan feesvier soos dit hoort,” het ʼn ander opgemerk.

Benewens feesgangers se vriendelike opmerkings oor die terrein, is kaartjies vanjaar ook spotgoedkoop. ʼn Dagkaartjie vir toegang tot dié terrein sal jou ʼn skamele R20 uit die sak jaag terwyl ʼn weekkaartjie R60 kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Potjiesdorp ·

Wel die Bult is nog altyd die regte plek vir Aardklop. Goeie atmosfeer daar. Die vorige terrein was wel groter maar baie onpersoonlik dink ek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.