Waenhuiskrans of Arniston?

massyn-waenhuiskrans-arniston-naambord-2018-12-07

Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Toe die Boere-pioniers die eerste keer Die Grot aanskou het, was hy vir hulle gróót – so groot dat hulle die plek terstond Holkranz genoem het; Holkranz het later Waenhuiskrans geword, want, so het die storie gelui, ’n span osse wat ’n wa sleep, sal met gemak ’n Kaapse draai in die uitgeholde kalksteen kan maak1. Die enigste probleem was dat die naam “Waenshuiskrans” ietwat moeilik van die tong afgerol het as jy Engelssprekend was. En toe gebeur daar in 1815 ’n ding wat alles verander het…

Die jaar 1815 word deur Europese en Britse historici onthou as die jaar van die Slag van Waterloo. Maar in Mei daardie jaar is die Britse troepedraer, die Arniston, van Ceylon (Sri Lanka) op sy terugreis onderweg na Engeland. Aan boord van die Arniston is troepe van die 73ste regiment wat in die Koninkryk van Kandy – die teenswoordige Sri Lanka – ontplooi is. Kaptein George Simpson se missie is om hierdie soldate te repatrieer na Engeland. In elke patriotiese Engelse agterkop brand egter ’n erge beklemming: die spook van Napoleon. Dié loop nog steeds. Engeland het elke weerbare manskap nodig om te kom wal te gooi teen die voortgesette Franse bedreiging. Daar is 378 opvarendes aan boord van die Arniston. Hiervan is 14 vrouens en 25 kinders. Die res is almal seeliede en soldate, waarvan talle gewond was in die sogenaamde Kandiaanse Oorloë.

Die Arniston, ’n driemaster met ’n lengte van 53,8 meter en ’n gewig van 1 498 ton, vertrek op 4 April 1815 uit Port de Galle, Ceylon – die teenswoordige Sri Lanka. Hy2 seil in ’n konvooi van ses skepe onder die leiding van HMS Africaine3 en HMS Victor.

Die seereis verloop relatief voorspoedig, tot op 26 Mei, toe gure weerstoestande die konvooi skepe van mekaar skei. Die Arniston se seile word beskadig. Op 29 Mei bevind die skip hom naby Waenhuiskrans. Daardie dag begaan die kaptein ’n fatale fout met noodlottige gevolge: om 07:00 bespied Simpson land en aanvaar dis Kaappunt. Op grond van onakkurate navigasie-inligting, glo hy hy is reeds óm Kaappunt en gee om 16:30 bevel om die Arniston se rigting van wes na noord te verander, ten einde die eiland St Helena in die Atlantiese Oseaan te bereik! Inderwaarheid was die Arniston op daardie tydstip nog nie eers verby Afrika se suidelikste punt, Kaap Agulhas nie en derhalwe nog steeds in die Indiese Oseaan!4 Kronometers, oftewel tydsaanwysers, was toentertyd nog in hul kinderskoene, daarom was dit destyds baie moeilik om die lengtegraad te bepaal; derhalwe het navigeerders hulle verlaat op gisbestek.5 Simpson het volgens verslae ook nagelaat om dieptepeilings te neem, waarvolgens hy sou kon vasstel dat sy skip toe nog op die Agulhas-bank was.

Foto: Verskaf.

Die gevolge van daardie oordeelsfout is onberekenbaar: Die Arniston strand op 30 Mei op die berugte rif naby Waenhuiskrans. Die ankers wat die desperate seemanne uitgegooi het, kan eenvoudig nie die mag van die meesleurende see weerstaan nie. Op grond van luitenant Brice se advies, besluit Simpson om die gedoemde skip prys te gee en so naby aan die land te laat uitspoel. Dit word een van die grootste skeepsrampe in die Brits-Suid-Afrikaanse seevaart-annale. Van die 378 siele aan boord, oorleef slegs ses manne die katastrofe. Hulle was almal lede van die Arniston se bemanning. Nie ’n enkele soldaat oorleef nie. Die oorlewendes begrawe die slagoffers tussen die duine naby die strand. Tot vandag toe, so word daar gefluister, ontbloot die meedoënlose seewind elke nou en dan die gebeentes van die verdrinkte opvarendes tussen die strandduine so ’n stuk of ses kilometer oos van Waenhuiskrans se sleephelling6.

En nou kry ’n Britse tong skielik ’n eiesoortige begrip van die dorp: “Arniston” is vir ’n Engelsman immers makliker om uit te spreek as “Waenhuiskrans”. Maar ’n Boer het sy taal lief en hy is nie bereid om sy geliefde Waenhuiskrans prys te gee nie. Die uiteinde van die saak is dat die dorp amptelik twee name het: Waenhuiskrans/Arniston, of Arniston/Waenhuiskrans, nes jy hom verkies7.

massyn-waenhuiskrans-kassiesbaai-2018-12-07

Die vissersdorpie Kassiesbaai is in sy geheel tot nasionale monument verklaar. Foto: Verskaf.

Epiloog:

Die Slag van Waterloo vind op 18 Junie 1815 plaas – minder as drie weke ná die Arniston-ramp. Die verskeepte troepe van die 73ste regiment sou Engeland nooit weer sien of dien nie. Hulle het op 30 Mei 1815 aan die Suidpunt van Afrika ’n waterdood gesterf. Hierdie ramp het direk daartoe aanleiding gegee dat die Agulhasvuurtoring op die Suidpunt van Afrika in 1848 opgerig is – sien artikel “Hoe ver lê die Suidste Punt?”, onlangs gepubliseer in Maroela Media.

In Januarie 1982 stel Tubby Gericke en Brian Clarke die posisie van die wrak vas. Hy word tot ’n nasionale monument verklaar – en die bergingspoging word die eerste maritieme argeologiese operasie in Suid-Afrikaanse gebiedswaters wat hierdie eer te beurt val. Skeepswrakke en artifakte soos porseleinborde, wapens, knope van uniforms, embleme en kanonne word ingevolge die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (25/1999) beskerm. In 1816 rig die naasbestaandes van sommige van die slagoffers ’n klein gedenksteentjie op die strand op. Die monumentjie word later verskuif en hou nou wag oor die baai met die swemplek.

  • Pierre Massyn is ’n skrywer, navorser, en amateur-historikus. Hy is ’n seiljagmeester: Aflandig en ook avonturier. In sy nuwe boek, Tweede Wind, vertel hy van sy omswerwinge en lotgevalle. Opgedra aan my makker en vriend Hennie Olivier, saam met wie ek vir 1 500 seemyl die see aangedurf het. Seil sag, ou matroos.

Voetnotas:

  1. Die grot is gevaarlik, soos ek en Graham Pienaar ondervind het! Met hoogwater word hy opgevul en besoekers moet dit vir hul eie veiligheid verlaat wanneer die gety instoot, so nie kan hulle vasgekeer word.
  1. In Engels word na ’n skip as “sy” verwys. In Frans word die manlike vorm gebruik: le bateau. In Afrikaans word die manlike vorm ook gebruik, al het die skip, sikloon, ensovoorts, ʼn vroulike naam.
  1. Die Africaine was ’n Franse Preneuse-klas fregat met 40 kanonne wat op 19 Februarie 1801 deur Engeland buitgemaak is en in haar sy aangewend is. Die Franse vloot het die Africaine in 1810 herower.
  1. Die Atlantiese- en Indiese Oseane se amptelike ontmoetingspunt, soos vasgestel en bepaal deur die Internasionale Hidrografiese Vereniging, is by Kaap Agulhas op die suidpunt van Afrika, nie Kaappunt soos dikwels verkeerdelik beweer word nie.
  1. Gisbestek: In Engels staan hierdie manier van navigeer as “dead reckoning” bekend. Hiervoor gebruik jy die formule: afstand afgelê in ’n bepaalde rigting – gewoonlik ’n kompasrigting – vir ’n bepaalde tyd wat jou dan ’n benaderde posisie op ’n kaart moet gee. Seestrome, waarvan die vloeirigting en krag, wat hul spoed bepaal, destyds nog grootliks onbekend was, het egter hierdie lesings in die vroeë dae van seil geweldig ondermyn.
  1. Die suidelikste kus van Afrika staan nie om dowe neute as ʼn skeepsbegraafplaas bekend nie. Daar lê minstens 120 opgetekende wrakke in hierdie verraderlike waters. Daar bestaan tot vandag toe legendes van skepe wat eenvoudig deur die see ingesluk is.
  1. SJ du Toit vermeld in Spore oor die Overberg (2004) dat die poskantoor die dorp se amptelike naam as Waenhuiskrans beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Daan Erasmus ·

Goeie storie. Gee asb meer stories soos die. Daar is nog baie sulke stories.

John ·

Gaan hou gerus daar vakansie. Die spokerige skeepsmuseum in Bredasdorp is ‘n moet. Struisbaai is ook effe skrikaanjaend want witdoodshaaie broei daar. Die baaitjie van Waenshuiskrans is piepklein maar die blouste van blou op ‘n mooi dag teenoor die wit vissershuisies.

Penellope Jones ·

Struisbaai bestaan gelukkig nie net uit haaie nie.

Snowball ·

Is ja John, die mooiste blouste blou see! En middagete op die Arniston hotel se stoep is elke jaar ‘n moet, al ry ons al die pad van Hermanus af.

Charles ·

MEER hiervan asseblief!
Baie dankie!/ Meer hiervan alstublieft/alsjeblief!
Heel erg bedankt!

Herman ·

Lekker leesstof. Hoe lyk dit met iets oor die spook van uniondale.

Anton Fourie ·

Ek het die artikel baie geniet, dis baie insiggewend en plaas gerus meer sulke artikels in die toekoms, dit verskaf baie interessante leesstof.

Roger ·

Synde dat die meeste families in die Strandveld toendertyd Nederlands en Afrikaans as voertaal gebruik het, is ARNISTON dus beslis eers in latere jare deur veral toerisme-kantore gepropageer. Engels is mos “fancy” vir hierdié bedryf…veral in die nuwe SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.