Werkbare motivering vir 2019 en daarna!

begin-koffie-beker

Foto: Danielle MacInnes/Unsplash.com

Deur Paul Maritz

Veels geluk, jy het dit deur die eerste paar weke van werk gemaak – jy het oorleef! Jy voel dalk soos daardie atlete wat pas deur die lint by die eindstreep gebreek het, net ʼn kortkoppie duskant ʼn wêreldkampioen. Maar dan besef jy dit is reeds middel Januarie! Hoeveel mense in en om die kantoor het nie ná die eerste dag die skertsende grappie “Ek voel ek kort nog ʼn vakansie” gemaak nie?

Beide die vraag en antwoord op hierdie verskynsel kan in een woord opgesom word: motivering. Waarom sien baie mense op na terugkom in roetine? Waarom lê die jaar se take vir baie mense soos ʼn berg voor hulle? Heel moontlik is daar ʼn tekort aan motivering.

Motivering as woord word baie gebruik. Die eenvoudigste definisie sou wees dat motivering dít is wat ʼn mens dryf of druk om nie op te hou nie, maar aan te gaan. Die afrigter langs die atletiekbaan motiveer die jong, rooigesig atleet – daar is die woord weer. Motiveer.

Terloops, “motiveer” kom van die Latynse woord movere en beteken letterlik “om te beweeg”. Motivering is dus daardie iets wat jou aan die gang kry, aan die beweeg kry. Die probleem met motivering is dikwels dat dit slegs vir ʼn kort rukkie werk, of dat dit elke dag minder en minder oortuigend word om jou aan die gang te kry.

As 2019 ʼn suksesvolle werkjaar vir jou gaan wees, sal motivering ʼn deurslaggewende rol móét speel in hoe presies hierdie jaar se resultate op die ou end gaan lyk en daarom is dit nodig om te verstaan wat motivering is. Ja, ek het reeds gestel wat dit etimologies beteken, maar wat behels dit?

Die Amerikaanse skrywer Dan Pink noem dat daar eintlik maar net drie tipes motivering is en dat twee van hierdie drie nie eens werklik effektief is nie.

  1. Die oorlewingsdrang.

Die eerste, mees basiese vorm van motivering, is die wil om te oorleef. Jy sleep jouself net-net betyds uit die bed om die kinders halfnetjies en betyds by die skool te kry en doen wat jy moet doen. Sodat jy ʼn salaris kan kry om te oorleef. Die motivering, die rede om te beweeg, is vir mense wat op hierdie vlak funksioneer, so eenvoudig soos “want ek moet”. Is jy dalk op hierdie vlak? Staan jy maar op, want jy moet? Werk jy maar net omdat jy moet? Dikwels leef mense met hierdie vlak van motivering slegs met die oog op die naweek of die vakansie. Hulle is nie hier omdat dit lekker of belonend is nie. Nee, hulle is hier omdat hulle hier moet wees.

  1. Die wortel en die stok.

Die tweede, dalk meer gevorderde en effens meer moderne vorm van motivering, is ekstrinsieke motivering – algemeen bekend as die wortel-en-stok-motivering. Daar is eksterne faktore wat jou dryf tot beweging, wat jou beweegrede is. Die beste voorbeelde hiervan is sekerlik bonusse. Daar word ʼn finansiële beloning aan ʼn sekere resultaat gekoppel. Bereik jy dié resultaat, kry jy die wortel. Aan die negatiewe kant is daar straf. Bereik jy nie jou teiken nie, is daar ʼn ondersoekpaneel of dissiplinêre verhoor wat op jou wag.

Die skrywer, Pink, noem dat hierdie benadering van stok en wortel in die verlede in baie gevalle effektief was, maar onder baie bepaalde omstandighede. Ekstrinsieke (van buite af) motivering, was slegs effektief as daar ʼn meganiese en voorspelbare verwagting van die spanlede was. Sodra daar van ʼn persoon verwag word om buite die boks te dink, maak die wortel-en-stok-motivering gewoon dat kortpaaie geneem word, en suboptimale prestasie gelewer word.

Ekstrinsieke motivering is ook wetenskaplik bevind om tydelik te wees – dit werk nie vir altyd nie en, in baie gevalle, moet die wortel konstant soeter gemaak word of die stok skerper. Mense verwag al hoe groter bonusse vir dieselfde resultate, of moet al hoe swaarder gestraf word vir dieselfde oortreding.

  1. Intrinsieke motivering.

Daar is maar een manier om waarlik deurlopend gemotiveerd te wees – om konstant aan die beweeg te wíl bly. Eers dán sien ons in ons daaglikse lewe intrinsieke motivering. Jou beweegrede moet van binne jouself kom.

Intrinsieke motivering bestaan uit drie dele: meesterskap, onafhanklikheid en doel.

  • Meesterskap beteken dat jy besef wat jou eie talente en vaardighede is en dat jy dit wil ontwikkel tot meesterskap.
  • Onafhanklikheid beteken dat jy eienaarskap neem van wat jy doen, en dat jy iets nie net doen omdat jy moet nie, maar omdat jy besef dat jou naam daaraan gekoppel word.
  • Doel verwys daarna dat jy deeglik bewus daarvan is dat die werk wat jy doen, op een of ander manier jou gemeenskap verbeter. Die mense om jou se lewens sal op een of ander manier minder volledig wees as jy nie die unieke talente en vaardighede wat jy het, tot hul voordeel aanwend nie.

Vir my kom hierdie hele verduideliking van intrinsieke motivering, motivering wat van binne af kom, neer op een woord: Roeping. Ek glo dat jy nie toevallig is waar jy is nie, ek glo dat jy met ʼn baie spesifieke doel daar geplaas is. En dat jy nie werk omdat jy moet of omdat jy beloon gaan word nie, maar omdat dit jou roeping is – omdat dit jou plig is om die gawes wat jy ontvang het, tot voordeel van jou medemens aan te wend.

Motivering verwys na dit wat jou aan die beweeg kry en motivering is broodnodig, anders sou ons almal maar net staties wees en rondval sonder rigting, oorgelewer aan kragte wat ons in alle rigtings gooi.

Motivering is dit wat ons in ons eie unieke rigting vorentoe laat gaan.

In 2019 gaan jy dalk van tyd tot tyd voel asof jou tenkie nou leeg is, asof jy nie regtig meer kan of wil aangaan nie. Op so ʼn oomblik is dit belangrik om te onthou: jou unieke talente en vaardighede het (as jy dit reg en getrou aanwend) ʼn blywende positiewe invloed op die mense om jou. En jy staan nie net op om te oorleef nie, jy staan op en beweeg met die doel om te floreer en om ander te laat floreer!

Spring weg! Beweeg! Dit is jou roeping!

  • Paul Maritz is die koördineerder vir Solidariteit Jeug

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Farmer Brown ·

Baie leker leesstof , baie dankie.
Die artikel het my laat besef dat dit ‘n seening is om jou drome te kan jaag.
Hoeveel van ons moes al geleenthede van die hand wys as gevolg van skuld .
Ons drome word op ys gesit tot ons finansieel dit kan bekostig , en daardie dag kom nooit nie.
Daarom moet ons die heug laat droom , hoe groter hoe beter, want hulle het nog nie huisverbande , gesinne of verantwoordelikhede nie.
Die slegste advies vir ‘n 20jarige is om te bele in eiendom , dan verval die kind in slawerny van jonk af.
Die ou mense moet besef , as jy dood gaan met jou eiendome op jou naam en geld in jou bank , dan sal jy 40% van jou boedel verloor tussen die belasting en kurator.
Dus , deel asseblief jou besitins uit voordat jy doodgaan , anders gaan jou kinders weer vir jou huis betaal wat jy lankal reeds klaar betaal het.
Enige goei ouer bery voor vir sy kind, dan lewe jy in die toekoms in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.