Witmanskoors en VVV’s in die Amasones

amasones-pierre-massyn

’n Mens sal gereeld soortgelyke tonele langs Amasone-rivier in Suid-Amerika sien. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Ek het met die laaste lig van die tropiese son van die rivierboot in die grootste rivier ter wêreld geduik. Die Amasone. Majestueus en misterieus.

Die son sak vinnig hier in die trope. Ons was in ’n klein baaitjie, naby ’n Indiaanse statjie. Daar was vyf van ons, Padre Manuel da Gama, die Katolieke priester, twee bleekgesigte, ek en ’n Duitser wat homself Christof genoem het en twee halfwas-Brasiliërs.

“Helicóptero? Satélite? Objeto desconhecido?” het ons die laaste uur heeltyd in die neerdrukkende hitte bespiegel. Ek het hier en daar ’n Portugese woord gesnap. Portugees word net in Brasilië op die Suid-Amerikaanse vasteland gepraat – die res is Spaans en dis te dankie aan die Verdrag van Tordesillas, toe Pous Alexander die Sesde in 1494 besluit het watter supermoondheid van destyds kry watter stuk aarde.

Ek het nou meer Portugees verstaan as twee maande vantevore toe ek en Christof op Parintins op die suidoewer van die Amasones, net duskant die rivierstad Manaus, van die katamaran wat ons baie seemyle stroomop in Bélem by die rivier se mond gehaal het, weer voet aan wal gesit het.

Vader Manuel bring die Woord na bosbewoners vir wie konsepte soos elektrisiteit en verkoeling geen betekenis het nie. In die oerwoud het geld geen waarde – nie vir mense wat nog aan die Steentydperk vasklou en wat lewe van visvang, kleinwild en af en toe ’n aap of ’n luidier nie.

Ons het die voorwerp eerste keer gesien waar hy net bo die rand van die oerwoud hang. Dit het gelyk of hy met so ’n groenblink skynsel omkring was. Ons het stadig in die magtige rivier afgevaar. Toe sweef die vreemde skyf daar, direk bokant die water. En hy volg ons oor die kronkelende bruin massa, so van ’n afstand van sowat 500 meter.

Ons volg die kronkelstroom van die bruin water, en die ovaalvormige onbekendheid luier vir etlike minute nog steeds daar. Toe, binne ’n oogwink, swiep die vreemdheid weg na die horison – waar hy vir ’n oomblik hang, kompleet asof hy huiwer. Toe verskiet hy teen ’n duiselingwekkende spoed na die hemeltes, om buite ons sig te verdwyn.

O que poderia ter sido? O que você acha que era?” (Wat dink jy was dit, Pedro?) Hulle het my Pedro genoem. Ek kon Vader Manuel nie antwoord nie, want ek het nie geweet nie. Ek weet net vyf nugter, rasionele mense het almal dié verskynsel gesien. Ek was uiteindelik sowat vier maande in die Amasones. En elke nou en dan hoor ek stories van geheimsinnige ringvormige brandmerke wat die oerwoudbewoners in ooptes in die reënwoud bemerk.

Feitlik onmiddellik pak ’n vreemde lighoofdigheid my beet. Ek loop nie, ek “sleep” myself rond op die rivierboot. Dit voel kompleet of my siel my liggaam verlaat het en hier êrens bokant my dryf. Ek beleef die vreemde ervaring dat ek besig is om te smelt. My bene voel soos rubber. Met die grooste inspanning haal ek my réde, oftewel hangmat (uitgespreek hed-gee) en bars uit in ’n koue sweet. Die nag slaan vinnig toe. Dit begin reën soos dit net in die Amasone-woud kan reën. Om te eet, is buite die kwessie. Dis donker. Dis nat. Ek bibber en beef so groot soos ek is. Ek is naar en het diarree. Die réde hang aan die dek so ’n handbreedte hier bokant my. Vader Manuel skuifel na my toe waar ek swak lê en sidder. Die Indiaanbloed loop dik in sy gene. Jy kan dit sien in die sterk ken, die hoë wangbene, die besliste mond en die strooierige, gladde, raafswart hare.

Die priester plaas sy hande op my kaal bo-arms, toets my koors. ’n Europeër sou sy hand op my voorkop gehou het, maar dis die oerwoud hierdie en hier geld ander reëls.

Febre dos estrangeiros”, verklaar hy. Witmanskoors. Die implikasies hiervan tref my nie onmiddellik nie. Ek voel so ellendig dat ek eintlik nie omgee of ek sterf nie. En vreemdelinge of gringos soos ek gaan jaarliks by die dosyne dood van witmanskoors.

Dit word die langste nag van my lewe. Louwarm reënwater stroom deur ’n pleet in die dek tot in my hangmat. Ek en die hangmat word deurnat. My liggaam voel of hy aan die brand is en is so warm dat ek die stoomdampe bo my réde in die gelerige lanternlig kan sien uitslaan.

Die water drup, drup, drup in my hangmat. Ek is so swak soos ’n pasgebore baba. Met die grootste moeite skuif ek my kragtelose liggaam sodat ek my mond onder die stroompie water wat van die dek af drup, kan kry. Klappertand verval ek in ’n koorsbeswyming, maar hou my mond oop. Drup, drup, drup. Ek sluk byna onwillekeurig. So worstel ek die nag deur. Eers jare later dring dit tot my deur dat daardie water wat van die dek af in my mond gedrup het, my van algehele ontwatering gered het.

pierre-massyn

Pierre Massyn. Foto: Verskaf.

Die dag breek. Dis ’n uitkoms. Ek is alleen op die boot. Die ander vier manne is aan wal. Teen omtrent tienuur kom Christoff terug van die Indiaanse statjie. Die inboorlinge het iets vir die siek gringo gemaak. Die Indiane het my as ’n soort bosgod beskou. My blonderige hare was verbleik ná twee maande op see en in die son – die gevolg van ’n Atlantiese deurvaart op ’n 36-voet seiljag wat twee maande geduur het. Ek het opgehou skeer oor ’n belofte wat ek aan myself gemaak het. Die Inkas se legendes is deurspek van verhale van wit manne met lang baarde wat oor die see na hulle gekom het.

Das ist ekstra für dich, Pierre.” Ek en Christof het Duits gepraat. Hy kon my Suidwes-Duits goed genoeg verstaan. In ’n koperpot is ’n skuimende brousel. Dis ’n mengsel van kruie, manioc (fyngestampte wortels), ferina en varswaterskilpadeiers. Ek druk my neus toe en sluk die doepa. Ek word byna weer flou, maar die medisyne werk. Die koors breek. Ek oorleef die gevreesde witmanskoors.

Ons is drie dae later terug na Parintins. Parintins, waar daar nie sanitasie of riolering is nie en waar aasvoëls met rubberagtig nekke op die huise se dakke sit en wag op iets om te stroop. Parintins met sy brandmaer brakke en swart varke wat in die vullishope rondsnuffel.

Ons het nie weer VVV’s in die Amasones gesien nie. Ek het twee maande later die Inka-voetslaanpad in Peru gaan aandurf en Christof is terug na Duitsland. Een vraag het my altyd bygebly: was dit toevallig dat ek op sterwe na so dodelik siek geword feitlik onmiddellik nadat hierdie vreemde vlieënde verskynsel sy opwagting naby ons boot gemaak het? Ek glo nie aan toeval nie. En ek hou deeglik rekening met die moontlikheid dat dit magte uit ’n ander dimensie was wat hulself met ’n ernstige waarskuwing aan my geopenbaar het.

  • Pierre Massyn het in 1986 sy werk as adjunk-skakelhoof van die grootste uraanmyn ter wêreld prysgegee om te gaan seil en reis. Hy het twee jaar later met net die klere aan sy lyf na Afrika teruggekeer. Hy beskryf hierdie insident in sy nuwe boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Gysbert ·

Hallo Pierre. Het jy ooit die Darien Gap besoek terwyl jy in Suid-Amerika was?
Daai vasteland fassineer my. Ek sal vir maande lank met my motorfiets daar kan rondry.

Cherokee ·

Net ‘n terloopse opmerking; Spaans en Portugeus is so naby aan mekaar soos Britse en Amerikaanse Engels. Spanje en Portugal is immers buurlande.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.