Word deel van Voortrekkermonument se groot vriendekring

Die Voortrekkermonument. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die Voortrekkermonument in Pretoria het pas Projek 20 000, waardeur die monument gaan poog om 20 000 vriende van die monument teen 16 Desember vanjaar te werf, aangekondig.

Dié wêreldbekende monument en toerisme-aantreklikheid ontvang geen staatsubsidie nie. Dit beteken dat die Voortrekkermonument se toekoms in die hande van die gemeenskap rus.

“Tydens Geloftedag verlede jaar het 20 000 mense by die Voortrekkermonument opgedaag en meer as 20 000 mense het Steve Hofmeyr se onlangse konsert by die monument bygewoon,” sê Dricus du Plessis, internasionale gemengde gevegskunsvegter (MMA) en beskermheer van die Voortrekkermonument.

“As ons 20 000 mense op een dag hier bymekaar kan kry, hoekom kan ons dan nie 20 000 vriende vir die monument kry nie? Daar is verskeie redes om ’n vriend van die Voortrekkermonument te wees, maar die belangrikste hiervan is om ons erfenis te beskerm en te bewaar.”

In 2021 is Projek 10 000 aangekondig en die monument spog vandag met meer as 11 000 vriende wat reeds aangesluit het.

“Weens die Covid-19-pandemie het die monument op ’n mespunt van voortbestaan gestaan, maar kon die wa deur die drif getrek word danksy die ondersteuning van ons vriende. Daarvoor kan ons nie genoeg dankie sê nie.

“Ons weet egter ook dat ons baie meer as 11 000 trotse Afrikaners in Suid-Afrika is – baie meer as 20 000 selfs! Dink net aan die blink toekoms wat vir ons kultuurtuiste voorlê met soveel hande wat saam bou aan ons kultuur en erfenis.

“Word ’n vriend van die monument en vier saam met ons elke nuwe mylpaal wat bereik word. So magtig soos die monument op die koppie, só rotsvas is die Afrikaner se plek hier aan die suidpunt van Afrika.

“Daarom is dit vir ons ’n groot voorreg om hierdie terrein te kan bewaar en ontwikkel as kultuurtuiste wat jaarliks deur duisende mense geniet word.”

Sluit hier as vriend van die Voortrekkermonument aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Dit is n baie goeie inisiatief, wat word beplan om die gronde en monument in stand te hou omrede die regering nie die huidige benaadeelde monumente wil onderhou nie.Ek dink as dit die geval is moet die grond gekoop word by die staat en onafhanklik bestuur word,ek sal so ‘n projek help finansier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.