Hier is Maroela-lesers se beste boereraat en idees

Argieffoto (Foto: Rudy and Peter Skitterians/Pixabay)

Tydens die afsonderingsperiode waar die land se ekonomie byna tot ʼn stilstand gekom het, word talle idees en wenke gedeel oor hoe om jou rand selfs verder te rek.

Wenke word wyd gedeel oor hoe mense in hierdie tyd op kreatiewe maniere geld kan bespaar. Maroela het by lesers aangeklop om te hoor wat hulle beste raad en idees is.

Theo Lessing wen met sy waterbesparingswenk ʼn kontantprys van R1 000. Hy sê dit is maklik om seker te maak dat water nie in jou toilet lek nie. “Sit ‘n paar druppels voedselkleursel in die waterbak. As die kleur in die bak uitlek, is daar ‘n lekplek. Suid-Afrika is arm aan volhoubare water, en dit sal ook bydra om jou waterrekening laag te hou.”

Let op: ons kan glad nie verantwoordelikheid of aanspreeklikheid aanvaar indien jy enige van dié idees of raad volg nie, jy doen dit op jou eie risiko. Hier is die res van die top-20 wenke wat ons ontvang het:

  • Anneke Pretorius sê as daar iets soos ʼn splinter of so vassit in jou vinger (of wat ook al) meng Vaseline met sout en smeer dit aan en plak dit toe. “Dit sal dit in 24 uur uittrek. Vir al daardie splinters was diep onder die vel is.”
  • Michelle Hon het sommer ʼn hele paar wenke gedeel oor goedkoop en staatmaker asyn:
    • ‘n Paar druppels asyn by skoenpolitoer wat hard geword het, maak dit weer sag.
    • ‘n Verfkwas met harde hare kan 30 minute lank geprut word in kokende asyn en agterna gewas word met skottelgoedwasmiddel.
    • ‘n Bietjie asyn in die olie verhoed dat vleis wat in krummels gerol is, gou vasbrand in die pan.
    • ‘n Lepel asyn in die water wanneer jy ‘n eier posjeer, keer dat die wit versprei.
    • Aanpaksels aan ‘n ketel se element kan verwyder word deur te kook met asyn.
    • Asyn en koeksoda maak ‘n baie goeie bleikmiddel, ontsmettingsmiddel en werk beter as Handy Andy.
    • Citro-Soda en asyn maak ‘n aangebrande pot sommer vinnig skoon!
    • Gooi bietjie asyn by olie waarin vis gebraai word. Die vis absorbeer minder olie.
  • Marlene Veldman sê sy het nog voor die Covid-19-virus kop uitgesteek het, al haar skottelgoed met ʼn bietjie Jik of Domestos gewas. “Dit raak nie net ontslae van kieme nie, dit hou ook jou vadoek, sponsie en drein skoon en kiem- en reukvry. Jou naels is sommer ook altyd mooi skoon.”
  • Volgens Christa Faasen moet jy ʼn kwart (¼) teelepel swembadchloor in die hoekies van kaste, laaie en oppervlaktes strooi waar kokkerotte loop. “Hul verdwyn soos mis voor die son.”
  • Petro Strauss raai mammas aan om bietjie Maizena (mielieblom) aan baba se brandboudjies te vryf om dit gesond te kry. “Ek het amper 20 jaar gelede die raad by ons pediater se sekretaresse gekry ná my babaseuntjie brandboudjies van antibiotika gekry het. Dit werk baie goed.”
  • Janette Coetzee sê om jou wit wasgoed sonder bleikmiddel mooi wit te kry en te hou, moet jy dit goed met Sunlightseep smeer en in die son oophang. “Nou kan jy dit net mooi uitwas en siedaar, soos nuut!”
  • Volgens Estelle Snyman moet jy ʼn koppie heuning met ʼn halwe koppie suurlemoensap aanmaak vir erge hoes. “Dit werk. My dogter het erg gehoes en binne twee dae was hoes los en ligter. Bespaar regtig op duur hoesmedisyne.”
  • Petro Strauss sê jy kan maklik jou eie strooisuiker maak deur gewone suiker in die versapper te maal. “Jy kan dit nog fyner maal en dan het jy jou eie versiersuiker!”
  • Bianka Coetzee sê hulle het verskeie boererate wat hulle daagliks in die huis gebruik:
    • Keelseer: suurlemoensap en heuning
    • Wintersvingers en tone: smeer Vicks aan
    • Skoonmaakmiddel: Meng ½ koppie asyn, ½ koppie suurlemoensap, ¼ koppie Sunlight Liquid in ʼn 1 liter-spuitkannetjie en maak vol met water
    • Toe neus en gehoes: Smeer Vicks aan voete en trek sokkies aan. Smeer ook bietjie agter die oor.
    • Naarheid: halwe glas Coke gemeng met halwe glas water
    • Meng 2 kg waspoeier met ʼn pak growwe sout. Die sout werk dieselfde as Sta-Soft. Klere is sag en mooi helder.
  • Volgens Priscilla van der Merwe kan jy ʼn suurlemoen in die helfte sny, die helfte in tafelsout druk en dan jou krane (bad, kombuis en stortkoppe) blinkvryf.
  • Marinda Pelser het ʼn wenk vir jou tuin: “Moenie eierdoppe weggooi nie. Maak dit fyn, gooi dit in ‘n houer en bedek met water. Sodra jou houer vol is, gooi uit in die tuin of in potplante. Dit is ‘n voedingstof vir die grond en plante. Grof gebreekte eierdoppe wat jy net so los bo-op die grond gooi, hou ook slakke weg.”
  • Vivia Grobbelaar het ook twee oulike wenke gedeel:
    • Teer wat op ʼn motor gekom het, kan jy afhaal met paraffien. Dit werk soos ‘n bom.
    • Gooi bietjie gliserien in die afspoelwater van jou wasgoed, dit verwyder kat- en hondehare van alle kledingstukke. So 10 ml tot 30 ml by die afspoelwater en dit kan koue water wees. Veral nou dat dit wintertyd is, klou alles mos aan die klere en komberse vas.
  • Janell Koch sê sout-en-asyn skyfies kan jou lae bloeddruk dadelik opstoot en verhoed dat jy sleg voel. “Ek gebruik die raad al jare en dit werk soos ‘n bom.”
  • Volgens Theo Lessing is dit maklik om seker te maak dat water nie in jou toilet lek nie. Sit ‘n paar druppels koskleursel in die waterbak. As die kleur in die bak uitlek, is daar ‘n lekplek. “Suid-Afrika is arm aan volhoubare water, en dit sal ook bydra om jou waterrekening laag te hou.”
  • Berende van der Walt sê hierdie wenk werk: As jy net een deel van ʼn avokado wil eet, sny in twee helftes, spoel een helfte af onder koue water met of sonder pit en bêre in die yskas. Dit sal nie swart word nie. “Ek het die raad gekry by my oorlede ma se suster.”
  • Helena van Zyl het ook twee wenke:
    • As jy sukkel met blaasprobleme, neem 15 druppels Lennon’s Haarlemensis op lou melk of 1 teelepel suiker in die aand voor slapenstyd. Dit werk!
    • Vir artritis, smeer Vicks aan aangetasde dele en hou warm met verband indien moontlik. Dit is ook baie goed vir aambeie.
  • Chantelle Enslin het ʼn plan vir spasie en netheid in jou kombuiskaste. Sy sê: “Ek het alewig ʼn probleem met my speserybottels wat die kaste vol staan en onnet lyk.” Sy het toe die volgende gedoen:
    • Kies ʼn netjiese bord van jou keuse en kleur
    • Plaas ʼn blik (byvoorbeeld ʼn “baked beans”-blik) bo-op en verf/spuitverf die blik om by jou tema en kleur in te pas
    • Kry nog ʼn bord en plaas dit bo-op die blik
    • Pak jou speserybottels netjies om die blik. Nou kan jy die bord in die rondte draai om by die speserye, wat jy wil gebruik, uit te kom
    • Jy kan ook spasie onder jou wasbak maak waar jou spuitbottels en skoonmaakmiddels gebêre word. Koop ʼn dun stuk plastiekpyp by jou naaste hardewarewinkel. Maak die pyp vas aan die kant van jou kaste (sommer met gom) en hang jou bottels en skropborsels aan die pyp.
  • Charleen Marais deel ʼn skoonheidswenk. Ryswater vir jou hare: Dit laat jou hare vinniger groei en jou hare lyk sommer blink en gesond. Sit gewone rys oornag in ʼn houer met water. Spuit die water dan op jou hare, los vir 30 minute en spoel af.
  • Indien jou dier enige wond of seerplek opdoen en jy is ver van die dorp af kan Fransisca Delport se raad jou help: Meng die volgende: 750 ml kookwater, 50 ml Engelse sout en 15 ml Dettol. Los eers die Engelse sout op in die water en gooi dan die Dettol by. Laat dit afkoel. Gooi dan drie keer ʼn dag op die wond. Dit sal na die eerste aanwending reeds beter lyk en binne ʼn week genees.
  • Charlotte Pretorius deel ʼn begrotingswenk: Haal elke dag as jy by die huis kom, al die kleingeld uit jou beursie en gooi dit in ‘n groot glas bottel of blik. Teen die einde van November maak jy dit leeg en gaan ruil dit om by die bank. Gebruik daardie geld vir vakansiesakgeld as jy met vakansie gaan of vir Kersgeskenke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

isabelle ·

Dit is nou n goeie berig en so kan ons by almal iets leer

isabelle ·

ek het toe onlangs gebruik gemaak van growwe sout/rys vir daai ongelukkies as n selfoon in water beland
dit werk wonders as jy die selfoon so gou as moontlik uit water haal en in rys/growwe sout plaas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.