Wen ’n troue: Hier is die finaliste

Maroela Media se paneel beoordelaars het die mooiste stories en hartroerende verhale ontvang van paartjies wat saam al harde klippe gekou het, paartjies wat mekaar per toeval of deur vriende ontmoet het en met die eerste oogopslag verlief geraak het, asook paartjies wat ander se behoeftes bo hul eie stel en tot dusver nog nie voor die kansel kon staan nie.

Maroela Media gee vanjaar in samewerking met Villa Rosa Wedding Venue en ander diensverskaffers ʼn troue ter waarde van R170 000 aan een van dié paartjies weg.

Die paneel beoordelaars het deur duisende inskrywings gesif om uiteindelik die lys van top-10-finaliste saam te stel.

Mense het nou die geleentheid om vir hul gunstelingpaartjie te stem! Lees deur elke inskrywing en besluit dan wie jy dink die troue verdien. Die paartjie wat op 30 April 2020 die meeste stemme van die publiek ontvang het, wen die troue.

Die finaliste (in geen spesifieke volgorde nie):

Charmain Breedt en Cecil van den Bergh

Charmain Breedt en Cecil Van den Bergh (Foto: Verskaf)

Charmain Breedt van Polokwane in Limpopo vertel sy en haar verloofde, Cecil van den Berg, is ná drie jaar nog net so verlief soos die eerste dag wat hulle mekaar gesien het.

“Daar gaan nie ʼn dag verby dat daar nie humor in ons verhouding is nie en ons gaan slaap nooit kwaad vir mekaar nie. Ons ondersteun en bid vir mekaar en God is die middelpunt van ons verhouding.”

Charmain studeer tans en moet vir haar eie studie betaal. Albei haar ouers is oorlede en haar verloofde se ouers sal ook nie finansieel kan bydra tot die troue nie.

“Ek glo nie dat mens in ʼn hof moet trou nie,” skryf sy. “Dis onpersoonlik en ek glo ʼn mens moet in jou verhouding belê. Ek glo nie skei is ʼn opsie as jy eers getroud is nie. Geen probleem is te groot om op te los nie. My droom is nog altyd om ʼn sprokiestroue te hê, en ek glo dis wat julle bied met dié kompetisie. Ek hoop dat julle ons behoefte sal raaksien.”

Charmain en Cecil het op 1 September 2018 verloof geraak.

Guzéne O’Reilly en Marko van Staden

Guzéne O’Reilly en Marko Van Staden (Foto: Verskaf)

Guzéne O’Reilly se sussie Zyneldi het namens haar en Marko van Staden ingeskryf.

“Ek weet daar is mense wat sukkel en ons moet absoluut ons seëninge een vir een tel, maar ek dink my sussie en Marko verdien om dié fase van hul lewe te geniet –  om verloof te wees, die troue te beplan en ʼn huisie op te sit. Maar hulle kan nie, want hulle moet self vir die troue betaal. Om tussendeur nog studielenings af te betaal, is rof. Ek wil so graag hê hulle moet die beste troue hê.”

Guzéne het die afgelope 14 jaar studeer en het so pas haar doktorale proefskrif ingehandig. Sy en Marko het mekaar ontmoet in die jaar voor sy klaargemaak het.

“Guzéne was jare lank alleen. Marko moes ook sy eie lewe agtermekaar kry voor hy reg was vir my sussie. Marko is ʼn amazing man,” skryf Zyneldi. Guzéne en Marko woon in Potchefstroom in Noordwes en het op 30 November 2019 verloof geraak.

Jean-Marié Tosen en MW Potgieter

Jean-Marié Tosen en MW Potgieter (Foto: Verskaf)

“Ek is sonder ʼn regterhand gebore – die lewe is daarom soms uitdagend, maar ten spyte hiervan het ek ʼn verloofde gevind wat amper meer my regter-‘arm’ vashou as wat hy my hand vashou. ʼn Verloofde wat my laat droom oor die dag waar almal vir daardie een oomblik wel na ons kan staar, maar hierdie keer nie omdat ek anders lyk nie, maar omdat ons as geliefdes in die huwelik gaan tree,” skryf Jean-Marié Tosen van Somerset-Wes in die Wes-Kaap. Sy het op 27 Augustus 2016 die jawoord vir MW Potgieter gegee.

“Daar is ʼn klein dogtertjie binne elke vrou wat daarvan droom om in ʼn wit rok voor die kansel te staan, en vir jare daarna steeds verby die troufoto’s in die gang te stap met die wete dat dit alles die moeite werd was. Waarom is ons nog nie getroud nie? Wel, om presies dieselfde rede waarom ons verdien om die troue te wen – die waarde van onvoorwaardelike liefde is onmeetbaar.”

Johanné Geldenhuys en Ruwan Retief

Johanné Geldenhuys en Ruwan Retief (Foto: Verskaf)

Johanné Geldenhuys onthou hoe sy en Ruwan Retief as kinders saam vierwielmotorfiets gery, in die modder gespeel, visgevang en lekker baljaar het.

Sy skryf: “Ek was sewe en hy agt toe ons ouers as huisvriende saamgekuier het. Ons het egter kontak verloor en mekaar toevallig in my derde jaar op universiteit by ʼn geleentheid raakgeloop. Toe ek hom sien, wou ek onmiddellik weet wanneer ons weer gaan motorfiets ry en visvang. Toe ek wegstap, het Ruwan vir sy vriende gesê: ‘Daai is my vrou. Hou my dop, vir haar maak ek my vrou.’ Hier is ons nou, vyf jaar later. Hy het my op 25 November 2019 gevra om te trou.”

Volgens Johanné dra Ruwan haar op sy hande en sy voel veilig by hom. “Ons wil graag ʼn sprokiestroue hê, net soos ons verhouding, maar trou is nie perdekoop nie. Met jul kompetisie sal ons droom bewaarheid word.”

Johanné en Ruwan woon albei in Witbank in Mpumalanga.

Michelle Venter en Ruan Slabbert

Michelle Venter en Ruan Slabbert (Foto: Verskaf)

Michelle Venter en Ruan Slabbert van Vaalwater in Limpopo het mekaar op 13-jarige ouderdom in die plaaslike Spar raakgeloop en dit was soos liefde met die eerste oogopslag. Soos die noodlot dit wou hê, het hulle weggetrek en mekaar vir 16 jaar nie gesien nie.

“Ons is nou weer terug by mekaar en sal graag wil trou, maar finansies hou ons terug. Ek glo die Here wil hê ons moet trou en nie wag tot ons geld het nie. Maar vandag kos selfs ʼn intieme seremonie redelik baie,” vertel Michelle. “[Ruan] voel soos ʼn mislukking omdat hy nie geld het om ons drome waar te maak nie. Ek wil hê hy moet die troue kry wat hy verdien en waaraan hy jare al beplan sodat ons ʼn lewe saam kan hê. Gewoonlik is dit die vrou wat groot droom oor haar troue, maar Ruan se drome vir ons is groter as enige van my drome.”

Michelle en Ruan het op 14 Februarie 2018 verloof geraak.

Mionè Prinsloo en Eon Viljoen

Mionè Prinsloo en Eon Viljoen (Foto: Verskaf)

Mionè Prinsloo meen die koeël was deur die kerk toe sy en Eon Viljoen mekaar tydens ʼn toeoogafspraak ontmoet het. “Ons het deur vriende ontmoet en op ʼn blind date gegaan – al het nie een van ons daarin geglo nie. Dit was liefde met die eerste oogopslag.”

Hulle woon albei in Rustenburg in Noordwes en het drie jaar gelede op Oujaarsaand verloof geraak. Eon werk voltyds en is besig met sy honneurs wat hy boonop self betaal. Mioné is ʼn kleuterskooljuffrou en vertel dat sy, nes talle ander meisies, van kleins af oor haar troue droom.

“Ek het lank gebid en gewag vir ʼn man soos Eon – ʼn man wat naby aan die Here lewe. Ek dink ons verdien om die troue te wen. Elke meisie droom van hulle groot dag van kleintyd af. Dit sal so ʼn groot voorreg en bederf wees om dié jaar ons droomtroue te hê.”

Rene Maree en JJ Steyn

Rene Maree en JJ Steyn (Foto: Verskaf)

“Ek het nooit ervaar hoe dit voel om ʼn mooi rok te dra of om spesiaal te voel nie. Daar was altyd net hartseer. Maar die Here het al my seer genees en vir my ʼn ridder op ʼn wit perd gestuur,” skryf Rene Maree wat as tiener deur ʼn familielid verkrag is.

Maroela Media het vroeër berig Rene is jare later weer verkrag toe haar drankie by ʼn kuierplek gedokter is. “Ek bid nou dat dit my beurt kan wees om soos ʼn prinses te voel en my droomtroue te hê.”

Rene en haar prins, JJ Steyn, het op 7 Januarie 2020 verloof geraak. Hulle woon in Centurion in Gauteng.

Sandra Botsime en Lucky Mochudi

Sandra Botsime en Lucky Mochudi (Foto: Verskaf)

Sandra Botsime en Lucky Mochudi het op 22 Februarie 2020 verloof geraak, maar dié paartjie se pad na die kansel het ʼn anderste uitdaging wat hulle in die gesig staar.

“Ons kom albei uit die Setswana-kultuur, waar my geliefde eers lobola moet betaal voor ons daaraan kan dink om te trou. Dit beteken dat ons volgens tradisie getroud is, maar nog nie ʼn amptelike seremonie gehad het nie,” skryf Sandra. “Ek het die mooiste verloofde in die wêreld. Ons is al sewe jaar lank saam en ek het nog altyd geweet ons gaan trou. Al is dit teen die tyd dat ons 40 is. Geseënd is diegene wat so kinderlik verlief en verlore is. Die geleentheid om ʼn troue te wen sal die wêreld vir ons beteken.”

Sandra en Lucky woon in Roodepoort in Gauteng.

Sumari Kotze en Hannes Swart

Sumari Kotze en Hannes Swart (Foto: Verskaf)

Sumari Kotze en Hannes Swart van Roodepoort in Gauteng het vier jaar gelede verloof geraak en moes al twee keer hul troue uitstel.

“Ons het ʼn troudatum gehad, maar my ma is in dieselfde jaar met borskanker gediagnoseer. Sy en my sussie sou my strooimeisies wees. Dit het nie goed gegaan met my ma se gesondheid nie en daarom het ons besluit om die troue te herskeduleer. Ons lewe het handomkeer verander,” skryf Sumari.

Hulle sou in Junie 2019 getrou het, maar Hannes het in April in die hoësorgeenheid beland weens ʼn groot motorongeluk. Hy moes vir ʼn ruk lank met krukke loop en die troue is weer uitgestel.

“Tans wag ons op die Here om vir ons die regte tyd te gee vir ons groot dag. Ek vertrou dat ons tyd ook sal kom.”

Sunita van der Westhuizen en Eduan Hellmuth

Sunita van der Westhuizen en Eduan Hellmuth (Foto: Verskaf)

“Ek en my verloofde is regte high school sweethearts,” skryf Sunita van der Westhuizen, wat op 20 Februarie 2019 die jawoord vir Eduan Hellmuth gegee het. Dié paartjie woon in Bloemfontein in die Vrystaat en is al 11 jaar lank saam.

“Hy is my pot se deksel. Ons bou saam aan ons toekoms en motiveer mekaar elke dag om beter te wees. Hy is tans besig met sy doktorsgraad in mikrobiologie en ek is ʼn laerskoolonderwyseres. Omdat hy nog studeer is dit moeilik om geld te spaar vir ʼn  troue. Dit is beslis ons droom om voor die kansel te staan en ʼn sprokiestroue te hê wat ons liefde weerspieël.”

Die borge

  • Ad-Lib: Musikante wat by troues en korporatiewe geleenthede optree.
  • All things Bridal SA: Spesialiseer in handgemaakte bykomstighede vir die bruid, bruidegom en hulle gevolg. Dit sluit onder meer dasse, kousbande, japonne, juwele, sluiers en strikdasse in.
  • AMA Promotions: Verskaf musiek by troues en behartig die klank en beligting vir verskeie bekende sangers, asook ander geleenthede.
  • BellaMina: Spesialiseer in die ontwerp en maak van korporatiewe klere en bruidsrokke, borduurwerk en professionele grimering vir troues en funksies.
  • Cake Brothers: Hulle produkte sluit spyseniering, nageregte en allerlei koeke in.
  • Casa de Ross Gastehuis: Die gastehuis is in die noorde van Pretoria aan die voet van die Magaliesberg geleë.
  • Choctique Handcrafted Chocolates: Spesialiseer in handgemaakte Belgiese sjokolade wat in gedrukte omhulsels verpak is. Die sjokolade en omhulsels word volgens klante se spesifieke tema en behoeftes ontwerp. Dit is ideaal vir enige geleentheid soos gastegeskenke by troues, korporatiewe geskenke, verjaarsdae, geleenthede en spesiale dae soos Kersfees, Valentynsdag, Moedersdag en Erfenisdag. Hulle spesialiseer ook in sjokolade vir kinderpartytjies met prentjies van karakters wat op die omhulsels gedruk word.
  • Cocovanilla Foods: Hier sal jy vingerhappies vir skemerkelkies, verjaarsdae of korporatiewe geleenthede kry. Dit sluit ook verskeie opsies vir troues, soos kaasborde, oestafel en nageregstasies, in.
  • CRWyeth Photography: Troufotograaf
  • Dedré’s House of Elegance Boutique: House of Elegance se dienste sluit in gespesialiseerde produkte en pakkette, foto- en videografie, naelbehandelings, grimering en haarstilering.
  • D-Vites by M.H.S: Ontwerp van digitale kaartjies en skryfbehoeftes vir onder meer troues, ooievaarstees, korporatiewe geleenthede en verjaarsdae.
  • Gasvrou: Verskaf geskenke vir die bruid, gevolg, gaste en ander spesiale geleenthede. Dit sluit oorbelle, leerhandsakke, voorskote, houtborde, servetringe en dies meer in.
  • GLAM Beauty Boutique: Salon wat onder meer nael- en velsorgbehandelings bied.
  • Granaat Roes: Materiaaldrukkers wat klante toelaat om hul eie materiaal vir dekor te ontwerp. Gasvrou verskaf ook items soos servette, tafellopers, tafeldoeke en kussings.
  • Lyn Erlank: Senior pastoor, huweliksbevestiger en stigter van I Do I Do Weddings.
  • Magic Mirror Memories: Verskaf toerusting en bykomstighede vir ʼn fotohoekie wat onder meer geskik is vir troues, verjaarsdae, ooievaarstees, korporatiewe en geldinsamelingsgeleenthede en jaareindfunksies. Die onderneming bied ʼn unieke aanslag met hul spieël wat binne ʼn goue fotoraam geplaas word en wat ʼn verskeidenheid agtergronde en spesiale effekte moontlik maak.
  • Mimie: Voorkomskonsultant en stilis wat onder meer spesialiseer in die ontwerp en maak van trourokke en matriekafskeidrokke.
  • Piccolo Fine Designer Jewellery Pty Ltd: Beplanning, ontwerp en vervaardiging van juwele.
  • Plant en Palm Verhurings: Spesialiseer in verhuring van plante vir enige funksie, asook die verskaffing van blomme vir troues, insluitend tafeldekor, hand- en skouerruikers, confetti en blommekrone.
  • Professional Make-up & Styling by Samantha Faasen: Grimeerkunstenaar
  • Shais Function Hire: Die bestemming bied eksklusiewe spyseniering en hulle spesialiseer in die verhuring van toerusting en meubels vir spesiale geleenthede.
  • The Maiden: Spesialiseer in ʼn verskeidenheid van rokke vir bruidsmeisies, asook vir die moeders van die bruid en bruidegom en blommemeisierokke.
  • Villa Rosa Wedding Venue: Troubestemming wat in die noorde van Pretoria aan die voet van die Magaliesberg geleë is. Dit kan tot 250 gaste akkommodeer.
  • Xtreme Hair: Haarstilering

Hoe om te stem

Stem nou vir jou gunstelingpaartjie! Vul jou besonderhede in die inskrywingsvorm onderaan hierdie artikel in en kies die paartjie van jou keuse.

Lede van die publiek het tot 30 April om 23:45 om vir hul gunstelingpaartjie te stem. Slegs die eerste stem van elkeen wat stem word in ag geneem.

Bepalings en voorwaardes

  1. Slegs die eerste stem van elkeen wat stem word in ag geneem.
  2. Die paartjie wat die meeste mense van die publiek se stemme ontvang, sal as die wenner aangewys word.
  3. Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  4. As julle as wenners aangewys word, stem julle in dat foto’s van die troudag agterna op Maroela Media se sosiale media en diensverskaffers se webwerwe gedeel mag word.
  5. Die prys en pakket is nie onderhandelbaar nie.
  6. Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  7. Die pakket sluit ʼn maksimum van 60 gaste in. Indien die gastelys meer as 60 is, is die paartjie self verantwoordelik vir die uitstaande bedrag.
  8. Die wenners en hulle gaste is self vir bykomende reis- en verblyfreëlings, wat nie by die pakket ingesluit is nie, verantwoordelik.
  9. Enige bykomende dekor, blomme, klere, pakke vir die bruidegom, strooijonker(s), hofknapies, geskenke, huwelikskontrak en enigiets anders wat die wenpaartjie graag op die dag wil gebruik, is nie by die prys ingesluit nie.
  10. Die stemproses sluit 30 April 2020 om 23:45.
  11. Wenners word op 1 Mei 2020 aangekondig.
  12. Die wenpaartjie moet bereid wees om op 1 Augustus 2020 te trou (alternatiewe reëlings sal met die paartjie en diensverskaffers getref word indien die algehele landwye afsondering voortduur).
  13. Die wenpaartjie moet bereid wees om by die betrokke venue (geleë in Akasia, Pretoria-Noord) te trou.
  14. Geen werknemer of familielede van die borge mag deelneem nie.
  15. Deelname aan hierdie kompetisie gee toestemming dat Maroela Media met jou mag kontak maak.
  16. Maroela Media kan nie aanspreeklik gehou word vir enige verlies, skade, besering of enige ander ongerief wat gely word tydens die reël van die troue of tydens die troue nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.