Soorte resepte:

Boetiekbiere weer by Pta-fees te proe

Feesgangers by ‘n vorige Capital Craft-bierfees. (Foto: Verskaf)

Ná twee jaar keer die gewilde Capital Craft-bierfees terug vir sy agtste aanbieding wat op 18 Junie by die Pretoria Botaniese Tuin plaasvind.

Brouerye soos Brauhaus Afrika, Cape Brewing Company, Darling Brew, Devil’s Peak Beer Company, Hazeldean Brewing Co., Hoegaarden en Zwakala staan gereed om hul beste produkte met bier-entoesiaste te deel.

So gepraat van die beste, die Hazeldean Brewing Co. het genoeg rede om van oor tot oor te glimlag nadat dié brouery onlangs vier pryse by die African Beer Cup-toekennings gewen het.

Hazeldean Brewing Co., wat in die ooste van Pretoria geleë is, het goud gewen vir sy Ayrshire Pale Ale, sy vlagskipbier Vienna Lager en Kriek Lambic Style het silwer ontvang en die Lambic Style Framboise het met ʼn bronsmedalje weggestap.

Marius Botha, eienaar van die brouery, sê in ʼn onderhoud met Maroela Media dat dit ʼn groot pluimpie is omdat daar in hierdie kompetisie net een wenner per kategorie gekies word.

“Wat dit verder so wonderlik maak, is die beoordelaars se terugvoer. Die verslag lewer kommentaar oor aspekte soos die styl, smaak en aroma van die bier. Dit beteken dat ons iets het om mee te werk en waarop ons kan verbeter.”

Volgens Botha het die brouery sedert sy ontstaan in 2015 altesaam 17 pryse ingeoes. “Ons is geweldig trots op die gehalte van ons bier.”

Feesgangers by ‘n vorige Capital Craft-bierfees. (Foto: Verskaf)

Maar al wen jou biere dosyne pryse, waarborg dit nie jou voortbestaan nie, meen Botha. “Jy kan die beste bier in die wêreld hê, maar jy gaan nie geld maak as jy dit nie verkoop nie.”

Daarom is brouerye dankbaar vir geleenthede soos die Capital Craft-bierfees, nie net omdat dit help met bemarking van hul biere nie, maar ook omdat dit hul verkope ʼn stewige hupstoot gee.

“Vir ons is dit definitief die moeite werd. Die fees is elke jaar finansieel goed vir ons en dan is dit ook ʼn lekker geleentheid om met lede van die publiek en met ander brouerye te connect.”

ʼn Verskeidenheid van Hazeldean Brewing Co. se biere sal by die fees geproe kan word, en dan is daar ʼn Radler Shandy wat Botha vir nie-bierdrinkers aanbeveel.

Dit is ʼn versnit tussen die brouery se Premium Pilsner en Hazeldean Craft Lemonade. Volgens Botha is die mengsel van soet, suur en bitterheid perfek gebalanseer en daarom geniet die meeste mense hierdie drankie.

Terwyl groot name soos Karen Zoid, Aking, Georgetown, Bad Peter en Dan Patlanksy Capital Craft-feesgangers vermaak, kan daar tussendeur ook gesmul word aan ʼn verskeidenheid van stalletjies se kos, onder meer van Panini Bistro, Griekse Boertjie, Mutcho Natcho’s Pink Waffle Cabin, Brohemian Pizza Truck en Corndog Hub.

Kaartjies vir die fees kos R250 en dit is beskikbaar by Plankton. Die kaartjie sluit ʼn bierbeker, feeskaart en begeleide toere, asook toegang tot drie verhoë en meer as 30 brouerye in.

Kinders tussen twee en 12 jaar kry toegang tot die Clamber Klub-kindergedeelte, maar geen kinders tussen 13 en 17 jaar word toegelaat nie.

Besoek Capital Craft op Facebook, Instagram of die webwerf vir meer inligting.

In hierdie video vertel Marius Botha, eienaar van Hazeldean Brewing Co., meer oor die brouery se boetiekbiere:

Skryf in

Twee Maroela Media-lesers staan elk die kans om ʼn dubbelkaartjie te wen vir die Capital Craft-bierfees wat op 18 Junie by die Pretoria Botaniese Tuin aangebied word. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 12 Junie om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 12 Junie om 23:45.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media per e-pos met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.