Soorte resepte:

SA whisky spog met internasionale pryse

Andy Watts (Foto: Verskaf)

Die James Sedgwick distilleerdery in Wellington in die Wes-Kaap, waar Bain’s Cape Mountain Whisky gemaak word, het onlangs internasionale pryse gewen by Whisky-tydskrif se Icons of Whisky-toekennings vir 2020.

Dié toekenningsgeleentheid, wat in Londen sou plaasvind, het vanjaar aanlyn plaasgevind weens die wêreldwye Covid-19-pandemie.

Die James Sedgwick distilleerdery is aangewys as volhoubare distilleerdery van die jaar en die stigter, Andy Watts, is aangewys as handelsmerkambassadeur van die jaar.

Watts sê dit is te danke aan volgehoue innovering dat Suid-Afrika se whisky seëvier.

“Bain’s is reeds in 2009 gestig, lank voor enkelgraanwhisky ʼn wêreldwye gier geword het. My visie vir hierdie whisky was om verbruikers iets eg Suid-Afrikaans te bied, met ʼn 100% Suid-Afrikaanse graan en ʼn unieke dubbelverouderingstydperk van vyf jaar,” sê Watts.

“Dit, gepaard met ons warm Suid-Afrikaanse klimaat, versnel die verouderingsproses, wat ʼn uitsonderlik gladde whisky met ongelooflike geur tot gevolg het, en maak dit eensoortig.”

Volgens hom was dit ook die enigste kommersiële whiskydistilleerdery in Afrika en Bain’s Cape Mountain Whisky is al voorheen twee keer, in 2013 en 2018, by die Wêreld-whiskytoekennings as die wêreld se beste graanwhisky aangewys.

Watts is passievol oor herwinning en volhoubaarheid en het in 2019 die BIG-ondernemingstoekenning gewen vir groen sakeonderneming van die jaar.

“Om whisky te maak gaan nie net oor die vloeistof nie. Dit gaan daaroor om maniere te kry om die uitwerking op die omgewing te verminder. Oor die jare het ons al ʼn aantal inisiatiewe ingestel [om meer omgewingsvriendelik te wees].”

Suid-Afrika het vanjaar vyf pryse by die Icons of Whisky-toekennings vir 2020 ontvang.

Big Five Duty Free is aangewys as reishandelaar van die jaar en Whisky Brothers as kleinhandelaar van die jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Whisky of Whiskey? Ai dis jammer ons sal moet wag om te proe.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Pieter

Dankie vir die navraag. Whisky en whiskey kan volgens die HAT-woordeboek as wisselvorme gebruik word. Maroela Media het besluit om in hierdie artikel by whisky te bly.
Veilig bly!

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.