Soorte resepte:

Wen: Dié wynreeks sê drink wat oop is (in Afrikaans!)

Hannes en Jeanri van Zyl het in Desember 2020 begin om die Wat wil jy drink?-wynreeks te ontwikkel. (Foto: Verskaf)

“My man, Hannes, vra gereeld vir my wat ek wil drink, en dan sê ek gewoonlik iets soos ‘ek weet nie’ of ‘dit wat oop is’. In Desember 2020 het hy ʼn bietjie moeg vir my besluitelose antwoorde geraak en besluit om presies te maak wat ek soek,” vertel Jeanri van Zyl oor die wynreeks, Wat wil jy drink?, wat sy en haar man Hannes begin het.

Hannes meen met hierdie wyn hoef mense nou nie meer te wonder wat om te skink nie. “Ons almal het al die frustrasie ervaar wanneer daar oor wyn besluit moet word, maar met hierdie wyn kan jy selfs met ʼn antwoord soos ‘Iets lekkers’ ʼn goeie glas wyn ingooi.

“Wat wel nie maklik is nie, is dat baie mans nou ‘kwaad’ is vir my. Hulle meen ek het die standaard baie hoog gestel deur vir my vrou ʼn wynreeks te begin en dat hulle moeilik daarop sal kan verbeter. Ek lag dan maar net en sê dat die wyn juis daar is om dinge vir hulle makliker te maak,” vertel hy laggend.

Die Wat wil jy drink?-wynreeks bestaan uit drie wyne: Ek weet nie (chenin blanc), Iets lekkers (perlé rosé) en Dit wat oop is (pinotage/cabernet sauvignon). “Dit was natuurlik die antwoorde wat ek die meeste op sy vraag oor wat ek wil drink, gegee het,” voeg Jeanri by.

Volgens Hannes is Dit wat oop is ʼn gemaklike drinkwyn. “Die versnit is ʼn tradisionele cape blend en hoewel baie mense dink dat die cabernet sauvignon wat daarin is, dit swaar maak, is dit nie so nie.”

‘Iets lekkers’ is die perlé rosé van Wat wil jy drink?-wynreeks. (Foto: Verskaf)

Iets lekkers is verreweg ʼn gunsteling. “Die wyn is nie soet nie, maar daar is ʼn tikkie vonkel in die wyn. Wat goed werk, is wanneer jy wyn soos ʼn slushy drink terwyl jy op ʼn luilekker somersdag langs die swembad lê.”

Mense wat soms aandui dat hulle ʼn voorkeur vir sauvignon blanc het, hou nogal van Ek weet nie, meen Hannes. Hy sê dié wyn werk goed saam met hoender of vis wat jy op die kole gebraai het.

Die etikette van die Wat wil jy drink?-wynreeks. (Foto: Verskaf)

As hy nou daaraan terugdink, was dit eintlik baie waaghalsig om ʼn nuwe besigheid in die Covid-19-pandemie te begin.

“Ons het te midde van die grendeltyd, waar jy boonop ook nie drank kon koop of verkoop nie, hiermee begin. So, dit is eintlik ʼn bietjie mal, maar ek het die geleentheid raakgesien om vir mense ʼn antwoord op al die moeilike wynvrae te gee.

“Dit was ʼn lang proses, maar ons het dit deurgedruk en vandag is ek regtig opgewonde oor hierdie projek wat ek en my vrou saam kan doen.”

Die wyn het sy oorsprong in die Nuy-vallei in Worcester, en dit is ook waar ʼn wynkelder die bottelering behartig. Op die etiket pryk die wyn se naam saam met ʼn vraagteken wat lyk asof dit om ʼn vrou se gesig krul.

“Dit is inderdaad ʼn voorstelling van my vrou se gesig. Ek wou dit graag so gehad het,” sê Hannes.

Die Wat wil jy drink?-wynreeks deur Hannes en Jeanri van Zyl. (Foto’s: Verskaf)

Skryf so in

Drie Maroela Media-lesers staan die kans om ʼn versameling van Wat wil jy drink?-wyn te wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 28 September om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 28 September om 23:45.
  • Die wenner sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant geruil word nie.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.
  • Die versending van die wenners se pryse word nie deur Maroela Media behartig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.