Soorte resepte:

Resep: Die Demperse se wen-wortelkoek

Die Demperse se wen-wortelkoek. (Foto: KosMosTyd)

Jou huisgesin is dalk nie ingenome met wortels nie, maar hierdie wortelkoek sal beslis hul harte verower.

Maak gerus hierdie wortelkoek uit Laerskool Bakenkop se resepteboek, KosMosTyd, wanneer jy lus is vir iets soets.

Bestanddele

Koek

  • 500 ml koekmeel
  • 375 ml suiker
  • 5 ml bakpoeier
  • 5 ml koeksoda
  • 5 ml sout
  • 5 ml kaneel
  • 125 ml pekanneute
  • 250 ml kookolie
  • 4 eiers
  • 750-1000 ml gerasperde wortels (250 ml wortel kan met 250 ml fyngedrukte piesang vervang word)

Roomkaasversiersel

  • 150 g roomkaas
  • 125 ml sagte botter
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 500 ml versiersuiker, gesif
  • gekapte pekanneute

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Meng al die droë bestanddele en pekanneute saam.
  3. Voeg die olie en eiers by die droë bestanddele en meng deeglik.
  4. Voeg die wortels by mengsel en meng goed. Meng die fyngedrukte piesang deeglik by.
  5. Smeer 2 x 20 cm‑koekpanne met botter.
  6. Verdeel die beslag eweredig tussen die koekpanne en bak vir ongeveer 30-40 minute tot gaar.
  7. Verwyder uit die oond en laat deeglik afkoel.
  8. Versiersel: Meng die roomkaas en botter saam tot goed gemeng.
  9. Voeg die vanieljegeursel by en meng.
  10. Voeg die versiersuiker laaste by, meng goed en maak seker daar is geen klonte nie.
  11. Smeer versiersel oor koek sodra dit afgekoel het.
  12. Strooi pekanneute bo-oor die koek.

KosMosTyd kan teen R150 hier aangeskaf word.

Bron: KosMosTyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.