Soorte resepte:

Resep: Pampoen-en-feta-trekbrood

Pampoen-en-feta-trekbrood. (Foto: Lapa Uitgewers)

Dié tuisgebakte brood sal ewe goed werk vir ʼn laatmiddag peuselhappie en ʼn voorgereg of bykos.

Lewer 1 brood

Bestanddele:

  • 1 x 10 g-pakkie kitsgis
  • 10 ml (2 t) strooisuiker
  • 250 ml (1 k) louwarm water
  • 750 ml (3 k) witbroodmeel
  • 5 ml (1 t) sout
  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 1 eier, liggies geklits
  • 400 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 100 g fetakaas, in 1 cm-blokkies gesny
  • 12 vars salieblare

Metode:

  1. Meng die gis, suiker en louwarm water in ʼn maatbeker. Klits die mengsel tot die gis opgelos het en laat dit vir 10 minute op ʼn warm plek rus tot dit skuimerig is.
  2. Sit die meel in ʼn groot mengbak en roer die sout, gismengsel en olyfolie by die meel. Meng alles tot dit ʼn sagte deeg vorm.
  3. Knie die deeg vir 10-15 minute op ʼn meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties.
  4. Smeer ʼn mengbak liggies met olyfolie, plaas die deeg daarin en bedek die bak met kleefplastiek. Laat die deeg op ʼn warm plek rys vir 1 uur tot dubbel die volume.
  5. Knie die deeg weer af tot glad.
  6. Voorverhit die oond tot 200 °C en voer ʼn bakplaat uit met bakpapier. Smeer ʼn 10 x 20 cm-broodpan.
  7. Rangskik die botterskorsie op die voorbereide bakplaat en bak vir 20 minute of tot sag. Laat dit afkoel.
  8. Rol die deeg uit op ʼn meelbestrooide oppervlak tot ʼn reghoek van 15 x 25 cm. Strooi die botterskorsie en feta oor die deeg. Rol die deeg soos ʼn rolkoek op en sny dit in 12 porsies.
  9. Rol die deegporsies in balletjies en rangskik 6 van die balletjies in ʼn sigsagpatroon. Plaas van die salieblare bo-op die balletjies. Rangskik die oorblywende balletjies in ʼn teenoorgestelde sigsagpatroon.
  10. Bedek die deegballetjies liggies met kleefplastiek en laat dit vir 40-45 minute op ʼn warm plek rys tot dubbel die volume.
  11. Verf die geklitste eier oor die deeg en druk die oorblywende blare in die deeg.
  12. Bak vir 30 minute tot goudbruin en gaar. Keer die brood op ʼn draadrakkie uit om af te koel. Bedien teen kamertemperatuur.

Bron: 50 sop-en-broodgeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.