Soorte resepte:

Resep: Ta’ Ellie se onverbeterlike melktert

Melktert

(Foto: Argieffoto)

Maroela Media-leser Julie Jansen van Rensburg vertel dat hierdie melktert vir die eerste keer gebak is toe sy en haar man, Rudolf, in November 1956 getrou het, en dat hulle die resep daarna skelmpies by ’n buurvrou gesteel het.

“Ons het nie daardie tyd ’n yskas gehad nie, maar ons buurvrou, ta’ Ellie, het een gehad, en sy het voorgestel dat Ma en ons ander buurvrou, ta’ Frieda, na haar huis gaan en die terte daar bak sodat hulle die nag in haar yskas kon staan.”

Terwyl Julie die Vrydag Ermelo toe is om haar hare te laat doen en blomme af te haal, is haar ma en ta’ Frieda na ta’ Ellie toe om die bakwerk te doen.

“Nou, dié ta’ Ellie was iemand wat nooit, maar nóóit ’n resep met iemand gedeel het nie,” vertel Julie.

“Daar kom toe die een of ander bestanddeel kort en ta’ Ellie sê sy sal gou na die winkel ry om dit te gaan koop. Maar sy sorg toe dat daar geen skryfding in die kombuis rondlê nie, en die deur na die binnevertrekke is gesluit!”

“Toe haar motor wegtrek, is Ma onmiddellik op die foon en bel een van haar huiswerkers in met ’n potlood en papier.”

Julie sê die twee opstalle was maar 500 tree van mekaar af, en skaars twee minute later kom die huiswerker soos ’n dwarrelwind daar aan met gevraagde potlood en papier.

Haar ma begin naarstiglik skryf en is net klaar toe ta’ Ellie se motor weer die werf binnekom.

“Toe ta’ Ellie binnekom, is Ma en ta’ Frieda doodonskuldig besig om nog bestanddele aan te maak. En so het ons toe die gesogte resep in die hande gekry.”

Julie vertel dat ta’ Ellie tot tien jaar later steeds geweier het om dié melktertresep met enigiemand te deel, min wetend dat hulle dit daardie dag voor haar troue neergeskryf het en daarna al wyd en syd gedeel het.

Nota: Ek gebruik die standaardgrootte 225 ml-koppie

Bestanddele

PAP

  • 1½ k meel
  • 1 L melk
  • 3 eiers, geskei (hou die witte eenkant vir latere gebruik)
  • ½ k botter/margarien
  • ¼ k suiker

KORS

  • ⅓ k suiker
  • 113 g botter
  • 1 eier
  • 1¼ k meel
  • 1 t bakpoeier
  • bietjie sout

Metode

PAP

  1. Maak ’n gladde, slap beslag met die meel, eiergele en ’n bietjie van die melk aan.
  2. Bring die res van die melk saam met botter en suiker tot kookpunt.
  3. Voeg meelmengsel stadig by bottermengsel en roer goed tot dit dik word en begin kook. Laat staan op baie lae hitte.

KORS

  1. Verroom suiker en botter saam. Voeg eier by, dan droë bestanddele, en knie goed. Deel deeg in twee.
  2. Voer twee 20 cm-tertpanne uit (jy kan ook die weggooibare tertpanne in die supermark koop – kry ’n pak 800 ml-panne). Maak seker dat kors tot bo teenaan rande kom.
  3. Klits eierwitte tot baie styf, vou helfte daarvan in papmengsel en skep in panne. Maak mooi gelyk bo-op.
  4. Bak by 180 °C totdat korse mooi bruin is. Die pap sal rys in die panne – moenie daaroor bekommerd wees nie! Sodra hulle uit die oond kom, strooi suiker en kaneel oor – moenie snoep wees met die kaneel nie! Laat koud word.

Het jy ’n lekker resep wat jy met ons kan deel? Stuur dit vir ons hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Baie dankie vir die resep – maar wat gebeur met die ander helfde van die geklitste eierwitte in punt nommer 6?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.