Soorte resepte:

Heerlijk Nastergal zonder gelijke – ’n eg Suid-Afrikaanse delikatesse

Nastergal word as ’n onkruid beskou, wat swartpers bessies dra (wanneer dit ryp is) en in Suid-Afrika hoofsaaklik in die mielielande op plase aangetref word. (Foto: Verskaf)

Deur Jandrí Barnard

Op 26 Maart 2021 is Suid-Afrika reeds ’n jaar lank in ’n staat van nasionale inperking, wat ons lewens op verskeie vlakke onherroeplik verander het. Deurdat ons meer tuis gebly het, het ons eetgewoontes terugbeweeg na tradisionele kos omdat meeste van ons ons eie tuisgebakte brood en ander bakvaardighede op die proef gestel het die afgelope jaar. En daarmee saam is daar nie ’n beter pasmaat as konfyt nie. Veral eg Suid-Afrikaanse nastergalkonfyt.

Nastergal word as ’n onkruid beskou, wat swartpers bessies dra (wanneer dit ryp is) en in Suid-Afrika hoofsaaklik in die mielielande op plase aangetref word, waar dit deur die meeste boere liewers uitgeroei word.

Nastergal (nightshade berry) of tradisioneel bekend as Umsobo in die plaaslike tong groei natuurlik in dele van KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Hoëveld van Mpumalanga. Die groen bessie het ’n bitter smaak, maar die ryp swartpers bessie van die Solanum retroflexum-plant moet dieselfde dag wanneer dit geoes word, gekook en omskep word in ’n dieppers konfyt. Hierdie bessies het ’n kort rakleeftyd en kan nie eens oornag in ’n yskas gebêre word nie of dit kan bederf.

By Heerlijk (Pty.) Ltd Co. aan die voet van die noordelike Drakensberge, word hierdie arbeidsintensiewe bessie gepluk vanaf Februarie tot begin April. Gedurende hierdie tydperk word werkgeleenthede geskep vir meer as 200 werkers om in die veld die klein bessies te pluk of konfyt in klein maat te kook tydens die seisoen. Heerlijk is tans besig met hul tweede jaar se oes, nadat die eerste oes net betyds klaar was voor die nasionale inperking in 2020. Die ryp bessies is amper pikswart en gevul met vitamien C. Daar word beweer dat die nutriënte in hierdie bessie ook kan help teen hartsiektes, lewersiektes en ooginfeksies. En by die Tswana- en Sotho-bevolkings het die swart bessies in die verlede ’n belangrike deel van hul geestelike reëndansritueel gevorm, deurdat die swart vruggies donderweerwolke en die hoop op reën gesimboliseer het.

Erick en Wiida is ’n formidabele span – Erick beman die werk op die lande en vervoer die varsgeplukte nastergalbessies terwyl Wiida met haar span gereed staan om die bessies te sorteer en gradeer, om daarna konfyt te begin kook. (Foto: Verskaf)

Maar Heerlijk Nastergal is nie so ’n jong produk as wat dit eers voorkom nie, maar eerder ’n familie erfstuk wat oorgedra is van die een generasie na die ander. Wiida Badenhorst se ma, Elize Conradie, het jare terug die familieresep om die bitter nastergalbessies in heerlike soet konfyt te omskep, vervolmaak op hul plaas Skaterwater naby Bothaspas in KwaZulu-Natal. Die Umsobo-konfyt was toe reeds sinoniem vir kwaliteit en smaak by verskeie padstalle landwyd. Ná Wiida se ouers se aftrede, het sy en haar man die geloofsprong geneem om terug na hul wortels, die plaaslewe, te keer – al is dit net vir ’n paar maande van die jaar.

Erick Badenhorst was deel van die korporatiewe wêreld vir meer as 30 jaar as ’n prokureur maar het self op ’n plaas grootgeword, dieselfde as Wiida. Dus was die plattelandse lewe glad nie onbekend vir hulle nie. Maar ná die terugkoms van sabbatsverlof het Erick saam met Wiida die projek aangepak om nastergalbessies te plant aan die voet van die Drakensberge in die Bergville-distrik by Oliviershoekpas, KwaZulu-Natal op Erick se familiegrond.

Bekend as ’n familieprojek, het Wiida se ouers (letterlik) die saadjie van nastergalproduksie by hulle geplant, met die bystand van drie generasies van die Badenhorst-familie wat hierdie saadjies help groei en ontwikkel het tot ’n suksesvolle oes. Verder is Erick en Wiida ’n formidabele span – Erick beman die werk op die lande en vervoer die varsgeplukte nastergalbessies terwyl Wiida met haar span gereed staan om die bessies te sorteer en gradeer, om daarna konfyt te begin kook.

Konfytkastrolle staan op gasstowe en prut met donkerpers bessiestroop in die familieskuur, net langs die skuur waar Erick en Wiida getrou het nadat hulle as studente op Stellenbosch ontmoet het.

Die konfyt word in klein hoeveelhede gekook in konfytkastrolle om die kwaliteit, kleur en tekstuur van heel bessies in die konfyt behou tot die eindproduk in glasbottels. Om hierdie erfeniskookkuns voort te sit, om konfyt uit toeka se dae te kook met liefde en sonder fieterjasies, word niks bygevoeg – geen kleurmiddels of geurmiddels. Slegs vars geplukte nastergalbessies en suiker.

Die konfyt word in klein hoeveelhede gekook in konfytkastrolle om die kwaliteit, kleur en tekstuur van heel bessies in die konfyt behou tot die eindproduk in glasbottels. (Foto: Verskaf)

Hiervoor staan Heerlijk Nastergal vandag reeds bekend as ’n unieke Suid-Afrikaanse delikatesse-produk, vasgevang in ons geskiedenis se erfenis van verskeie kulture wat oorgedra word van generasie tot generasie vir die toekoms. Heerlijk Nastergal kan deel wees van ontbyt, jou hoofmaal opkikker of nagereg uniek maak vir jou familie, gaste of net jouself.

As jy nog nie voorheen hierdie smaak ervaar het wat as ’n kombinasie van bloubessies en moerbeie beskryf kan word, kan jy gerus nastergalkonfyt probeer op warm roosterbrood of meng met jogurt.

Ander opsies om jou Heerlijk Nastergal-konfyt te geniet:

  • Roosterkoek met nastergal en camembert
  • Nastergal en chiasaadjie-kompot
  • Varsgebakte botterbroodjies met nastergal en room
  • As ’n stroop oor roomys of jogurt
  • Nastergal (en roomys of room) oor wafels of plaatkoekies
  • Deel van smoothies of melkskommels

Besoek Heerlijk – zonder gelijke se webblad by www.heerlijk.co, of stuur ‘n e-pos aan [email protected]. Gaan loer ook op Heerlijk se Facebookblad of Instagram vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aikie ·

Die nastergal ís heerlik en die soetste soet wat ek ooit geproe het. My skoonma het dit vir ons al die jare gemaak. Ons moes net die plukwerk doen. Baie werk vir ‘n bietjie bessies, maar die moeite werd, hoewel ek hoor die groen bessies is giftig, dus, pluk net die behoorlike pers bessies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.