Soorte resepte:

‘Kokkedoor’-beoordelaars vuur en vlam vir dié seisoen

Bertus Basson. (Foto: kykNET)

Die gewilde Afrikaanse werklikheidsreeks Kokkedoor, wat vanjaar weer ʼn hoofgereg op kykNET se spyskaart is, gaan sorg vir ure se kosvermaak saam met twee nuwe beoordelaars, die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha.

Kokkedoor Vuur & vlam sal van Julie op kykNET uitgesaai word. Vir dié seisoen gaan deelnemers alles in die vlamme, oor die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei.

Basson is een van Suid-Afrika se topsjefs en is ook die afgelope twee jaar die aanbieder van kykNET se werklikheidsreeks In die sop, waar hy en ʼn span kundiges ingespring het om nuwe lewe in restaurante in die land te blaas.

Botha, Basson se medebeoordelaar, is die braai-ghoeroe wat internasionaal die braaivleisvure hoog laat brand.

Hy woon die afgelope paar jaar in Frankryk waar hy in ʼn braaisensasie ontpop het. Dit is juis vanweë sy vindingrykheid en kreatiwiteit oor die kole by private kuiers en spoggeleenthede dat hy ook daar groot aansien geniet.

Botha, oorspronklik van Oudtshoorn, besoek Suid-Afrika nog gereeld. Sy boek, Le braai – Braai with a bit of je ne sais quoi, is in 2019 uitgereik.

Die Kokkedoor-tafel is in 2013 vir die eerste keer vir kykers gedek en oor die jare het sustersprogramme van die reeks, waaronder Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie, geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.

Skryf in

Kobus Botha. (Foto: kykNET)

kykNET is nou op soek na die perfekte span wat bestaan uit ʼn Onthoubraaier en ʼn Kinkelbraaier, wat vurig is om kos oor die kole gaar te maak.

Wat is die verskil tussen hierdie kokke? ʼn Onthoubraaier het nie formele sjefsopleiding en professionele ondervinding nie, maar sy of haar hart klop warm vir tradisionele kos. Dié braaiers word gekies op grond van hul vernuf as ʼn tuisbraaier en hul kennis van onthoukos.

Daarenteen word Kinkelbraaiers gekies juis op grond van hul kwalifikasies of ondervinding in ʼn erkende restaurant of professionele kombuis.

Kokkedoor Vuur & vlam word deur Homebrew Films vervaardig.

Skryf só in:

Besoek www.kyknet.tv, stuur ʼn video per WhatsApp-boodskap na 064 736 5013 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Elke persoon se inskrywingsvideo, maksimum van drie minute lank, moet die volgende inligting bevat:

  • Stel jouself bekend;
  • Vertel wie jy is;
  • Waar kom jy vandaan;
  • Is jy ʼn Onthou- of ’n Kinkelbraaier, en hoekom;
  • Hoekom wil jy deelneem?

Reëls:

Hoe oud moet iemand wees om deel te neem? Jy moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie.

Kan enigiemand inskryf? Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger wat ʼn geldige identiteitsdokument het, kan inskryf.

Wanneer vind die oudisies plaas? Vir diegene wat die kortlys haal, sal oudisies in Februarie plaasvind.

Wanneer en waar gebeur verfilming? Persone wat deurdring om deel te neem, moet gedurende April en Mei in die Kaap-omgewing beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonny ·

Diè program en boer soek n vrou is ons hoogte punt van die jaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.