Soorte resepte:

Kosteater-ervaring wil harte, siele voed

Tiaan Ras bied ‘n unieke kosteater-ervaring aan waar hy ook van sy stories vertel. (Foto: Verskaf)

Met sy Storie-etes skep Tiaan Ras nie net ʼn geleentheid vir hom om saam met ander kunstenaars uiting aan hulle kreatiwiteit te gee nie, hy nooi ook medestorieliefhebbers en smulpape om dit saam met hulle te kom geniet.

Dié unieke kosteater-ervaring het nou twee nuwe aanbiedings, Sondagstories en Nuut: Skepping, wat eersdaags in Pretoria en Stellenbosch plaasvind.

“Saam met mooi klavierspel en sang kry jy goeie stories, ʼn Sondagete wat jou siel sal salwe, en goeie wynkyse (wine pairing) om die kos net nog lekkerder te maak,” vertel Ras.

Sondagstories is ʼn kabaret in drie dele oor die stories van menige Suid-Afrikaner se kinderjare, en deur middel van woordsketse en -skertse word verlies en nuwe seisoene in Nuut: Skepping gevier.

Ras onthou hoe hy self as kind Sondae sy beste klere aangetrek het om vroegoggend kerk toe gegaan. Daarna het ʼn feesmaal uit sy ma se Sondagborde op hulle gewag.

“In die eetkamer het ons goeie kos wat ure lank met liefde en geduld voorberei is, om ʼn gedekte tafel geëet. Met wyn vir die grootmense, en kelkies soetwyn vir die kinders. Na ete het almal lang ure om die tafel sit en stories vertel,” onthou hy.

Dit is met hierdie herinneringe in gedagte dat Ras ʼn eietydse ervaring wou skep wat die Sondae van ons kinderdae vier.

Bo en behalwe die stories, is die feesmaal ook ʼn hoogtepunt van Tiaan Ras se Storie-etes. (Foto: Verskaf)

Bo en behalwe die stories, is die feesmaal ook ʼn hoogtepunt van die geleentheid. Ras verklap dat dit egter nie so maklik is om monde in Afrikaans te laat water nie.

“Dit is soms nogal ʼn uitdaging om ʼn spyskaart in mondwater-Afrikaans te vertaal. Soms moet mens maar ʼn woord of twee opmaak om mense opgewonde te kry. Maar ons is tog in die skeppende bedryf, so ons skep graag nuwe dinge.”

Op die Sondagbord sal daar disse te kus en te keur wees: oondgebakte biefstuk onder ʼn rooiwynjus-kombers, botterblink-worteltjies, groenbone met ʼn balsemiekreduksie en geroosterde sesamsaad, Yorkshirepoeding én ʼn Griekse slaai wees.

Dan volg die nagereg, oftewel tergtertjies. “Ons het die woord ‘tergtertjies’ spesiaal vir Sondagstories se spyskaart uitgedink. Daar is brandewyn-, Peppermint Crisp- en suurlemoenmeringue-tertjies,” verduidelik Ras.

Met hierdie storie-etes is Liesl du Plessis (klavier), Klaus-Louis Janse van Vuuren (stem), en Wouter van Wyk (stem en klavier) die kunstenaars wat saam met Ras vir die vermaak sorg.

Sondagstories word op 11 September in Pretoria aangebied en op 2 Oktober by Middelvlei-wynlandgoed in Stellenbosch. Kaartjies kan by [email protected] bespreek word.

Op 25 September word Nuut: Skepping in die styl van ʼn piekniek in Pretoria aangebied en op 30 Oktober is Middelvlei-wynlandgoed die gasheer vir die Stellenbosse aanbieding van dié ete. Kaartjies kan by [email protected] bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.