Soorte resepte:

Om wyn te drink … in Afrikaans

Afrikaans Vol. V (Foto: Verskaf)

Klink gerus volgende keer ʼn glasie op dié eg-Afrikaanse wyne (in alfabetiese volgorde volgens wynkelder):

Afrikaans Vol. V

Jean Engelbrecht, eienaar van die Rust en Vrede-wynlandgoed, sê die wyn genaamd, Afrikaans, is in 2019 ter viering van Afrikaans as taal geskep. Dit is die destydse polemiek oor Afrikaans op universiteitskampusse wat hierdie behoefte by Jean laat posvat het.

Met die wyn, Afrikaans, beywer Jean hom die afgelope jaar om mense uit verskillende taalgroepe met mekaar te versoen. Daar is dus geen politieke agenda wat hierdie produk dryf nie, trouens, die hoop is dat Afrikaans eerder ʼn taal van samesyn word.

“Afrikaans, die wyn, het sy oorsprong daarin om weg van die taal as politieke speelbal te beweeg. Ons wou ʼn wyn skep wat Afrikaans in al sy gedaantes vier, ongeag wie dit praat of geniet.

“Boonop bring wyn mense nader aan mekaar. As jy ʼn glasie wyn klink bevorder dit kommunikasie tussen mense en dit bou brûe,” vertel Jean aan Maroela Media.

Vandat die wyn die eerste keer gemaak is, pryk daar elke jaar ʼn gedig met die titel, “my taal”, agter op die bottel. Kunstenaars soos Elvis Blue, Adam Tas en Stef Bos se woorde het al voorheen op die bottels verskyn en daar is reeds nog bekendes wie se name in die toekoms by hierdie lys gevoeg sal word.

Daar is tans twee wyne in die Afrikaans Vol. V-reeks: ʼn chenin blanc/chardonnay-versnit (2022) en ʼn cabernet/cinsault-versnit (2021).

Babylonstoren se Nebukadnesar (Foto: Verskaf)

Babylonstoren se Nebukadnesar

Babylonstoren, een van die oudste Kaaps-Hollandse plase aan die voet van die Simonsberg in die Franschhoek-wynvallei, is bekend vir sy merkwaardige tuin. Dié tuin word op ʼn sonderlinge wyse deur Babylonstoren se wynkelder gevier met ʼn wyn wat hulle Nebukadnesar noem.

Volgens die wynmaker Charl Coetzee is dit geïnspireer deur die Hangende Tuine van Babilon, wat as een van die sewe wonders van die antieke wêreld beskou is.

Koning Nebukadnesar II het glo die Hangende Tuine van Babilon langs ʼn groot paleis vir sy vrou, koningin Amitis, wat van Medië afkomstig was, laat bou. Die tuin het uit ʼn groot verskeidenheid bome, struike en wingerde bestaan. Koningin Amitis het na Medië se groen heuwels en valleie verlang, want in teenstelling daarmee was Babilon ʼn plat, dor landskap.

Babylonstoren se tuin (Foto: Verskaf)

“Alles wat ons by Babylonstoren doen, doen ons om die tuin te vier. Die Nebukadnesar-versnit bestaan uit vyf variëteite en daarom is dit baie divers. Net so, is ons tuin ook divers.”

Nebukadneser is ʼn rooiwynversnit van cabernet sauvignon, merlot, cabernet franc, petit verdot en malbec.

Groote Post se Kapokberg Chardonnay

Kapokberg is Groote Post se vlagskipwynreeks. ʼn Mens kan in pleks van “kapokberg” ook na ʼn “sneeuberg” verwys.

Die wyn se naam het ontstaan uit die heuwel waarop hierdie wingerd geleë is, se ligging. In vervloë dae was dit met wit lenteblomme bedek en dan het dit soos ʼn sneeubedekte berg gelyk. Die heuwel is 459 m bo seespieël en ook die hoogste een by Groote Post.

Lanzerac se Keldermeester Bergpad (Foto: Lanzerac Wine Estate/Facebook)

Lanzerac se Keldermeester Bergpad 2017  

Lanzerac se Keldermeesterversameling bestaan uit drie wyne: Kurktrekker, Bergstroom en Bergpad. Bergpad is ʼn pinot blanc wat van ʼn enkel wingerdblok in die Jonkershoekvalllei in Stellenbosch af kom.

Die naam vir hierdie wyn is van die bekende bergpad afkomstig wat vanaf Coetzenburg, die Universiteit Stellenbosch se sportgronde, al langs die Stellenboschberg na die Lanzerac-wynlandgoed in Jonkershoek loop. Hierdie pad het oor dekades ʼn bekende landmerk vir plaaslike en universiteitsportgeleenthede, sowel as buitelug-entoesiaste geword.

Lowerland se Die verlore bokooi (Foto: lowerland.co.za)

Lowerland se Die verlore bokooi 2021

Volgens ʼn verduideliking op Lowerland se webwerf, is die wynplaas se logo geïnspireer deur kruissteekborduurwerk van Riza Coetzee wat teen die mure van die plaashuis hang.

ʼn Voorstelling van hierdie borduurwerk op Die verlore bokooi-wynetiket, vertel die Prieska-streek se storie in meer besonderhede. Volgens Lowerland is die naam “Prieska” afkomstig van die Korana-woorde “beris” en “gab” wat in Afrikaans as “plek van die verlore bokooi” vertaal kan word.

Die verlore bokooi is ʼn rooiwynversnit van shiraz, cabernet sauvignon, petit verdot en merlot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Knorknaap ·

Natuurlik nie vergeet van Hermanuspietersfontein se wyne nie. Wyne soos:

Kat met die Houtbeen (een van my gunsteling Sauvs), Skoonma, Swartskaap, Kaalvoet Meisie, Kleinboet, Posmeester, ens.

Bernard ·

Stunning dat Afrikaanse etikette ‘n comeback maak heh, heh

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.