Soorte resepte:

Resep: Heelgroenvyekonfyt

Heelgroenvyekonfyt. (Foto: Lapa Uitgewers)

Sit dié konfyt voor saam met bloukaas of stapel dit op camembert.

Lewer ± 1 kg

Bestanddele

  • 1 kg groen vye
  • 60 ml sout
  • 15 ml koeksoda (opsioneel)
  • 1 l water
  • 1 kg suiker
  • 125 ml water

Metode

  1. Laat die stamgedeelte van die vye aan en sny ʼn kruisie aan die onderkant van die vye met ʼn klein, skerp messie.
  2. Plaas die vye in ʼn groot glasbak, strooi die sout oor, gooi genoeg koue water op om die vye te bedek en roer goed totdat al die sout opgelos is. Sit ʼn bord oor die glasbak om die vrugte onder te hou en laat dit oornag staan.
  3. Vul die volgende dag ʼn groot swaarboomkastrol met water, voeg die koeksoda by en verhit tot kookpunt. Die koeksoda sal ʼn mooi groen kleur verseker.
  4. Verhit die 1 I water in ʼn groot kastrol tot kookpunt, dreineer die vye, plaas dit geleidelik in die kookwater en kook sonder ʼn deksel vir 25-30 minute of tot die vye net sag is.
  5. Hou ʼn groot bak vol koue yswater gereed. Gooi die vye dadelik daarin om die kookproses stop te sit, om sodoende die helder groen kleur te behou. Laat dit heeltemal afkoel en dreineer die vye goed.
  6. Verhit die suiker en (125 ml) water in ʼn ander kastrol oor lae hitte, roer tot dit opgelos is, verhoog die hitte en kook dit 5-10 minute. Skep enige skuim af wat gevorm het. Plaas die vye geleidelik in die kokende stroop. Verwyder dit van die hitte, bedek met ʼn bord om die vrugte onder die vloeistof te hou en laat oornag in die stroop staan.
  7. Verhit die volgende dag die kastrol tot kookpunt, laat dit stadig prut vir 2-2½ uur totdat die vye deurskynend en glansend is.
  8. Lig die vye uit die stroop en rangskik dit in warm gesteriliseerde bottels.
  9. Kook weer die stroop vir 10-15 minute tot dit dik is en dieselfde digtheid van heuning het.
  10. Giet dit in die bottels tot die vye heeltemal bedek is en verseël.

Bron: Bottel & Gebruik
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Moet die vye al begin ryp word? Weet nie wanneer om te pluk nie!

LIEZL ·

Word Oktober maand gepluk wanneer dit nog groen is.
Ons lê elke jaar in

Piet ·

Weet ek nou nie waarvoor hierdie pot water is nie: – Vul die volgende dag ʼn groot swaarboomkastrol met water, voeg die koeksoda by en verhit tot kookpunt. Die koeksoda sal ʼn mooi groen kleur verseker.

LIEZL ·

In hierdie water kook jy die vye tot sag, haal uit, sit op draadrak en kry suikerwater reg om weer vye daarin te kook vir bottel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.