Soorte resepte:

Resep: ‘Jan Braai’ se varknekkerrie

‘Jan Braai’ se varknekkerrie. (Foto: verskaf)

Ek het geen idee hoe hierdie kerrie smaak as hy koud is of die dag ná die braai nie. My gaste verorber hom sommer dadelik. Die verhouding goeie kos tot moeite is ook baie hoog en as dit jou meer as ’n uur neem van die eerste stap tot jy opskep, doen jy iets verkeerd. Die varknektjops is klaar sag, so hulle hoef nie ure te prut nie. Die twee sopies medium kerriepoeier in die resep is nie ’n drukfout nie, so gooi alles by. Medium kerriepoeier het regtig nie baie brandrissie in nie. As jy soveel bygooi, gee dit die maaltyd lekker baie geur, maar is die gevaar dat jy of jou gaste julle monde gaan verbrand nie groot nie.

Genoeg vir 4 mense

Bestanddele

  • 8 varknektjops
  • 1 suurlemoen (sap)
  • 1 sopie olie of botter
  • 2 uie (opgekap)
  • 4 huisies knoffel (opgekap)
  • vars gemmer (dieselfde hoeveelheid as die knoffel, gerasper)
  • 2 sopies medium kerriepoeier
  • 2 sopies appelkooskonfyt
  • 2 sopies tamatiepasta (of ’n 50 g-pakkie)
  • ½ sopie sout
  • 2 k water
  • 1 k vars room

Metode

  1. Sny elke varknektjop in die helfte, gooi in ’n bak en druk die suurlemoensap daaroor uit. Wikkel die spulletjie rond en versprei die suurlemoensap eweredig.
  2. Verhit die olie in jou potjie en braai die uie vir omtrent 4 minute.
  3. Gooi nou die knoffel, gemmer en kerriepoeier by en roer die spulletjie vir ’n minuut rond.
  4. Voeg die varktjops by en braai in die potjie tot hulle almal ’n bietjie kleur het.
  5. Gooi die appelkooskonfyt, tamatiepasta en sout by en roer deeglik.
  6. Nou gooi jy ’n bietjie van die water by en gebruik dit om die taai stukkies teen die potjie se bodem los te krap. Sodra jy tevrede is, gooi die res van die water in en meng.
  7. Verhit die potjie tot hy prut en sit die deksel op. Ná 20 minute, haal die deksel af en laat hom so oop prut totdat die helfte van die vloeistof weggekook het.
  8. Meng die room by en laat dit aanhou prut totdat die helfte van die vloeistof weer weggekook het. Eintlik laat jy maar net die potjie kook totdat die sous vir jou dik genoeg is.
  9. Haal die potjie van die vuur af en bedien met kapokaartappels
  • Jan Braai vir erfenis word weekliks op Saterdae om 19:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Jubba

Baie dankie vir jou navraag.
‘n Sopie is ‘n “tot glass” of “tot measure” wat ongeveer 25 ml is en kan sommer so met die oog geskat word.
Hoop dit verskaf meer duidelikheid.

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.