Soorte resepte:

Resep: Oop partytjiepastei

Oop partytjiepastei. (Foto: verskaf)

Moenie ná werk ʼn draai by die winkels maak vir ʼn pastei nie, bak hierdie heerlike oop pastei sommer self.

Maak 8 oop pasteie

Bestanddele

Béchamel

  • 250 ml volroommelk
  • 30 g botter
  • 20 g meel
  • groot knypie sout
  • 1 t mosterdpoeier
  • tikkie gemaalde neutmuskaat

Pastei

  • 2 x 250 g velle skilferkorsdeeg
  • 100 g pancetta, gehalveer
  • 150 g aspersiestingels, 16 stingels
  • 250 g klein portobellini -of klein knopiesampioene, gehalveer
  • 40 g Parmesankaas, gerasper
  • 1 groot eier, liggies geklits vir bestrykeier
  • olyfolie
  • sout en peper na smaak

Metode

Béchamel

  1. Verhit die melk in ’n klein kastrol oor lae hitte. (Moenie dat enige melk verdamp nie)
  2. Smelt die botter in ’n tweede, bietjie groter kastrol.
  3. Voeg die meel by wanneer dit gesmelt het.
  4. Kook vir ongeveer 2 minute terwyl jy konstant klits. Die mengsel moenie donkerder raak nie, maar moet ’n ligte goue kleur kry en soos koekies ruik.
  5. Voeg die warm melk stadig by en klits voortdurend om die sous glad te hou.
  6. Kook tot die sous verdik terwyl jy die hele tyd klits.
  7. Geur mildelik met sout en voeg die mosterdpoeier en neutmuskaat volgens smaak by.
  8. Gooi dit oor in ’n bak in en bedek die oppervlak met plastiek om die vorming van ’n vel te voorkom.
  9. Plaas een kant in die yskas.

Pastei

  1. Voorverhit die oond tot by 200 ˚C. Voer ’n oondbak met bakpapier uit.
  2. Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n groot braaipan.
  3. Soteer die sampioene op hoë hitte tot dit goudbruin is.
  4. Geur liggies en verwyder van die hitte.
  5. Ontdooi die skilferkorsdeeg en sny elke vel in kwarte, sodat jy 8 vierkante het.
  6. Plaas hulle diagonaal sodat hulle in diamante op die bakpapier in die oondbak lê.
  7. Smeer ’n goeie skeppie béchamel op elke vierkant deeg – versprei dit van die onderste hoek na die boonste hoek toe.
  8. Volg met ’n paar stukkies pancetta en twee aspersiestingels.
  9. Pak die gaar sampioene op elke blokkie.
  10. Rond af met ’n bietjie gerasperde Parmesaan.
  11. Vou die twee kanthoekies na mekaar toe en verseël dit met jou vingerpunte en ’n bietjie water.
  12. Verf die oop pasteie met ’n bietjie bestrykeier en bak vir 25 minute tot dit goudbruin en deurgaar is.
  13. Bedien met liggies bedruipte mikroslaaiblare en geniet!

Bron: The South African Mushroom Farmers’ Association (SAMFA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.