Soorte resepte:

Resep: Shakshuka

Shakshuka. (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie Midde-Oosterse tamatie-en-eiergereg is propvol geurige speserye en laat ʼn mens na avonture verlang.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 1 bruinui, gekap
  • Olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 1 groen soetrissie, gekap
  • 1 rooi soetrissie, gekap
  • 1 t komynsaad
  • 1 t fyn koljander
  • ½ t rooipeper
  • 100 g jongtamaties, in helftes gesny
  • 1 blik (400 g) gekapte tamaties
  • ½ t xilitol
  • 2 e Griekse jogurt
  • Sout en peper
  • 6 eiers
  • Pietersielie, grof gekap

Metode

  1. Braai die ui vir 5 minute oor hoë hitte in die olyfolie in ʼn diep braaipan met ʼn deksel. Voeg dan die knoffel, groen en rooi soetrissie, komyn, koljander, rooipeper en vars tamaties by. Braai vir nog 5 minute om al die geure lekker wakker te maak.
  2. Voeg die blik gekapte tamaties en xilitol by en verminder tot ʼn matige hitte om vir 5 minute te laat prut.
  3. Voeg die jogurt by en geur met varsgemaalde sout en peper. Roer deeglik.
  4. Maak ʼn gaatjie in die mengsel met ʼn houtlepel en breek dan ʼn eier daarin. Herhaal hierdie stap tot al ses eiers in die pan gevoeg is. Plaas onmiddellik die deksel op die pan en verminder weereens die hitte tot laag. Laat die eiers vir 5 minute, of tot gaar, in die sous kook.
  5. Verwyder die deksel en strooi die vars pietersielie oor die gereg.

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.