Soorte resepte:

Sampioene help jou om gesond te bly

Rou sampioene (Foto: Verskaf)

Navorsing toon jy kan jou immuunstelsel versterk deur sampioene by jou dieet in te sluit en op dié manier meer beskerming teen siektes kry.

Met die wêreld wat ongekende veranderinge ervaar is dit nou belangriker as ooit om na jou gesondheid om te sien om die siektes te vermy wat die kouer herfs en-wintermaande meebring.

“Sampioene het ʼn unieke voedingswaarde-profiel wat voedingstowwe bied wat nie oor die algemeen in plantprodukte gevind word nie. Dit bied ook voedingstowwe wat meer algemeen in diereprodukte voorkom,” sê die Suid-Afrikaanse sampioenboerevereniging (Samfa) in ʼn verklaring.

“Behalwe vir die feit dat dit ʼn goeie bron van proteïen, vesel, kalsium en vitamiene is, is sampioene ook ʼn fantastiese bron van anti-oksidante.”

Volgens ʼn studie in The Journal of Nutrition op die webwerf van die Amerikaanse nasionale medisynebiblioteek word van die kragtigste elemente vir immuunstelselsteun in sampioene gevind, en kan sampioene help om chroniese siektes soos kanker te bestry.

“Bewyse van hierdie studie dui daarop dat sampioene die risiko van chroniese siektes soos kanker, Alzheimer se siekte en periodontitis kan help teen veg,” lui die studie se gevolgtrekking.

“Die navorsing is egter nog in sy kinderskoene en die vraag bly vir wie sampioene spesifiek van waarde kan wees. Met die openbare skuif na gesonder kos op ʼn manier wat nie die genot van eet minag nie, blyk sampioene ʼn item te wees wat gebruik kan word om gesondheid te bevorder.”

’n Studie deur die Tufts-universiteit in Massachusetts in die VSA het getoon dat die inname van wit knopiesampioene ʼn persoon se aangebore immuniteit kan bevorder, en kan help in die stryd teen virusse en siektes.

Ross Richardson, voorsitter van Samfa, sê al die navorsing dui daarop dat Suid-Afrikaners meer sampioene in ons diëte moet insluit.

“Dit [sampioene] behoort ʼn belangrike komponent in ʼn gesonde en gebalanseerde dieet te wees. Ons is veral verheug oor die navorsing oor die wit knopiesampioene, want hulle is vrylik beskikbaar, én bekostigbaar,” sê Richardson.

Probeer gerus hierdie resep om sampioene in jou eetplan in te sluit:

Marokkaanse styl sampioene en roereier (Foto: Verskaf)

Marokkaanse styl sampioene en roereier

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 15 ml olie
  • 1 rooi ui, gekap
  • 2 ml komynsaad
  • 5 ml gemaalde koljander
  • 250 g wit knopiesampioene, in kwarte gesny
  • 1 brandrissie, fyn gesny
  • 1 tamatie, gekap
  • 30 ml botter
  • 8 eiers, geklits
  • 30 ml vars koljander
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Vir opdiening

  • pitabrood of roosterbrood
  • suurlemoenskyfies

Metode

  1. Verhit die olie in ʼn pan en braai die ui en komynsaad liggies teen ʼn lae hitte vir sowat 4 tot 5 minute.
  2. Verhoog die hitte en voeg die gemaalde koljander en sampioene by. Braai vir 3 tot 4 minute.
  3. Roer die rissie, tamatie en botter in. Sodra die botter gesmelt het, voeg die eiers by. Roer gereeld oor ʼn matige hitte.
  4. Verwyder van die hitte sodra die eiers amper gaar is en voeg die vars koljander by en geur met sout en peper.
  5. Bedien dadelik saam met pitabrood of roosterbrood en suurlemoenskyfies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.