Soorte resepte:

‘Net koffie’ se sjokolade-en-koffieroulade

‘Net koffie’ se sjokolade-en-koffieroulade. (Foto: Verskaf)

Dié sjokolade-en-koffieroulade uit die agtste episode van Net koffie met Henriëtte Marx moet minstens 12 uur voor opdiening gemaak word.

Bestanddele

  • waspapier
  • 200 g donkersjokolade
  • 200 g strooisuiker
  • 7 eiers, geskei

Vulsel

  • 300 ml volroom-room
  • 30 ml espresso
  • 15 ml koffielikeur
  • 60 g versiersuiker
  • ekstra gemaalde sjokolade vir garnering

Wenk

Hierdie ryk donker sjokoladerol moet minstens 12 uur voor opdiening gemaak word sodat dit sag kan word. Verwag dat die roulade ʼn bietjie gaan kraak wanneer jy dit rol.

Aanwysings

  1. Voer ʼn rolkoekpan met waspapier van sowat 33 x 23 cm uit. Voorverhit die oond by 180 °C.
  2. Breek die sjokolade in blokkies en smelt in ʼn bak bo ʼn pan met water. Verwyder en laat die sjokolade vir 5 minute afkoel.
  3. In ʼn groot mengbak, meng die suiker en eiergele saam totdat dit lig en pofferig is. Meng dan die gesmelte sjokolade by.
  4. Klits die eierwitte totdat dit styf, maar nie droog is nie, en vou dan die sjokolademengsel in.
  5. Gooi die sjokolademengsel eweredig en gelyk in die voorbereide rolkoekpan. Bak vir 25 minute, of totdat dit ferm is. Laat die koek in die pan en bedek met die afkoelrak. Maak seker dat dit nie aan die koek raak nie. Bedek die rak met ʼn klam doek, en draai dit dan met kleefplastiek toe. Laat dit oornag of minstens 8 uur, indien moontlik, in ʼn koel plek afkoel.
  6. Strooi versiersuiker op ʼn groot oppervlak, keer die roulade daarop uit en trek die kleefplastiek af.
  7. Vulsel: klits die room, koffielikeur en espresso saam totdat dit styf is en punte vorm. Smeer die room oor die roulade. Begin by een van die kort kante, gebruik bakpapier, en rol die roulade versigtig op tot dit ʼn sjokoladerol vorm.
  8. Plaas die roulade, soomkant na onder, op ʼn opdienbord en strooi dit met ekstra versiersuiker en sjokolade net voor jy dit voorsit.

Hierdie resep is in episode agt van Net koffie met Henriëtte Marx gemaak. Dit is met vergunning van kykNET geplaas. Vir meer inligting oor die program, besoek kykNET se webwerf.

Net koffie met Henriëtte Marx is Sondagmiddae om 17:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.