Soorte resepte:

Resep: Kampioenmelktert

Bettie du Preez en haar kampioenmelktert. (Foto: verskaf)

Om ʼn bobaasmelktert te maak verg liefde vir dié smullekker stukkie Afrikaanse kultuur en ʼn aanvoeling vir die resep.

Dit is die raad van Bettie du Preez, ʼn voormalige Afrikaans-onderwyseres van Hoërskool Waterkloof, wat pas as Solidariteit Helpende Hand se bobaasmelktertkampioen van die Ooste gekroon is.

Helpende Hand se Pretoria-Oos-streek het dié kompetisie vanjaar vir die eerste keer spesiaal vir senior burgers in aftreeoorde aangebied.

“My liefde vir bak kom van my kinderjare af toe ek ure saam met my ma, Tillie Knoetze, in haar plaaskombuis deurgebring het. Ek het maar net hierdie melktert gemaak soos my ma altyd hare gemaak het,” het Du Preez vertel.

“Daar is geen geheime bestanddele nie; jy moet maar net ʼn aanvoeling vir jou resep hê en dit daarvolgens kan aanpas as jy byvoorbeeld sien die vulsel is te loperig. Die aanvoeling kom maar deur ondervinding. Ons hou ook nie van melktert wat te soet is nie, so ek gebruik net die regte hoeveelheid suiker vir ons palette.”

Daar is min dinge so lekker soos ’n tuisgebakte melktert en ’n heerlike beker boeretroos. Wanneer jou hart na ’n eg Suid-Afrikaanse gereg begin hunker, sal dié kampioenmelktert perfek wees.

Hier is Bettie du Preez se kampioenmelktert-resep

Bestanddele

Kors

  • 1 e botter, rondvol
  • 1 e suiker, opgehoop
  • 1 k meel
  • 1 eier
  • 1 t bakpoeier
  • knippie sout

Vulsel

  • 2 k melk
  • 10 ml botter
  • 3 e suiker
  • 1 e meel
  • 1 e Maizena
  • 2 eiers en ʼn knippe sout
  • 1 t vanielje

Metode

Kors

  1. Klop botter en suiker tot room.
  2. Voeg eier by en klits.
  3. Voeg meel en 1 teelepel bakpoeier by.
  4. Rol uit en bak by 180 °C.

Vulsel

  1. Meng suiker, meel, Maizena en sout.
  2. Skei eiers en voeg eiergele en ’n ½ koppie melk by meelmengsel en meng goed.
  3. Kook melk en botter.
  4. Verwyder van hitte en roer meel en eiermengsel stadig by en bring weer tot kookpunt.
  5. Klits eierwitte met ½ teelepel bakpoeier tot amper styf.
  6. Roer geklopte eiers by melkmengsel.
  7. Voeg 1 teelepel vanielje by en meng.
  8. Gooi in kors en strooi kaneel oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.