Soorte resepte:

TV-reeks wil nuwe lewe in eetplekke blaas

Sjef Bertus Basson is die aanbieder van In die sop: Restaurant Evolusie (Foto: kykNET)

Indien jy die eienaar van ’n eetplek – of dit nou ’n koskaravaan, ’n fynproe- of familie-restaurant is – kan jy deelneem aan kykNET se nuutste realiteitsprogram In die sop: Restaurant Evolusie.

Aan die stuur van die program en ook aanbieder, is die bekroonde sjef Bertus Basson. Hy sal bygestaan word deur ’n span deskundiges.

kykNet laat hoor dat dié program gemik is op restaurante wat swaar deur die Covid-19-pandemie getref is en wat oor die algemeen ’n hupstoot nodig het. Basson en sy span sal dan help om die stukke op te tel en die restaurant in ’n topklas-eetplek te omskep.

“Moet die pandemie en die ekonomie al die skuld kry vir eetplekke se probleme? Het dit nie dalk ook te doen met swak diens, verouderde spyskaarte en oninspirerende dekor nie? Eienaars kan dalk reken dat hulle hard werk en alles insit, maar aan die einde van die maand wil die boeke net nie klop nie,” sê kykNet oor dié program.

Basson het self al vele duur lesse in die restaurantbedryf geleer, wat hom die ideale aanbieder vir dié program maak.

Hy het van ’n jong ouderdom reeds sy ma in die kombuis begin help en het op 17 vir hom ’n loopbaan in die kosbedryf begin uitkap.

Op 19 is hy Londen toe waar hy onder meer vir die Michelin-bekroonde Chez Bruce gewerk het. Ná sy terugkeer na Suid-Afrika is hy met verskeie pryse vereer waaronder die Eat Out San Pellegrino & Acqua Panna Sjef van die Jaar in 2019. Bertus is die eienaar en sjef by vyf restaurante in en om Stellenbosch.

“Ek het al groot sukses gesmaak, maar oor die jare het ek ook baie foute gemaak en duur lesse geleer,” sê hy. “Nou wil ek graag daardie insigte met ander restaurant-eienaars deel.”

Inskrywings om jou restaurant in te skryf vir dié program is nou oop. Om in te skryf, stuur ’n e-pos na [email protected] met jou kontakbesonderhede, adres en ’n kort paragraaf oor jou situasie en hoekom jy dink jy een van die plekke moet wees wat gekies word. Stuur ook foto’s van jou en jou restaurant. Inskrywings sluit 14 Maart 2021.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.