Soorte resepte:

Resep: Skelvis met pruimedante en kaassous

Skelvis met pruimedante en kaassous. (Foto: Lapa Uitgewers)

Wonder jy nog wat jy dié naweek aanmekaar gaan slaan? Gebruik hierdie unieke resep vir ʼn smullekker ete.

Lewer 6 porsies.

Bestanddele

  • 500 g skelvismootjies of -filette
  • 3 groot eiers, hardgekook, afgedop en in skyfies gesny
  • 125 g ontpitte pruimedante, ʼn uur in water geweek, gedreineer en gehalveer
  • 25 ml soja- of kekerertjiemeel
  • 25 ml mielieblom, of aartappel- of tapiokameel
  • 400 ml laevetmelk (of laevet­sojamelk indien laktose-onverdraagsaam)
  • 10 ml sagte margarien
  • 1,25 ml sout
  • knippie rooipeper of paprika
  • 125 ml gerasperde cheddarkaas (50 g) – hou ʼn bietjie vir bo-oor strooi
  • paprika
  • vars vinkelblare of gekapte vars pietersielie vir garnering

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Posjeer die skelvis in ʼn bietjie water vir 6 tot 9 minute, of totdat dit maklik vlok. Dreineer en vlok die vis en verwyder enige grate. Skep die vis in ʼn oondbak. Rangskik die eierskyfies op die vis en versprei die pruimedanthelftes bo-op.

Kaassous

  1. Meng die soja- of kekerertjiemeel en mielieblom met ʼn bietjie van die melk tot ʼn gladde pasta. Verhit die res van die melk en margarien tot kookpunt. Roer die mielieblompasta in ʼn dun straaltjie by. Roer en kook vir 2 tot 3 minute totdat die sous dik en gaar is. Geur dit met sout en rooipeper of paprika en roer van die kaas by. Skep die sous oor die gereg en strooi die oorblywende kaas en paprika oor.
  2. Bak dit vir 20 tot 25 minute tot borrelend. Garneer met vinkel of pietersielie en bedien dit met ʼn groenslaai en jongaartappels in die skil gekook.

Bron: Skelvis met pruimedante en kaassous
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Met skelvis wat meer as R200.00 per kg kos, eet ek eerder skaapvleis @ R105.00 per kg dankie. Selfs eenvoudige stokvis kos al R140.00 per kg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.