Soorte resepte:

Resep: Tuna- of salmkoekies met tzatziki

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Sharonang/Pixabay)

Hierdie gesonde viskoekies is ʼn wonderlike toebroodjie-alternatief vir jou kosblik.

Lewer 4 porsies.

Bestanddele

  • 1 groot aartappel, geskil en in kwarte gesny
  • 170 g-blik soliedverpakte tuna, gevlok (150 g gedreineer), of 217 g-blik salm
  • 5 ml gerasperde ui
  • 25 ml gekapte vars vinkel of pietersielie
  • varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 groot eier, geskei
  • 5 ml koue water
  • 4 Pro-Vita-beskuitjies, fyngerol
  • knippie paprika
  • knippie borrie
  • kanola- of olyfolie in spuitbotteltjie

Metode

  1. Kook die aartappel vir 10 tot 12 minute in ʼn bietjie water tot sag en gaar. Dreineer, druk dit fyn en laat afkoel.
  2. Meng die tuna, ui, vinkel of pietersielie, peper en eiergeel by die aartappel. Vorm vier viskoekies. Plaas dit op ʼn plat bord en verkoel vir 30 minute.
  3. Voorverhit die oond tot 180 °C. Bespuit ʼn bakplaat liggies met olie.
  4. Klits die eierwit en water totdat dit groot lugborrels vorm. Meng die Pro-Vita-krummels, paprika en borrie. Doop die viskoekies in die eierwit en dan in die krummelmengsel. Plaas dit op die bakplaat en spuit ʼn bietjie olie oor.
  5. Bak dit 20 tot 25 minute tot goudkleurig en gaar. Indien nodig, kan die viskoekies aan die einde van die baktyd onder die verhitte roosterelement van die oond verbruin word. Bedien dit met tzatziki of suurlemoenwiggies.

Tzatziki

Rasper 50 g Engelse komkommer en dreineer dit in ʼn sif. Voeg 150 ml ongegeurde vetvrye jogurt, ½ gekapte knoffelhuisie, 2,5 ml gekapte vars pietersielie of vinkel, sout en varsgemaalde swartpeper by die komkommer. Meng en verkoel dit voor bediening.

Bron: Diabetes
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.