Soorte resepte:

Resep: Vinnige vetkoek-visburgers

Vinnige vetkoek-visburgers (Foto: Suidooster-kombuis)

Die gewilde kykNET-sepie Suidooster is nou nie slegs meer op jou televisiestel beskikbaar nie, maar ook op jou kombuistafel! Hier is ʼn lekker resep deur Mrs J, wat deur Theresa Sedras vertolk word, uit hul resepteboek Suidooster-kombuis.

Maandagaand is viskoekie-aand in Mrs J se huis. Toe Bridgette en Lee-Ann nog op skool was, het hulle Dinsdae die orige vispatties met blatjang op brood in die kosblik gekry. Sny ’n keep in die vetkoekie, stop dit met ’n skeppie tamatie-en-rooiuieslaai.

Lewer 6 porsies

Bestanddele

Viskoekies

  • 2 x 425 g-blikke ingelegde vis (middle cut), goed gedreineer
  • 1 klein ui, fyngekap
  • hand vol pietersielie, fyngekap
  • 250 ml bruismeel
  • sout en peper na smaak
  • asyn na smaak
  • 2 eiers
  • mieliemeel vir oorstrooi
  • olie en klontjie botter vir panbraai

Vinnige lepelvetkoekies

  • 250 ml koekmeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 1 eier, geklits
  • 125 ml melk
  • olie om in te braai

Metode

Viskoekies

  1. Druk die vis fyn met ’n vurk.
  2. Gooi die uie, pietersielie, bruismeel, sout, peper en ’n bietjie asyn by.
  3. Breek die eiers in en meng goed deur.
  4. Vorm viskoekies en druk dit plat. Strooi alkant met mieliemeel.
  5. Braai die viskoekies in ’n pan met vlak olie en ’n klontjie botter tot gaar en bruin aan albei kante. Hou warm.

Vinnige lepelvetkoekies

  1. Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak.
  2. Meng die geklitste eier en die helfte van die melk saam met die droë bestanddele tot glad.
  3. Voeg die res van die melk by om ’n slap deeg te vorm. As die beslag te dik is, verdun dit met ’n bietjie water.
  4. Gooi net genoeg olie in die pan om die boom te bedek en maak dit warm oor matige hitte.
  5. Skep lepels vol van die beslag in die warm olie en braai aan albei kante tot gaar en goudbruin. Hou jou hitte mooi dop, want as die olie te warm raak is dit te gou bruin terwyl dit nog rou binne is. Dreineer dit op kombuispapier.

Mrs J se viskoekietrieks:

  • Maak jou hande klam, dan sit die vis nie vas as jy die viskoekies rol nie.
  • Sprinkel die gevormde viskoekies eers met meel of mieliemeel voor jy dit bak. Dit keer dat die koekies uitmekaar val.
  • As jy nie ’n kleefvrye pan het nie, spuit eers die pan met kooksproei voor jy die olie ingooi.
  • Jou pan moenie te warm wees nie. Bak dit op lae hitte.

Bron: Suidooster-kombuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Klink heerlik, wat van Mrs J se beroemde “Tamatie kos” resep sal dit wil maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.