Bek-en-klouseer: Voerkraal loop deur

Foto ter illustrasie, (Foto: Maroela Media)

Die Vrystaat se departement van landbou en landelike ontwikkeling het bevestig dat daar drie verdere gevalle in dié provinsie uitgebreek het.

Thembeni Nxangisa, die LUR, sê daar is een geval in Marquard en twee in Viljoenskroon aangemeld.

Die drie plase is onder kwarantyn geplaas nadat die staatsveearts in kennis gestel is van moontlike tekens van bek-en-klouseer. Monsters is ingesamel van diere wat tipiese tekens getoon het om die diagnose te bevestig.

Die uitbraak in Marquard was in ʼn groot voerkraal en Nico Buys, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in die Vrystaat, het aan Maroela Media gesê dat hy op dié plaas was en bevestig dat die staat tans ter plaatse besig is om die saak te hanteer.

In Viljoenskroon is die twee plase vroeër ondersoek, waarna bevestiging op een plaas ontvang is. Op dié plaas duur die ondersoek steeds voort om die bron van die uitbreking te bepaal.

Nxangisa sê vir die tweede plaas in Viljoenskroon is die uitslag nog hangende. Die eienaar het na bewering diere van die plaas wat hy in die Noordwes besit, verskuif. Veeartsenykundige personeel is ook op ter plaatse besig om verdere verspreiding te verhoed.

Hy sê al hierdie uitbrekings is ’n voortsetting van ’n uitbreking wat die eerste keer in Maart vanjaar in Noordwes bevestig is.

“Ek wil boere en die boerderygemeenskap in die breë versoek om nie diere te verskuif, of op veilings te koop nie. Boere moet ook waaksaam wees en enige tekens en simptome wat verdag kan wees by die staatsveearts aanmeld.”

Bek-en-klouseer is ’n staatsbeheerde virussiekte wat onder beeste, skape, bokke en varke voorkom. Besmette diere word gekenmerk deur vloeistofgevulde blasies en sere op die bek en pote.

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO, sê belangegroepe in die private sektor hou vandag ʼn vergadering in Pretoria om ʼn strategie te bespreek om bek‑en‑klouseer te bekamp en dit dan aan die staat voor te lê.

Buys sê daar is egter nie ʼn maklike oplossing nie. “Baie mense sê ons moet die diere voor die voet inent, maar dan is die vleis nie geskik vir uitvoer na sekere lande nie. Hoewel daar niks fout met die vleis is nie, is die potensiaal daar dat ons 4% van ons mark kan verloor.

“Ons sal net eenvoudig ʼn beter manier moet kry om die beweging van diere te polisieer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.